SA’ner wat man in NS doodskop vry, gedeporteer

Mark Nagel, ‘n Suid-Afrikaner, is nadat hy skuldig bevind is aan manslag in Nieu-Seeland, na sy geboorteland gedeporteer.

ʼn Suid-Afrikaner wat ʼn man in 2022 in Nieu-Seeland met ʼn enkele skop só hard getref het dat hy later dood is, is vroeër vandeesmaand ná sewe maande in aanhouding na Suid-Afrika gedeporteer.

Mark Nagel was 18 jaar oud toe hy die 61-jarige Anthony Kelly buite ʼn kettingwinkel in Christchurch met ʼn gevegkuns-skop teen die kop getref het. Kelly was dadelik bewusteloos en is hospitaal toe geneem, waar hy 10 dae later dood is.

Ná die voorval het Nagel gesê die dodelike skop het gekom omdat Kelly glo geweier het om foto’s wat hy na bewering van Kelly en sy vriende geneem het, van sy foon af te vee. Die polisie kon egter nooit enige bewyse vind dat sulke foto’s geneem is nie.

Die voorval het plaasgevind op 18 Oktober 2022, toe Kelly omstreeks 18:15 saam met ʼn groep tieners by ʼn bushalte gewag het. Hy het nie een van hulle ooit voorheen ontmoet nie.

Die Nieu-Seelandse webwerf Stuff berig daar was ʼn woordewisseling nadat Nagel gedink het Kelly neem ʼn selfoonvideo van hom en sy vriende. Sekuriteitsbeamptes het Kelly gevra om die bushalte te verlaat en hy is deur verskeie jongmense, waaronder Nagel, gevolg.

“Toe hy besef hy word gevolg het Kelly probeer wegloop, maar toe een van die jongmense hom bly volg het, het hy ʼn hou na die jongman gemik,” berig Stuff. Die jongman het Kelly op die skeenbeen getref voordat Nagel hom blindelings in die gesig geskop het. Sy kop het die sypaadjie hard getref. Toe die jong mans vlug, het hulle mekaar na wat berig word geluk gewens.

Kelly is 10 dae later dood.

Die slagoffer het twee kinders. Nagel het skuldig gepleit op ʼn aanklag van manslag en is twee jaar tronkstraf opgelê. Hy het onlangs geslaag in ʼn aansoek om huisarres, tot groot woede van Kelly se geliefdes.

Hoewel Kelly se familie kwaad was oor wat hulle as ʼn ligte vonnis beskou het, is hulle verlig hy is nie meer in die land nie, berig Stuff. Sy 23-jarige seun, Ryan, sê ondanks Nagel se ligte vonnis is hy gelukkig dat owerhede hom na Suid-Afrika gedeporteer het.

Kelly se broer, John, het uit Noord-Ierland, waar hy woon, ook gesê hy was verheug toe hy Vrydag verneem het dat Nagel gedeporteer is.

“Dit het ʼn groot las van my skouers afgehaal. Ons het gehoop vir ʼn langer vonnis in die tronk en dat hy van daar na die lughawe geneem is en op ʼn vliegtuig teruggestuur is na Suid-Afrika. Dit sou die ideale manier gewees het,” het hy gesê.

Nagel is in Suid-Afrika gebore, maar is aangeneem as baba voordat hy en sy gesin na Nieu-Seeland geëmigreer het toe hy 10 jaar oud was.

NZ Herald het vroeër berig gedurende Nagel se vonnisopglegging het regter Rachel Dunningham verskeie faktore in ag geneem, waaronder Nagel se jeugdige ouderdom, sy gebrek aan vorige oortredings en sy skuldigpleit. Sy het gesê sy het in Desember sy aansoek om tuisaanhouding toegestaan omdat sy gesien het daar is ʼn “aansienlike element van veroordeling en afskrikking” in die sewe maande lange tronkstraf.

Boonop het deportasie hom in die gesig gestaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vanessa ·

Ons wil hom nie hê nie. Ons sit met genoeg probleme in SA.

Di ·

Nou moet ONS belastingbetalers vir hom sorg! Immigrante (meestal onwettig) wat hier in hegtenis geneem word, word in SA tronke aangehou en ons moet betaal om hulle te onderhou.

domheks ·

Boetie hier gaan jy jou moses teekom. Maar probeer liewer jou portier, los die ou mans uit!

Papsak ·

Ja ons probleme genoeg in SA hou hom daar netnou kom skop hy mense hier ook dood hou hom!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

SA kan seker weier om hom te aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.