SA’ner verloor alles in Oman, bly glo

Nico en Corné Liebenberg. Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaner Nico Liebenberg (55), ʼn meganiese ingenieur en sendeling, het sy vrou en “alles anders verloor” terwyl hy in Oman in die Midde-Ooste gestrand was, maar hy glo die Here gaan sy beproewing ten goede gebruik.

“Ek kan dit nou sê met baie pyn in my hart. Alles gebeur ten goede vir dié wat die Here liefhet. Dit maak nie saak hoeveel hartseer en pyn ek verduur nie, die Here gaan dit ten goede gebruik vir die bevordering van sy koninkryk.”

Liebenberg en sy vrou, Corné (46), was vir die laaste paar jaar in ʼn regstryd gewikkel in Oman nadat hulle nie salarisse van hul werkgewers ontvang het nie. Liebenberg het uiteindelik in ʼn tronk opgeëindig terwyl Corné en haar 15-jarige seun begin April na Suid-Afrika gedeporteer is.

Corné is kort na haar aankoms in Suid-Afrika in ʼn hospitaal opgeneem. Liebenberg kon kontak maak met sy familie in Suid- Afrika met behulp van ʼn ander gevangene se gesmokkelde selfoon. “Ek het haar uit die tronk gebel en was toe kalmer omdat ek geweet het hulle is veilig. Ek het kort daarna met my ma gepraat en sy het gesê Corné is baie siek. Toe ek die volgende dag weer bel het my ma gesê sy het slegte nuus. Corné is die oggend oorlede. Dit het my gebreek.”

Corné het altyd nierprobleme gehad. Sy het met haar terugkeer na Suid-Afrika ʼn swam op haar long gehad en ʼn vergrote lewer. “Haar organe het net ingegee.” Die egpaar was drie jaar getroud.

Liebenberg is einde April na Suid-Afrika gedeporteer met net die klere aan sy lyf. Hy woon tans by sy ma in Virginia in die Vrystaat.

Liebenberg het in 2012 in Oman begin werk as bestuurder van ʼn Omanse burger se maatskappye. Cornê het skoolgehou. Liebenberg en sy vrou het vir maande lank nie salarisse ontvang nie en hy het met regsaksie begin om sy geld te probeer kry. Die egpaar en Corné se seun se visums het intussen verval. Hulle kon nie die land verlaat nie aangesien hulle nie die geld gehad het vir die visaboetes en die vliegtuigkaartjies nie en was dus onwettig in die land.

Die gesin het aanvanklik in ʼn huis in Oman gewoon. Mettertyd is die watertoevoer afgesny omdat hulle dit nie kon betaal nie en het hulle vir sowat nege maande nie water gehad nie. “Ons het later ʼn waarskuwing gekry van ʼn ambassadeur dat ons lewens in gevaar was weens die hofsaak.”

Só het die tweeslaapkamerhuisie gelyk toe hulle ingetrek het. Foto: Verskaf

Die gesin het kort daarna in die middel van die nag met hul meubels gevlug en in ʼn tweeslaapkamerhuisie op die platteland gaan woon. “Ons moes met water in ʼn emmer was en daar is elke twee weke drinkwater afgelaai. Corné het op haar skoot kos gemaak en ons het net ʼn klein tweeplaatstofie en ʼn mikrogolfoond gehad.”

Dit was van hier af wat die egpaar die internetradiostasie Rainbow Gospel Radio bedryf het. “Ons het die radiostasie vier jaar gelede saam begin. Ons het dit alles self gedoen en vandag is daar luisteraars in 184 lande reg oor die wêreld. Daar is ook meer as 40 omroepers wat as vrywilligers werk en nie vergoed word vir hul dienste nie.”

Liebenberg is op 12 Maart in hegtenis geneem toe hy die hofsaak bygewoon het om sy geld te probeer kry. Volgens hom beloop die geld wat aan hom verskuldig is meer as R1 miljoen teen die huidige wisselkoers. “Ons was so versigtig. Ons sou nooit dieselfde tyd winkels toe gaan nie en het verskillende paaie gery. Ons het geweet daar is die moontlikheid dat ons een of ander tyd gevang kan word.”

Volgens Liebenberg het hy in die hof verskyn om teen een van sy vorige werkgewers te getuig. “Ek het ná die tyd buite die hof met ʼn prokureur gestaan en gesels. Hulle het my teruggeroep en toe vat hulle my deur die hof na ʼn vertrek en sluit my sonder enige verduideliking toe. Hulle net gesê: ‘Problem, problem, problem’.”

Nico en Corné kon daarin slaag om die huis meer leefbaar te maak. Foto: Verskaf

Liebenberg het sy selfoon by hom gehad en kon Corné en haar seun waarsku dat hy in hegtenis geneem is. Hulle het by die Suid-Afrikaanse ambassade in Muskat om hulp gaan aanklop.

