SA’ner sterf op plaas in VSA

Nantes Lennox was baie lief vir musiek. (Foto: Verskaf)

ʼn 20-jarige man van Springbok in die Noord-Kaap is verlede maand op ʼn plaas in die VSA dood nadat hy in ʼn sojaboonsilo versmoor het.

Nantes Lennox werk sedert Maart vanjaar op dié plaas by Itta Bena naby Jackson in Mississippi, waar hy algemene plaaswerk verrig. Sy pa, Eugene (55), het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat sy seun en vier ander mans na verneem word binne die silo gewerk het toe drie van hulle in die moeilikheid beland het.

Lennox en nog ʼn man is albei onder die bone begrawe, maar die ander man kon betyds gered word. Lennox se liggaam is egter eers sowat vyf uur later uit dié silo gehaal.

Sy liggaam is tans by ʼn lykshuis in Jackson waar daar onder meer op ʼn doodsertifikaat gewag word, wat moet aandui dat Lennox in ʼn ongeluk gesterf het. Sy ouers weet dus nog nie wanneer hul seun se liggaam na Suid-Afrika teruggestuur sal word sodat hulle hom kan begrawe nie.

Eugene, Jolene, Nantes en Johannes Lennox. Dit was die gesin se laaste foto saam. (Foto: Verskaf)

Al die reëlings vir sy begrafnis op Springbok is egter reeds gefinaliseer met behulp van die hegte gemeenskap en ’n plaaslike pastoor wat die gesin sedert die tragedie ondersteun.

“Dis ʼn seer wat mense nie kan troos nie. Maar die gemeenskap dra ons beslis. Die mense hier by ons is die sout van die aarde,” sê Eugene.

Eugene is tans in verbinding met ʼn sheriff op Jackson, maar sê hy het nog steeds nie duidelikheid oor waar sake tans staan nie. Daar is glo ook baie prosedures wat gevolg en afgehandel moet word voordat Lennox se liggaam teruggestuur kan word.

Die plaaseienaar, ʼn dokter in die gebied, het Eugene ook persoonlik gebel en gesê dis die eerste keer dat so iets op sy plaas gebeur. Lennox het vanjaar vir die tweede keer op ʼn plaas in die VSA gaan werk en sou op 29 November terugkeer.

Sy pa, ma, Jolene (52), en ouboet Johannes (25), was op 13 Oktober besig om ʼn afdak op te rig vir ’n voertuig wat Lennox gekoop het, toe die oproep oor sy dood ingekom het. Die gesin het egter nie dadelik geantwoord nie omdat hulle graag die afdak wou klaar maak.

Toe hulle later terugbel, het hulle die slegte tyding van hul seun se dood ontvang.

Eugene het kort voor sy seun se dood nog met hom oor WhatsApp gesels. Dit was laatmiddag Suid-Afrikaanse tyd en vroegoggend in Amerika – net voordat Lennox met sy werk op die plaas sou begin.

Genade, gemeenskap dra gesin

Eugene sê hoewel hulle platgeslaan is, is die gesin “deur die genade van die Skepper” oukei.

Eugene sê hulle gaan Lennox baie mis.

“Nantes was ʼn baie interessante persoon – lewenslustig. Hy was lief vir grappies en baie, baie lief daarvoor om te lag. Hy wou altyd help.”

Eugene sê die eienaar van die plaas by Itta Bena het Lennox gereeld vir allerhande take ingespan – juis omdat hy so behulpsaam was en lekker was om mee saam te werk.

“Hy was jonk en energiek. Hy was altyd bereid om te leer, selfs al het hy nie geweet hoe iets werk of hoe om dit aan te pak nie.

“Hy was ook baie lief vir musiek en kon lekker sing. Hy het homself leer kitaarspeel,” vertel Eugene.

Hy lag as hy onthou hoe sy seun se JBL-speaker oral saam met hom gegaan het. Lennox was veral lief vir country-musiek en het selfs video’s op YouTube gelaai waar hy bekendes se liedjies sing.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ons pragtige kinders wat so doodgaan… Ai tog, die hartseer raak net te veel. Sterkte aan julle Eugene, Nolene, Johannes en al Nantes se familie en vriende. Mag God jul styf vashou en deur hierdie hartseer tyd dra. Ons bid ook vir julle almal.

Harley Davidson ·

Baie hartseer soos die meeste wit seuns in Amerika sy beroep gaan beoefen want in sa word daar teen hulle gediskrimineer oor hulle velkleur en die media is te bang om die waarheid daaroor te publiseer.

hantie ·

Hoe seer is my hart nou, hierdie jong man het soveel vreugde en lewenslus gehad en die mooiste stem. Ek ken wel nie sy ouers, broer en familie nie, maar my hart gaan uit na hulle. Hoe seer moet dit nie wees om jou vrolike kind te verloor en dit nog in n vêr land ook nie! Mag God julle vertroos in hierdie moeilike tyd.

Agge nee ·

So hartseer, so vol energie en lewenslus en so vroeg weg.

My Mening ·

Hierdie is so bitter hartseer. My innige simpatie aan Nantes se geliefdes.

Wondermaarnet ·

Dit is so hartseer. Sterkte aan die familie en vriende.

tequilasheila ·

Baie sterkte vir die familie wat so mooi seun en boetie verloor het. Julle het sulke mooi “memories” van Nantes. Mag God julle krag gee om aan te gaan….

