SA’ner stel nuwe wêreldrekord op

Chris Bertish

Chris Bertish

Die Suid-Afrikaner Chris Bertish, internasionaal bekende spreker en branderplankryer, het Donderdag ʼn nuwe wêreldrekord opgestel nadat hy alleen en sonder ondersteuning, staande in ʼn roeiboot reeds 482 km van die Atlantiese Oseaan oorgesteek het.

Die doel van Bertish se SUP (“stand up paddle boarding”) Trans-Atlantic Crossing, ‘n roete van meer as 7 500 km binne 120 dae, is spesifiek om fondse in te samel vir drie liefdadigheidsorganisasies: Operation Smile (operasies vir kinders wat met ʼn haaslippie of gesplete verhemelte gebore is); The Lunchbox Fund (om maandeliks duisende kinders te voed) en Signature of Hope Trust (om minstens vyf skole in van die armste dele in Suid-Afrika te bou).

Bertish het in Marokko weggespring oor die Atlantiese Oseaan op pad na die Kanariese Eilande voordat hy uiteindelik by sy bestemming in Florida sal aankom. Dit kan vergelyk word om vir 120 dae lank elke dag meer as ʼn marathon af te lê.

Dit is dieselfde roete wat die Suid-Afrikaners Riaan Manser en sy vrou Vasti afgelê het toe hulle in Desember 2013 binne 172 dae die reis van Agadir in Marokko, oor die Atlantiese Oseaan, tot in New York afgelê het (10 765 km). Hulle was die eerste persone wat van vasteland Afrika na vasteland Noord-Amerika in ʼn roeiboot geroei het.

Volgens Chris het hulle reeds genoeg geld ingesamel om minstens een skool te bou en om te weet hulle kan ʼn eksponensiële verskil in talle kinders se lewens maak, is die grootste Kersgeskenk wat hy kon ontvang.

Hy het op 6 Desember 2016 uit Agadir in Marokko vertrek.

Nicolas Jarossay van Frankryk het in April vanjaar ook die transatlantiese roete op ʼn SUP aangepak, maar hy was nie suksesvol nie. Hy het erge skade opgedoen aan sy 6,4 meter lange roeiplank.

Volg Bertish se avontuur op The SUP Crossing, sy webwerf en Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

2016 Wiskunde ·

“Hy vertrek 6 Des. 2016 . . . en verlede Donderdag na 120 dae . . . ” Iets is nie reg in die berig of is ek ‘n aap ? Moet iemand net nie nou skree dat ek rassisties is teenoor myself want dan gaan ek WIT word van woede . . .

Sune van Heerden ·

Dagsê 2016 Wiskunde,

Ons vra om verskoning vir die verwarring. Ons het die berig gewysig en vertrou dat dit nou duideliker is. Volg gerus sy avontuur hier: http://www.thesupcrossing.com/live/

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

2016 Wiskunde ·

Dankie Suné, nou maak dit sin dat hy nog op pad is. Was Vasti nie op daardie stadium die vriendin van Manser? Ook lyk dit (volgens die berig) asof Manser-hulle reguit na New York gevaar het maar inderwaarheid ook eers na Miami, Florida en daarvandaan na NY. Dalk moet die sin lees: ” . . . oor die Atlantiese Oseaan na Miami, Florida en van daar na NY . . . “?
Dalk moet ek eerder my wiskunde weer gaan doen in 2016/17? My 1959-wiskunde werk seker nie meer want toe was hierdie soort roeibote ook net soos Jules Verne se stories blote wensdenkery. Daardie 1950’s jare was dit lekker om hierdie fiksie te lees en te ervaar hoe dit stukkie vir stukkie die waarheid geword het deur die jare daarna. Selfs meer as wat Verne kon gedink het in sy wildste drome !! Tog laat dit my in onsekerheid oor watter tydperk/tydvak sou die beste gewees het om in te kon leef sê met ‘n ouderdom van 70 jaar waarvan ongeveer 60 jaar onthou kan word ?

Jan ·

Mooi man. Hoe slaap jy op so kontrepsie in die middel van die oseaan?

Potcher ·

Die artikel is bietjie deurmekaar!
Hoe kon hy 120 dae geroei het as hy eers die 6de desember 2016 vertrek het? En die afstande klop ook nie!

jaco ·

Honger kinders kan deur hulle ouers gevoed word en die bou van skole is die Staat se verantwoordelikheid. Ons regering moet net ons ekonomie regruk, dan sal daar genoeg werk wees vir ouers wat hulle kinders moet voed en met n sterker ekonomie sal daar genoeg belastinggeld wees om mee skole te bou. Geld uitgegee op goed soos Nkandla, R13 miljoen om castro se begrafenis by te woon en biljoene uitgegee op 7 onbenutte sokkerstadions sou alles saam n reuse verskil kon maak as dit eerder gebruik is vir skole, onderwys, behuising ens. ens.

Justice ·

Teen die tempo waarteen skole in die armste gebiede afgebrand word admireer ek Chris se optimisme en deursettingsvermoee onder haglike omstandighede om fondse vir daardie die doel in te samel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.