“Corné was twee keer by my in die tronk voordat sy gedeporteer is. Sy het vir my ʼn tandeborsel en seep en goed gebring.” Sy en haar seun is toe gedeporteer. “Ek het op die vloer geslaap in die tronk met twee dun kombersies. Almal in die sel se kos word op een skinkbord gebring – ertjies, lensies en Arabiese brood en hompe rys. En ʼn stukkie vlies – en dan moes jy vinnig gryp om ʼn stukkie vleis te kry.”

Volgens Liebenberg het hy ontvlugting gekry in die stort. “Ek het partykeer tot vier keer per dag gestort. Ek het gehuil en gebid in die stort.”

Liebenberg se ma moes die geld vir sy vliegkaartjie voorskiet en hy het in Johannesburg geland met net die klere aan sy lyf. “Selfs my skoene is in die tronk gesteel. Ek het net ʼn kortbroek en ʼn hemp aangehad. Ek het ʼn paar plakkies gekry in die tronk en so het ek op die lughawe aangekom.

“Die afgelope twee maande was die slegste tyd van my lewe. Ek en Corné het baie hard gewerk om Rainbow Gospel Radio op te bou en te kry wat ons het. Niks maak vir my sin nie, ek kan nie verstaan waarom Corné voor my ‘huis’ toe moes gaan nie. Min mense is werklik gelukkig in ʼn tweede huwelik soos wat ons was, ten spyte van die ontberings.”

Liebenberg se fokus is intussen by die internetradiostasie. “Ons is op die lug en ek doen dit heeltyds. Die radio moet werk want die Woord van die Here moet uit. En dit is waaraan ek my lewe wy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Johann ·

Skuus maar dis n totaal ander weergawe as wat in die media van berig word rondom sy en sy familie se aaanklagte oor en weer?????

Heidi Jacobs ·

Snaaks…..sover my kennis strek betaal die land wat jou deporteer jou fliegtuigkaartjie. Dink die verslaggewer moet dalk meer navorsing doen voor leuens geplaas word. Ons weet vir ñ feit dat sy vrou “verloofde”( soos vorige berigte) vir hom ñ tas klere by die ambasade gelos het. Die arme vrou en kind moes hul besittings agter laat om al sy radio toerusting saam te bring wat die arme kind van 15 moes dra want sy ma was te siek en swak. En nou wil die kamstige ‘Pastoor’ Corné sy ouers wat deur hel gaan nog dagvaar ook. Ek weet darem nie hoe ñ “man van God” so laag en gemeen kan wees nie. En dan wil hy mens na God lei met sy “skynheiligheid”. Dis jammer want daar is opregte Christene by die Rainbow Radio wat mislei word deur die man en eendag die stukke gaan moet optel. Ñ mens begin skoon in jou geloof twyfel. Dis beslis nie wat God van ons wil hê nie. Wonder nogsteeds of die man werklik ñ pastoor is.

foxi ·

So jammer oor die verlies en wat jy moes deurmaak. Maar weereens is dit n bewys dat God se genade genoeg is. Al die stukke sal jy weer optel en jy sal in oorvloed hê Nico…….
Sterkte??

al ·

Nou kyk ons nog in ñ dowwe spieël en sien ñ raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. 1 Korintiers 13.
Sterkte ons verstaan nie alles nie. Maar als werk ten goede mee.
Ons Suid-Afrikaners glo te maklik oorsese maatskappye en werksgeleenthede. Die gras is nie altyd groener oorsee nie.

Ashlee ·

Hierdie “pastoor” en sy gesin het owettig gewerk in Oman. Hulle is destyds met n visitors visa die land in wat na elke 30 dae hernu moes word. Hy het versuim om dit te doen. Slegs iemand met n resident visa mag in Oman werk. Hy het dit nie gehad nie. Maw, hy was nie net vir jare onwettig in die land nie, maar ook onwettig daar gewerk. Die grap is, hy dagvaar toe sy “werkgewer” en hulle vind uit hy is nie net onwettig in die land nie, maar ook onwettig daar werk. Hy kan homself gelukkig ag dat hy nie nog steeds daar in die tronk is nie!!Nog n ding. Hy was twee maal gevang met alkohol tydens Ramadan, wat onwettig is tydens daardie tyd.

Helen ·

Eks jmr maar ek het al baie stories van die man en die situasie gehoor!
En elke keer was dit nie goed nie.
Hys op my fb blad en ek gaan eerlik wees die man is dag en nag op fb en as ek trug kyk selfs toe hy se hy was in tronk en was hy tu ook op fb? Nou hoe nou? N geleende foon?

