SA’ner in Thaise tronk hoor gou oor appèl

Ashley Oosthuizen (Foto: Facebook)

Ashley Oosthuizen (23), die Suid-Afrikaner wat tans lewenslange tronkstraf in ʼn Thaise tronk uitdien, se appèlsaak sal na verwagting Woensdag voor ʼn paneel onafhanklike regters in ʼn hof in Koh Samui aangehoor word.

Die hofverrigtinge vind by dieselfde hof plaas as waar Oosthuizen vroeër aan internasionale dwelmhandel skuldig bevind en gevonnis is. ʼn Aansoek om appèl is lank reeds ingedien en die staat het dit nie teengestaan nie.

Haar geliefdes, wat steeds onwrikbaar in haar onskuld glo, hoop dat sy Woensdag vrygespreek sal word sodat sy na Suid-Afrika kan terugkeer. Vriende van Oosthuizen plaas dikwels ook boodskappe van hoop en getuienis van haar goeie karakter op die Facebook-blad A voice for Ashley Oosthuizen.

Maroela Media het vroeër berig dat Oosthuizen op 8 Oktober 2020 op dwelmverwante aanklagte in hegtenis geneem is nadat sy vir die ontvangs van ’n pakkie wat by haar werksplek afgelewer is, geteken het. Die pakkie was nie aan Oosthuizen geadresseer nie, maar aan die voormalige eienaar van die Hot in the Biscuit-restaurant in Koh Samui waar sy ʼn bestuurder was.

Haar pa, André, het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede baie goed met sy dogter en dat sy goeie behandeling in die Nakhon Si Thammarat Sentraal-gevangenis in die suide van Thailand ontvang. Sy was aanvanklik in die Koh Samui-gevangenis aangehou, maar is in Desember verlede jaar oorgeplaas.

“Sy bied cha‑cha-klasse aan en kan ook vlot Thai praat, lees en skyf. Sy werk in die biblioteek en het ook onlangs die hoofrol in ʼn opvoering vertolk.

“Die mense behandel haar goed.”

André het sowat twee weke gelede met sy dogter gepraat. ʼn Nuwe toepassing wat die tronk beskikbaar gestel het, maak dit ook moontlik om meer gereeld briewe en foto’s oor en weer te stuur.

“Ons kan die app gebruik om briewe en foto’s te stuur wat haar binne sowat twee dae sal bereik. Sy kan dan ook dieselfde app gebruik kom briewe en foto’s vir ons te stuur.”

André sê die familie bid vir die beste uitkoms en laat dit in die Here se hande.

Hul regsverteenwoordigers in Thailand sal die hofuitspraak met die familie deel sodra ʼn beslissing gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Staal ·

Ek hoop werklik dat daar darem so bietjie lig aan die einde van die tonnel vir haar is. Om te val vir die “bad boy” is nie altyd so romanties en exiting soos wat jy dink nie.

Maritza ·

Bid dat dit ‘n goeie beslising sal wees. Laat sy huis toe kom

Perdeby ·

Ek hoop van harte dat hierdie ‘n goeie uitslag sal wees!

Irene ·

God se Genade is groot…..ek glo sy gaan huis toe kom. Dankie Jesus.

Tanya ·

Ek hoop van harte dat die meisie vrygestel word en weer kan terug keer huis toe na haar harts mense toe…. dis bitter hartseer hoe sy gestraf word vir ander se dade.

George ·

Klink my jy ken die volle storie, soos hul se, almal agter tralies is onskuldig.

Shakespeare ·

Arme kind !!! Ou Hoed, wanneer gaan jy die Nigeriër dwelm smokkelaars lewenslank tronk toe stuur. Hulle het vrye teuels in ons gekrokte land. SKANDE !!!!

pompies ·

Ou hoed vang net die mense dit is die howe wat hulle tronk toe moet stuur. Die howe is die lot wat ons in die steek laat in ander lande is lewenslank, lewenslank tot jy dood is maar hier is lewenslank net 25 jaar dan kan hulle weer aangaan.

George ·

Arme kind wat die wet in n ander land oortree het volgens hul howe. Soos jy nou se die Nigeriers, kan die Thaise mense dan se die Suid Afrikaners? Want sys n uitlander wat dwelmgehandel het, en gevang is? So jy wil he, hul moet haar laat gaan op dieselfde redenasie dat nigeriers gevang moet word…

Jabez ·

Miskien het sy iets geweet… Wat ek wel weet as daar pakkies by my kantoor afgelewer word, teken ontvangs baie keer daarvoor. Die pakkies is nie aan die ontvangsdame geadresseer nie en sy weet nie wat daarin is nie. Is die ontvangsdame dan skuldig as iemand ietsie onwettig aan my stuur?

George ·

As jy teken vir iets wat nie joune is nie, ja, dan moet jy verantwoordelikheid neem vir wat jy teken, moenie teken vir iets wat nie vir jou is nie. Dis soos om iemand anders jou tas te laat pak as jy vlieg, as jy gevang word, al het jy nie gepak nie. Ek sukkel net baie om glo dat sy niks geweet het nie, daars te veel sulke stories sodra hul gevang word.

Swerwer ·

Ai dit klink goed/positief. Dit is nie maklik om pa te staan vir ‘n ander se dade nie.

George ·

Veral nie as jy die enigste een is wat gevang word met hul dade nie.

007 ·

Thailand se regstelsel is beter as ons s’n. As sy onskuldig is en hulle kan dit bewys sal sy huistoe kom. Hier loop baie kaders rond wat baie erger dinge gedoen het en is nog vry.

Miena ·

Feite. wonder of daar dalk n uitruil ooreenkoms aangegaan kan word?

Jaco ·

Kom terug huis toe meisiekind en druk die delete en restart knoppie…

George ·

Het al te veel Banged Up Abroad gesien om te glo dat absoluut niks geweet het nie, maar stekte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.