SA’ner vas wat Everest sonder permit klim

Ryan Sean Davy. Foto: Facebook

ʼn Man van Johannesburg is in aanhouding in Katmandu in Nepal en kan met sowat R300 000 beboet word nadat hy Everest sonder ʼn permit probeer klim het.

Ryan Sean Davy het glo nie die sowat R150 000 betaal vir ʼn permit om die berg te klim nie en is op die berg deur die owerhede vasgetrek.

Davy het in ʼn Facebook-plasing verduidelik toe hy by die basiskamp arriveer vir sy tog by die berg op, het hy besef hy het nie genoeg geld om ʼn solopermit te koop nie “weens versteekte kostes”. Hy het ook geen bergklimervaring nie en sê sy permitaansoek sou dus in elk geval afgekeur geword het.

Volgens Davy sou dit vir hom vernederend wees om terug te draai nadat baie mense hom tydens sy voorbereiding vir die ekspedisie bygestaan het. Hy het dus besluit om sonder ʼn permit voort te gaan.

Ryan Sean Davy. Foto: Facebook

“My grootste aansporing om op die berg te wees, was om enigiemand te help wat dalk in die moeilikheid beland het, aangesien daar elke jaar so baie sterftes [op die berg] is. As ek minstens een mens kon help, sou dit ʼn verskil gemaak het en dit sou vir my die bergpiek gewees het,” het Davy geskryf. Hy het gesê hy is ongeveer 24 000 vt. bo seespieël vasgetrek voordat hy sy tog kon voltooi.

“Ekspedisie-maatskappye het geen tyd vir aspirantbergklimmers wat nie geld het nie, so iemand het my [aan die owerhede] oorgegee. By die basiskamp is ek so erg geteister dat ek eerlikwaar gedink het ek gaan net daar gestenig word. Ek oordryf nie eens nie. Ek is soos ʼn moordenaar behandel,” het hy geskryf.

Davy het gesê sy paspoort is by hom afgeneem en hy is na Katmandu gestuur waar hy moontlik tronkstraf opgelê kan word. Volgens Daily Mail kan hy moontlik vir vyf jaar uit Nepal verban word of tien jaar lank verbied word om in die land berg te klim.

Michele Whitehead, ʼn vriend van Davy, het Dinsdag op sy Facebook-blad geskryf Davy sal in aanhouding bly “totdat alles uitsorteer is”. Sy het gesê hy sal ʼn boete van $22 000 opgelê word. Volgens Whitehead beplan sy om die konsulaat in Nepal te kontak om Davy by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish ·

Dis nie jou skuld of n skande om dom te wees nie, maar as jy begin mors daarmee is dit n keuse.
Wie wil jy help pel, jy het nie eens evaring van bergklim nie!

Klap my kop ·

Ai, geen ondervinding! Hoe de hel gaan jy iemand kan help. Net sowel hulle het jou gevang, jy was dalk die volgende persoon wat redding kon benodig! Moenie nou kom verskonings maak nie.

Rianza Gouws ·

Die Nepalese is ‘n trotse nasie. Trots op hul berg (wat is die Sagamantha wildreservaat geleë is) en trots op hul wetsgehoorsame burgers. Dis een van die veiligste plekke ter wêreld. Almal wat die wildreservaat binnegaan moet ‘n permit uitneem sodat daar beheer kan wees oor die 100e toeriste. Net so moet jy dit toon wanneer jy die gebied verlaat. Dan praat ek nie eens van iemand wat hoër as Basecamp wil gaan nie! Ek kan verstaan dat hulle geen begrip het vir ‘n leek wat die berg alleen wou aandurf nie, dit sou tot gevolg gehad het dat van hul gidse hul eie lewens in gevaar moes stel om hom te red. Namaste Nepal!

Scalla ·

Davy, jy is nie in rsa waar geen wette hoef nagekom word en slegs n bribe betaal moet word om verby die gereg te kom nie, dis hoekom ons rommelstatus geniet. Respekteer hul regulasies.

Nico ·

R150 000 vir ‘n permit? Is jou sherpas daarby ingesluit? Klink vir my ongelooflik duur…..

MissDemeanor ·

Geen bergklim ervaring nie en hy gaan omdat hy mense wil red….dit is mense soos hy wat gered moet word op berge. Dis jammer dat Everest so duur is, maar daar is ander berge waar jy nie duur permitte nodig het nie. Mens kan daar ook ervaring opdoen.

Ella ·

Ek het regtig geen simpatie met hierdie man nie. Volgende wat ons hoor – dan vra iemand op sosiale media vir geld om sy boete te betaal. Sorrie, hoor, jy gaan nie ‘n sent by my kry nie. Gaan klim Kilimanjaro of Tafelberg uit vir ondervinding, maar moenie probeer braaf wees op Everest nie. Jy gaan niemand beindruk nie.

SL ·

As hy so graag soos n hero wou voel deur dat hy iemand gered het moes hy liewer daardie geld wat gemors is vir arm sendelinge gee wat ander se siele by die Here probeer uitbring.

Dirk ·

Ervare bergklimmers gaan jaarliks dood op daai berg. En jy dink jy kan sommer gaan klim? Jy is ñ spesiale tipe stupid, my vriend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.