SA’ner sterf in Zim-vliegongeluk

Petri Viljoen (Foto: Facebook)

’n Suid-Afrikaanse navorser is die afgelope naweek in ’n vliegongeluk in Zimbabwe dood.

Die oorledene is intussen as Petri Viljoen geïdentifiseer en medelye stroom sedertdien in op sosiale media.

Twee ander mense, onder wie nog ’n Suid-Afrikaanse navorser en die Zimbabwiese vlieënier, het kritieke beserings in die ongeluk opgedoen terwyl ’n soekgeselskap in dié stadium na ’n vierde persoon soek wat sedert die ongeluk vermis word.

Dié vermiste persoon is ’n Zimbabwiese burger.

Van die wrakstukke wat gevind is. (Foto: Zimparks)

Zimbabwe se nasionale owerheid vir parke en natuurlewe (Zimparks) sê die wrakstukke van een van sy ligte vliegtuie, ’n Cessna 182, is Sondag in die Chewore-safarigebied in Mbire gevind nadat dié viersitplekvliegtuig Vrydagmiddag in die Zambesi-vallei vermis geraak het.

“Die oorledene is ʼn Suid-Afrikaanse navorser wat ʼn wildopname saam met ʼn landgenoot en twee Zimbabwiërs, onder wie die vlieënier, gedoen het,” sê Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimparks.

Die twee beseerdes is eers ongeveer 48 uur nadat die vliegtuig van die radar verdwyn het, gevind.

Volgens Farawo was die beseerdes in só ʼn slegte toestand dat hulle nie hulp kon ontbied nie.

’n Soekgeselskap soek in dié stadium nog na die vermiste vierde persoon. Die owerhede in Zambië se hulp is intussen ingeroep om met die soektog te help.

“Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie en ondersoeke duur voort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.