Nee wat ek stem saam die man moet uit gekyk word hier is n rot!!

foxi ·

Helen….ja dit is waar wat jy sê…..almal weet dit. Maar n mens skop nie iemand terwyl hy lê nie.
Miskien het hy berou gehad, maar dit daar gelaat, soos ek sê laat hy weer die stukke optel en van vooraf begin. Almal leer deur hul foute en niemand is boverhewe enige-iemand anders nie. Almal het geraamtes in die kas, dit hang van hulself af om daardie kas skoon te maak, so maak dit jou vry van n las wat jy dra.

lynni ·

As hy leuens vertel moet Maroela asb die berig verwyder. Daar is onskuldige mense wat gaan val vir sy dinge. Asb.

PNel ·

Hoe laat ‘n man sy siek vrou so swaar kry in sulke swak en gevaarlike omstandighede as hy ‘n meganiese ingenieur is wat ‘n goeie salaris kan verdien? Nou bly jy by sy ma? Jammer ek verstaan dit nie.

Ander Annie ·

Ek was seker te reguit in my kommentaar wat nie geplaas is nie. Dit is jammer dat Nico nie die hartseer erken van hoe erg dit is vir Corné se ouers wat hulle kind aan die dood moes afstaan. Daar is ‘n jong seun wat sy Mamma verloor het. Die hele artikel gaan grootliks oor Nico. Nee wat, ek sluk swaar aan hierdie artikel. Christenskap het vir party mense’ n kamstige betekenis. Ek is sooooo jammer vir 2 wonderlike ouers wat hulle dogter aan die dood moes afstaan, na maande van totale bekommernis oor haar en hulle kleinkind se lewensomstandighede. Ek is netso jammer vir haar seun wat deur soveel trauma moes gaan.

Gerda Jansen ·

Ek dink dat mense 2 keer moet dink voor hul hierdie kommentaar wil lewer. Jul feite is nie korrek nie…alles wat Nico deurgegee het en oor verslag gegee het is die waarheid..hy het niks om weg te steek of om oor te jok..en het geen verskuilde agenda. Hou op oordeel oor ander. Kry jul eie feite eerder reg. Dit was sy vrou en wat sy saamgevat het was dit vir haar belangrik was. Sy het saam die radiostasie begin en dit was deel van haar hartklop. Hier word maklik verwys na hoe verkeerd en sleg hy is…maar nie een persoon sal vertel hoe die omroepers en hy verneder word en gevloek word deur almal wat dink hul weet iets nie.

Ria ·

Amen ek is vir die tweeDe keer hierdie jaar betrokke by iemand wat gedeporteer word. Hulle betaal hulle eie vliegtuig kaartjies. Voor almal hulle monde so lekker uit was oor hoe sleg Nico is, gaan vee voor jou eie deur. Stap jy maar eers n my in die man sê skoene. Ons almal mis vir Corne. Uit daai vrou het net liefde gestraal. Julle het nie vir Nico op die lughawe gesien nie ons het.

Carina ·

Ek het vir 11 jaar in Oman gewerk. En dit was 11 wonderlike jare, waar ek nie een dag bang gevoel het nie. Ek het ook baie geleer – dat wanneer en AS jy lelik droog gemaak het jy in die tronk beland. As jy in ‘n Muslemland gaan probeer sendingwerk doen onder die Muslems (Omanis) jy in die tronk sal beland, as hulle uitvind jy is onwettig in die land en jy werk ook onwettiglik vir ‘n maatskappy, dan eindig jy ook op in die tronk. So maklik soos dit. En hulle regsisteem is baie moeilik om as ‘n expat jou onskuld te bewys. Jy doen eers behoorlik navorsing voordat jy na enige van die Midde Ooste lande gaan vir werk. Netso weet ons dat ons nie by enige SA funksie byvoorbeeld nie kon Shosholoza sing nie, al sien ons dit as opbouend en deel van SA trots, sien die Omanis dit nog as deel van die geskiedenis van SA en apartheid. So, ek vat ook maar swaar aan hierdie storie….my hart gaan uit na Corne se seun en haar familie wat rerig onnodiglik deur hierdie trauma moes gaan. Sterkte Nico, ek hoop jy besef eendag dat jy maar soos ‘n sandkorreltjie in die woestyn is wat probleem vind met daardie pragtige land en sy wonderlike, gasvrye mense.

Jo-Anne ·

Ek bly en werk al hier in Oman vir die laaste 8 jaar. Ekt self vir mense gewerk wat my nie betaal het, maar ekt net ander werk gesoek. Dit was so maklik. Daar is n groot aantal Omanis wat baie graag help as n mens in die knyp sit. Vandag het ek my eie besigheid hier in Salalah, en ek is nie een dag spyt ek het deur gehou in die moeilike tye nie. Oman is pragtig, die mense is pragtig, en die reels is streng, maar dis wat ons veilig hou hier. Mense moet nie n slegte idee kry oor hierdie land nie, want dit is nie waar nie. Volg die reels en maak vriende, dan is jy veilig vir solank as wat jy leef in die land.

