SA’ner dalk doodstraf opgelê vir ‘sameswering’

endley-en-machar

William, ʼn afgetrede Suid-Afrikaanse weermagkolonel, was ʼn veiligheidsraadgewer vir Riek Machar, die rebelleleier van die opposisie in Suid-Soedan. Foto: LinkedIn

ʼn Suid-Afrikaner wat in Suid-Soedan tereg staan op aanklagte van onder meer sameswering om die regering omver te werp, kan die doodstraf opgelê word.

Dit kom nadat James Gatdet Dak, ʼn voormalige woordvoerder van dr. Riek Machar, Maandag die doodstraf opgelê is nadat hy aan sameswering en opsweping teen die Suid-Soedanese regering skuldig bevind is. Dak is ook 21 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van sameswering en opsweping teen pres. Salva Kiir se regering.

William John Endley, ʼn afgetrede Suid-Afrikaanse weermagkolonel, was ʼn veiligheidsraadgewer vir Machar, die rebelleleier van die opposisie in Suid-Soedan. Endley het Dinsdag in die hof verskyn en die saak is tot later die week uitgestel.

Die saak is glo Dinsdag uitgestel nadat twee getuies vir die verdediging nie opgedaag het nie. Dié getuies is glo Taban Deng Gai, die eerste adjunkpresident, en Ezekiel Lol Gatkuoth, die minister van petroleum. Dié getuies is glo nog in die buiteland en moeilik bereikbaar. ʼn Uitspraak word voor die einde van die maand verwag.

Endley is in Augustus 2016 in hegtenis geneem. Gwyneth, William se dogter, het verlede jaar aan Maroela Media gesê haar pa se visum het verval en dat hy om dié rede nie die land kon verlaat nie. “Terwyl hy vir sy nuwe dokumentasie gewag het, het die sekuriteitswagte hom in sy hotelkamer in die hoofstad, Juba, in hegtenis geneem.”

Machar het in 2016 na die Demokratiese Republiek van die Kongo gevlug ná onenigheid tussen die regeringsmagte van die Sudan People’s Liberation Army (SPLA) en sy eie gewapende volgelinge uitgebreek het.

Machar het kort voor hy gevlug het teruggekeer na Juba nadat hy gedurende die 2015 vredesooreenkoms in ballingskap was. Die ooreenkoms het gevolglik verval.

Suid-Soedan, wat in 2011 onafhanklikheid verkry het van Soedan, het in 2013 in burgeroorlog verval ná Kiir vir Machar, sy adjunk, afgedank het.

Tienduisende mense is vermoor en ʼn groot hoeveelheid mense het gevlug.

Ten spyte van die nuwe skietstilstand wat in Desember geteken is in ʼn poging om die vredesooreenkoms van 2015 weer te bekragtig het gevegte steeds uitgebreek, wat die VSA genoop het om sanksies in te stel.

Die regering het rebelle Maandag daarvan beskuldig dat hulle aanvalle in die noord-oostelike dorp Nassir van stapel gestuur het. ʼn Internasionale skietstilstand-moniteringspan sal glo die geweld binne die volgende 24 uur gaan monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

Dit bly maar ń groot risiko om enige soort werk in sommige Afrika land te doen. Hulle heersers maak sommer hulle eie wette en geen mens se lewe is iets werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.