SA’ner se lyk in Mosambiek gevind

Argieffoto: Pixabay.com

Een van die vier jong Suid-Afrikaners wat in Mosambiek as vermis aangemeld is, se liggaam is gevind.

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, sê die man se liggaam is Donderdag naby die Portugese Eilande gevind. “Sy naasbestaandes is in kennis gestel,” het hy aan Maroela Media bevestig, maar wou nie die man se naam bekendmaak nie. “Sy familie moet dit doen.”

Ons sal aanhou soek.

Die ander drie jong mense is nog nie opgespoor nie. “Ons sal aanhou soek en die reddingspanne sal op die eiland bly tot ons hulle opspoor,” het Mabaya gesê.

Die vier was deel van ʼn groep vriende wat op 12 Januarie na Mosambiek gereis het om een van die vriende se verjaardag daar te vier. Die tragedie het op 14 Januarie afgespeel.

Hulle het vermoedelik ʼn boot van Maputo, die hoofstad, na die Portugese Eilande gehaal en daar in die see geswem, toe vier van hulle deur ʼn groot golf getref is en onder die water verdwyn het.

Intussen is luidens ʼn onbevestigde berig op die Facebook-groep DriveMoz se blad die tyding vroeg Vrydagoggend ontvang dat een van die vroue se liggaam uitgespoel het by Macaneta op die vasteland, sowat 35 km noordwes van die Portugese Eiland.

Die kantoor van die premier van Limpopo het die vermistes as Tjolo David Kaise, Mahlogonolo Mmatholo, Lesego Matsepe en Gregory Mfune geïdentifiseer. Mmatholo en Matsepe is van Groblersdal in Limpopo afkomstig, terwyl Kaise en Mfune onderskeidelik van Secunda en Bloemfontein kom.

Vincent Rammupudu, Lesedi Mmotong, Basetsana Mogafe en Lefentse Mampuru wat saam met die vermistes in die see geswem het, is uit die water gered.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elvira ·

Innige simpatie aan al die families. Nou kan die ministers ens. terugkom SA toe en weer begin werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.