SA’ner, tientalle ander sterf in Indonesiese brand

Die brand by die Tangerang-gevangenis het tot die dood van 41 mense gelei. , after a fire broke out and killed 41 inmates. (Foto: Indonesian Ministry of Law and Human Rights/AFP)

‘n Suid-Afrikaner is onder die oorledenes nadat ‘n brand Woensdag in die vroeë oggendure in ‘n gevangenis in Indonesië uitgebreek het.

Die brand het uitgebreek terwyl meeste gevangenes steeds geslaap het. Altesaam 41 gevangenes is in die brand by die Tangerang-gevangenis buite die hoofstad Djakarta dood terwyl 39 mense beseer is. Die area waar die brand gewoed het, word hoofsaaklik gebruik vir die aanhouding van gevangenes wat vir dwelmoortredings tronkstraf uitdien.

Die polisie werk nou onverpoos om al die oorledenes te laat uitken. ‘n Elektriese fout het vermoedelik tot die brand gelei, maar die presiese oorsaak word ondersoek.

Yasonna Laoly, Indonesië se minister van justisie, het tydens ‘n mediakonferensie bekend gemaak dat twee buitelanders, ‘n Suid-Afrikaner en ‘n burger van Portugal, in die brand dood is. Hul name is nog nie bekend gemaak nie.

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Djakarta het bevestig die Suid-Afrikaanse burger het tronkstraf vir ‘n dwelmverwante oortreding uitgedien.

“Ons wag nog op verdere inligting om te sien hoe ons die saak verder gaan hanteer rakende die repatriasie van die oorskot,” het die Suid -Afrikaanse ambassadeur in Indonesië, Hilton Fisher, aan AFP gesê.

Daar is ook bevestig dat die tronk oorvol was met meer as 2 000 gevangenes, meer as drie keer die hoeveelheid gevangenes wat gehuisves kan word. In die area waar die brand uitgebreek het, kan slegs sowat 40 gevangenes gehuisves word maar daar was meer as 120 gevangenes.

Oorvol tronke wat met onhigiëniese toestande gepaardgaan is algemeen in Indonesië. Daar is meer  270 000 gevangenes in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Prontuit ·

Ten minste het doodstraf gewerk! was onmenslik maar so is onnodige sinnelose moord en verkragtings, en ten minste kan daai mense nie weer en weer en weer misdaad pleeg nie en tronke was nie so vol nie so hoop daai kite vlieg weer! Maar ek is bevrees as jy aan die verkeerde kant van die inkleurboek is moet jy maar ligloop want voorbeelde sal daar gemaak word dis beslis, hoekom goed wegvat wat ‘n doel gedien het en gewerk het? Mense sal dan ook dubbel dink om sommer net iemand anders se lewe te neem! vandag is dit ‘n normale gedagte soos of jy ‘n brood moet gaan koop of nie

piet ·

Nee wat doodstraf werk nie, oral in die wereld bewys. Soos doodstraf in die Weste toegepas word, is dit nie juis ‘n afskrikmiddel nie, prisoniers sit in elk geval jare in die tronk voor die doodstraf uitgevoer word. As die proses versnel kan word, bv. as die persoon doodstraf opgele word en dat dit uitgevoer moet word binne 2 jaar (enige appelle moet dan afgehandel wees) kan dit dalk ‘n afskrikmiddel en doeltreffender wees. In Amerika is bewys dat die afskaffing van die doodstraf in state eintlik tot ‘n vermindering van moorde gevolg het. Doodstraf is nie ‘n afskrikmiddel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.