SA’ner moontlik in Paraguay ontvoer

Daan Coetzee word tans vermis nadat hy vermoedelik in Paraguay ontvoer is. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaner Daan (of Daniel) Coetzee (75) is vermoedelik ontvoer toe hy laat Sondag oudergewoonte op sy plaas van 40 ha naby die dorp Colonia Independencia in Paraguay gaan stap het.

Min besonderhede is egter in dié stadium oor die voorval en die vermeende ontvoerders beskikbaar. Coetzee, ʼn voormalige skaapboer van die Vrystaat, en sy gesin woon al 30 jaar in Paraguay waar sy dogter, Dané, tans ʼn varkboerdery bedryf.

Coetzee se jonger broer Mauritz (67) van Moreletapark in Pretoria het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy broer en dié se vrou, Martie, het altyd saam gaan stap, maar dat sy ʼn korter roete as haar man volg. Sy stap gewoonlik op die groot pad en Coetzee deur die mielielande.

“ʼn Ruk nadat hulle paadjies geskei het [19:41 internasionale tyd] het Martie ʼn oproep van Daan se selfoon ontvang. Daan het vir haar gesê ‘ek staan by twee mense wat ʼn rewolwer teen my kop hou’ en verduidelik dat hulle in militêre of polisieuniform geklee was. Hy het dit polisiedrag genoem, so ek is nie presies seker watse drag dit was nie,” sê Mauritz.

Hy sê die mans wou aanvanklik met Martie praat, maar Daan het vir hulle gesê sy verstaan nie Spaans nie. Die mans het toe glo vir Daan gesê die losprys vir sy vrylating is $300 000 (R5,3 miljoen). Martie het nie daarna weer met Daan gepraat nie.

Mauritz sê die familie weet in dié stadium glad nie wat om te verwag nie. “Die polisie ondersoek die saak beslis as ʼn ontvoering en het reeds ʼn helikopter ontplooi om die gebied vanuit die lug te fynkam. Die helikopterspan kon egter niks of niemand opspoor nie.”

Ondersoekspanne kon glo ook nie veel spore op die terrein vind nie. Die familie het sedertdien nog nie enige nuwe inligting van die polisie ontvang nie.

“Dis nou maar ʼn kwessie van wag en sien.”

Mauritz het Sondag nog met sy broer gesels en sê dat hy in ʼn baie goeie luim was. Kort daarna het hy gaan stap en verdwyn.

Mauritz kan egter nie verstaan waarom sy broer die teiken van ʼn ontvoering sou wees nie.

“My broer is nie iemand wat ʼn luukse leefstyl leef nie. Hy is afgetree. Hy woon in ʼn doodgewone huis en ry ʼn doodgewone kar. Ons het geen idee wat die motief kan wees nie.”

Mauritz sê die gesin is al diep geanker in die gemeenskap en dat hulle ʼn goeie ondersteuningsnetwerk het – insluitend ander Suid-Afrikaners en Duitse burgers wat daar woon.

Coetzee kan Afrikaans, Engels, Spaans en Duits praat.

Maroela Media het ʼn navraag na die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonny ·

Ander lande ook maar net so rof soos SA.
Sommige erger!

Sterkte aan die familie.
Hoop dit eindig positief

Una ·

Ek loop kliphard en bid vir julle, Danie, Martie en gesin! Mag hy veilig gevind word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.