Annelien ·

Dis die 2 de kind waarvan ek weet die afgelope maand wat in amerika op n plaas dood is. Asook 8 maande terug het n SA meisie n ongeluk daar gehad wat haar verlam en met erge breinskade gelaat het. Sy is steeds in n inrigting in amerika. Is hul veiligheid standaarde dalk heeltemal onvoldoende?

Republikein in die Wes Kaap ·

So ‘n jaar wat gelede het ‘n Suid Afrikaner op ‘n plaas in die suide sy been verloor in ‘n plaasongeluk. Die vraag is of almal wat daar op plase gaan werk wel ervaring het om die tipe werk te doen. Nie almal is plaaskinders nie. Maar die geld is goed…

Nettie ·

Dis belangrike vrae om te vra. Miskien moet van ons landbou organisasies net so bietjie ondersoek instel en waarskuwings uitreik? Of effens meer beheer neem oor sulke werksgeleenthede sodat enige probleme betyds opgemerk kan word wat dalk voorkomend kan wees? Ek weet nie. Mens wil net keer dat nog ‘n familie so ‘n oproep moet kry.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nettie, dalk kan Afriforum, Saai en landbouorganisasies help met opleiding. Die risikos is net te groot.

Harley Davidson ·

Hulle is te besig om die huidige bevoordeeldes te help.

tequilasheila ·

Ai dis hartseer. Julle het sulke mooi “memories” van ‘n seun en broer. Mag God julle krag gee om elke dag aan te gaan…

honeybee ·

Dis genoeg om enige mens te laat tjank. Die liedies sing hy so mooi. Sterkte aan sy famile en vriende.

Papsak ·

Sterkte so jsmmer dat ons mooi jong mense so wreed moet sterf hoor die mooi stem ook nog God sal julle dra deur die donker tyd sterkte weer

Maan&Sterrekind ·

Ai dit is nou hartseer.
Ek verstaan vandag Eugene en Jolene se seer. As n Ma wat self n kind in die dood moes afstaan, weet ek dat NIKS wat niemand doen of sê sal ooit daai seer kan weg neem nie.

Alle sterkte aan die Lennox Familie. Bid is al wat ons kan doen in die tyd van Nood.

LANA is ELANè ·

Te hartseer vir woorde. My hart gaan uit na die mooi jongman se naasbestaandes.

wiesalweet ·

Dis vir my so verskriklik hartseer om hierdie te lees. Baie sterkte en liefde aan sy ouers, familie en vriende. My seun werk ook in Amerika. Hy is nou sy 3de jaar daar en kom in Desember weer huis toe. Ek kan my nie indink dat ‘n mens sulke nuus moet kry nie.

Gregory ·

My hart gaan uit na die familie. Mag God julle in hierdie tyd dra. Ek het self ‘n seun in Amerika en kan nie myself voorstel die pyn en die hartseer wat die familie deurgaan nie. Julle is in my gebede.

Waarnemer ·

My innige simpatie met julle verlies.My seun is ook in Amerika in Mississipi….Mag God julle vertroosting bring.

Nettie ·

Dis ontsettend. Die arme man, mag hy in vrede rus. En die arme arme familie, mag God julle toevou in Sy Liefde. Watte verskriklike skok is dit nie. Sterkte aan julle almal.

Lillian ·

Daar in die vreemde land gaan werk, net om so te sterf …. Sterkte aan sy ouers, broer, familie en vriende mag God jul vertroos in hierdie hartseer tyd.

Oosie ·

Meegevoel met die gesin.. enige doods tyding is ñ swaar vrag om te dra.. rus sag ou seun..

elphia ·

Baie sterkte en vertroosting aan sy ouers en sibbe, familie en vriende. My hart gaan uit na julle.

Alp ·

RIV jong man, sterkte aan sy ouers en broer. Bid dat die nodige prosedures spoedig afgehandel word sodat julle finaal afskeid kan neem.

Tanya ·

Sjoe maar die mannetjie kon sing….. definitief ietsie vir sy ouers om aan vas te hou, so so jammer vir julle verlies!

Haibo ·

So hartseer en hy is nog bloed jonk. Baie sterkte aan sy familie.

Hendrik ·

Daar sterf elke jaar ‘n paar mense in die VSA in silo’s. Verskeie opleidingsprogramme oor silo-veiligheid bestaan. Ek het self die afgelope paar jaar manne op die Manne in Amerika Facebook groep gewaarsku om versigtig te wees, maar die verantwoordelikheid lê by die werkgewer om toe te sien dat mense veilig is. Ek stel voor die familie dagvaar die boer-dokter. Dit bring nie hulle kind terug nie, maar dit sal ander boere opskerp om hulle werkers se veiligheid eerste te stel en ‘n gemakliker lewe vir die eisers verseker.

Karinda ·

Dit is verskriklik hartseer, hierdie arme ouers en broer wat agter bly se harte is gebreek. Lyk na so oulike jong man met soveel vreugde in sy gesiggie. RIV Nantes

TO ·

So bitter jammer vir julle verlies. Mag Jesus julle dra in dis seer. Hy het die mooiste stem. Gaan groot in die engele koor Lennox

marisa ·

Ag hy lyk en klink asof hy ‘n lekker ou was!! Sterkte en liefde vir almal wat vir hom lief was!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.