Derik ·

My broer het in die 90’s in Oman as mechanic gaan werk. Hy het verniet gewrk . Die mense het hom nie betaal nie. Ons het vir meer as 6 maande gesukkel om hom terug in SA te kry. Hulle het sy oaspoort gevat. Hy was soos n slaaf vir hulle vir die hele tyd.

Jacoba Isabella O"Neil ·

Ek is regtig uit my hart uit bitter jammer vir sy vrou se afsterwe en haar ouers, maar ek wil net meld ek was amper 4 jaar die radio se bemarker en het baie nou met hom en sy vrou gewerk, Ek is jammer ek wil nie haar ouers seer maak nie, aan die familie wil ek se indeel deel word hy byna daagliks slegs gese op ‘n openbare mede blad wat nie in belang van die publiek is nie, as ek net kan verstaan hoekom want daar was vir my niks weggesteek nie, ek het baie hard gewerk sonder enige hulp van enge iemand om my by testaan,ek was beskikbaar vir almal,dus kan ek nie hierdie aangeleentheid verstaan en toelaat dat Mnr, Lienberg so aangeval word nie, hulle was ‘n uiterse plesier om na te luister op die radio, haar Vader was selfs in my huis.So ek was nie onbekend aan hulle nie, verder hou ek alles konfidensieel,Haar afsterwe was God se besluit en nie Mr Liebenberg sin nie, net soos enige iemand anders rou hy ook, Gin hom dit asb.!!!!!

Johann van Deventer ·

Jammer om te hoor van sy slegte ervaring. Ek is al 7 jaar in Oman en die Omani’s is ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Het wonderlike vriende gemaak.
As mens oorsee werk moet jy seker maak van reels . Moenie langer bly as wat jou visa dit toelaat. As hy n pastoor was , moes hy tog dmv sy gemeente gekom het? Of n organisasie hier moes hom laat kom het??
Hoop tog hy kom weer op sy voete.

Jo-Anne ·

Ek stem saam jou. Hierdie is n wonderlike land om in te bly met soveel vriendelike mense. Nog elke keer wat ek langs die pad gaan staan het met my kar was daar nie een nie, maar soms 3 karre met vreemdelinge (omanis) wat gestop het om te help. Of dit nou is om n wiel om te ruil, overheating en selfs toe my kar vlam vat. Mens moet net die reels volg, en vra vir hulp as jy in die moeilikheid is agv finansies of regshulp of visas. Daar is altyd iemand wat jou sal help. Ek weet, ek was al daar. Maar eks nogsteeds hier en sal so lank as moontlik hier bly. Salalah is my hartsplekkie en ek sal altyd opstaan vir hierdie pragtige land en sy mense. Ja dis moeilik op tye, maar dit is wat dit is. Mens lees soveel goed rondom hierdie saak van hierdie arme man en sy gesin, maar hy moes net vra vir hulp. Ons suid afrikaners kon sekerlik help, al sou dit net wees om hul uit te kry. Eks seker n paar van ons het ook wasta wat kon help.

Riekie ·

Ek is baie jammer oor die afsterwe van Corne wat niemand noem is dat jy nie Oman kan verlaat as al jou skuld nie vereffen is nie Corne het n motor gekoop wat nie klaar betaal is nie sy het ook plastiese churigie ondergaan wat nie klaar betaal was nie , daar is fondsinsamelings deur RGR se omroepers gedoen om daardie skuld te betaal so dat Corne en JF gedeporteer kon word en ja hulle moes hul eie vlugkaartjies betaal weereens jammer aan Corne se ouers sy en Nico het mekaar gelukkig gemaak

Lynette ·

My hart gaan uit aan Nico en Corne se familie. Soveel hartseer om te verwerk. Ek is bevoorreg om te se ek ken Nico (en Corne) vir ‘n rukkie en wil deel wat ek ervaar het tov Corne. Corne was BAIE lief vir Nico en het passievol geglo aan RGR! Sy was ‘n sterk, intilligente vrou wat nooit iets sou doen waarin sy nie geglo het nie. Sy het geglo in haar man en hom ten volle ondersteun met hulle roeping by RGR. Haar harde werk by RGR, haar liefde vir die Here, haar gesin en familie en vriende word gekoester. Altyd vriendelik en tog sterk! Die leemte van Corne word deur Nico en haar geliefdes gemis. Dankie Corne! Rus in vrede. Sterkte Nico en familie.

Ilse ·

As expat Suid-Afrikaner in ñ Moslemland het ek soveel probleme met hierdie storie en ‘feitestel’ dat ek nou sommer vir my gaan tee maak en dit ignoreer. Geen pille vir onkunde, domheid of kansvatters nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.