SA’ner in Duitse tronk: Nog geen uitspraak oor borgtog

Zunaid Moti. Foto: ANA.

Zunaid Moti, die omstrede Suid-Afrikaanse sakeman wat tans in ʼn tronk in Duitsland aangehou word, se pa het Maandag berigte ontken dat sy seun se tweede aansoek om borgtog misluk het.

Aanlyn nuusberigte, sommige van Zimbabwe, het gesê Moti se aansoek om borgtog is afgekeur en dat hy nou moontlik aan Rusland uitgelewer sal word.

Moti is op 19 Augustus by die lughawe in München aangekeer ná Russiese owerhede ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het. Hy was in daardie stadium op ʼn sakereis, aldus sy familie.

Dr. Abbas Moti het Maandagoggend in ʼn onderhoud met African News Agency gesê dit is slegs “gerugte” dat sy seun se aansoek om borgtog afgekeur is. Volgens hom sal hy “teen die einde van die week” verder kommentaar kan lewer.

Alibek Issaev, Russiese sakeman en Moti se voormalige sakevennoot, was in 2017 daarvoor verantwoordelik dat Interpol ʼn “rooi kennisgewing” uitgereik het waarin Issaev aangevoer het Moti en vennote Ashruf Kaka en Salim Bobat het hom in 2013 van miljoene beroof tydens ʼn mynooreenkoms-slenter in Libanon.

Die mans het aangevoer die lasbriewe vir hul inhegtenisneming is gebaseer op vals inligting. ʼn Naweekkoerant het berig Moti het ontken dat hy ooit in Libanon was en voer aan Issaev het ʼn pienk diamant van R500 miljoen en intellektuele eiendom by hom gesteel.

Moti se prokureur, Ulrich Roux, het nie Maandag reageer op boodskappe van ANA nie. Hy het egter in Augustus ná sy kliënt se inhegtenisneming in ʼn verklaring gesê Moti is “onderwerp aan bedrieglike bewerings deur ʼn lid van die Russiese mafia, wat nou in Doebai woon”. Moti se regsverteenwoordigers in Duitsland, Rusland en Suid-Afrika bevraagteken die kennisgewing wat Interpol uitgereik het.

Moti het belange in mynbou, finansies en logistiek in Suid-Afrika en Zimbabwe en ag Zimbabwiese president Emmerson Mnangagwa en die Britse politikus Lord Peter Hain as sy vriende.

Lees alle vorige berigte oor Zunaid Moti op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.