SA’ner sterf in ‘terreuraanval’ in Uganda

Die wildbesigtigingsvoertuig wat tydens die aanval aan die brand gesteek is. (Foto: Facebook)

Drie mense, onder wie ’n Suid-Afrikaanse toeris, is dood tydens ʼn “lafhartige terreuraanval” in ʼn nasionale park in Uganda.

Die Suid-Afrikaner, ʼn Britse toeris en ʼn Ugandese gids is Dinsdagaand in die Koningin Elizabeth Nasionale Park in die suidweste van Uganda om die lewe gebring.

Die wildbesigtigingsvoertuig waarin hulle gereis het, is tydens die aanval aan die brand gesteek.

Daar word beweer dat vermeende rebelle van die Allied Democratic Forces (ADF)-rebellegroep verantwoordelik is vir die drie se moord.

Die polisie in Uganda sê sy gesamentlike magte het onmiddellik gereageer op die voorval en is tans “aggressief besig” om na die rebelle te soek.

Besoekers aan die Koningin Elizabeth Nasionale Park is Dinsdagaand aangeraai om nie inderhaas die park te verlaat nie en liefs oornag aan te bly.

Die Uganda Wildlife Authority het intussen gesê alle parke in Uganda bly ten spyte van die aanval oop. Die owerheid het wel ’n beroep op buitelanders gedoen om waaksaam te wees en die plaaslike polisie óf hul toergidse se raad te volg.

BBC berig die ADF is ʼn Islamitiese groep met bande met die Islamitiese Staat (IS). Die groep is van Uganda, maar is hoofsaaklik in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) bedrywig.

Die owerhede in Uganda en die DRK het die afgelope paar maande hul pogings verskerp om die rebellegroep vas te trek.

Yoweri Museveni, die Ugandese president, het juis Maandag gesê die polisie kon ʼn komplot van die ADF fnuik om kerke in die sentrale Butambala-distrik te bombardeer.

Die aanvallers is egter nog op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

hpven ·

Nog ‘n lafhartige terreuraanval, nog een van vele daagliks oor die wêreld heen! En ons regering steun hulle?! Die tyd het aangebreek dat ons saamstaan met Israel en ander en wis alle terroriste uit! Ongelukkig sal baie burgerlikes ook omkom omdat terroriste soos in hul lafhartigheid altyd agter vroue en kinders skuil.

andre ·

Die ekstremiste onder Islam pleeg hierdie dade .Jy kan nie almal onder dieselde kam skeer nie

57 Chevy ·

Jip …dit laat my nogal wonder wat aan gaan in die donker gange van S.A . Buiten die geweld op eie bodem wie sluip hier rond in die agter grond onbewustelik ? Sal ons so iet kan oor leef of af weer ? Nee wat ek twyfel …..van die lande met die mees moderene intiligensie was al met hulle broeke op hul knee gevang ? Ongelukkig is die vermoë nie hier in S.A nie …wel dis my opinie .

Duck ·

Nou vra ek jou met trane in my oè (en ‘n diep seer hart) waarheen kan ‘n mens nou nog gaan met jou geliefdes met die doel voor oè om veilig, nee super veilig te wees in ons vasteland? Suid Afrika is nie meer veilig nie, buurlande is onveilig, moet ‘n mens dan maar deesdae liewer by die huis bly, agter ‘n veiligheids hek met honde in die agterplaas en maar wag vir die volgende dag en sien wat dit op lewer? Nee man! Dit is mos nou nie wat ons al ons lewens voor spaar en op ons oudag, wat graag wil gaan kyk hoe lyk die buurlande, wil oorkom nie. Règtig, ons planeet is in sy (en hier kan ek aan baie woorde dink)
Groete uit die Kaap, agter ‘n tralie hek, hoè mure met ‘n hond en alarms/kameras en een oog oop in die nag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.