SA’ner keer terug uit Wuhan, laat verloofde eers agter

Luri Prinich en Roxanne Rawlins (Foto: Facebook)

’n Suid-Afrikaner van Pinetown, KwaZulu-Natal, het besluit om sonder haar verloofde uit Wuhan in China na Suid-Afrika terug te keer.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse regering aangekondig het hy sal Suid-Afrikaners in Wuhan terug bring huis toe te midde van die gevreesde koronavirus, oftewel Covid-19, wat reeds die lewe van meer as 3 000 geëis het.

Roxanne Rawlins is een van die 151 Suid-Afrikaners wat binne die volgende sewe tot tien dae na Suid-Afrika sal terugkeer. Dit is egter nie vir Rawlins ’n maklike besluit om huiswaarts te keer nie aangesien dit beteken dat sy en haar Oekraïnse verloofde, Luri Prinich, mekaar ’n tyd lank nie sal sien nie.

Die paartjie moet nou elkeen na sy en haar eie land terugkeer waar hulle ’n tyd lank in kwarantyn sal moet bly, verduidelik hulle in ’n video op sosiale media. Sou alles volgens plan verloop, sal Prinich ná sy kwarantyntydperk Rawlins in Suid-Afrika besoek.

Die twee sal mekaar waarskynlik eers in Mei weer kan sien aangesien dit nie in dié stadium duidelik is wanneer Prinich van Wuhan na Oekraïne sal kan terugkeer nie.

Luri Prinich en Roxanne Rawlins (Foto: Facebook)

Rawlins verduidelik in die video dat hulle aanvanklik besluit het om in Wuhan aan te bly al sou die moontlikheid bestaan om huiswaarts te keer.

“Die situasie hier [in Wuhan] het intussen verander. Ons het geen idee wanneer die lockdown tot ’n einde gaan kom nie. Dit is al ’n maand en daar is geen antwoorde oor wanneer dit moontlik verby sal wees nie. Die beperkinge word ook al meer en dit word al moeiliker om voorraad te kry.”

Rawlins sal ná haar terugkeer minstens 21 dae lank in kwarantyn moet bly terwyl Prinich 14 dae lank in kwarantyn in Oekraïne sal moet bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

Roxanne
Suid Afrika is die gevaarlikste plek op die planeet! Bly liewer weg!

Die Corona virus gaan verwoesting saai in 3de wêreld lande … wat geen reserwes het om die bevolking mee te beskerm nie.

Hopelik vind (en subsidieer) die VSA SPOEDIG ‘n entstof teen die Corona virus.

Bella ·

AJ ek verwerp letterlik elke liewe woord wat jy nou teen hierdie land uitspreek. Maak nie saak wat jy of enige ander persoon sê nie, Vader is in beheer van wat met hierdie land gebeur. dit is regtig tyd vir mense om lewe te begin spreek oor ons land en ons situasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.