SA’ner wen gesogte fotokompetisie

Chris Oosthuizen se foto van ‘n eensame koningpikkewyn tussen kuikens was die alegehele wenner. Foto: Chris Oosthuizen/Britse ekologiese vereniging

ʼn Suid-Afrikaner se foto het ʼn eerste plek behaal in die Britse ekologiese vereniging se gesogte jaarlikse fotokompetisie.

Dr. Chris Oosthuizen, ʼn nadoktorale genoot in die departement dierkunde en entomologie aan die Universiteit van Pretoria, se foto van ʼn eensame volwasse koningpikkewyn wat tussen ʼn klompie kuikens staan, het vir hom die gesogte prys in die sak gebring.

Die onafhanklike beoordelingspaneel het bestaan uit ses ekoloë en bekroonde natuurfotograwe. Oosthuizen het die foto op die subantarktiese Marioneiland geneem.

“Sommige foto’s het die krag om veel meer te sê as woorde,” het prof. Richard Bardgett, president van die Britse ekologiese vereniging, gesê. “Chris se foto, wat die merkwaardige kolonielewe van ʼn ikoniese voëlspesie vertoon, verhoog die bewustheid van hul onseker toekoms weens klimaatsverandering.”

Oosthuizen het die wenfoto geneem terwyl hy besig was met navorsing oor robbe en moordvisse as lid van die 68ste oorwinterspan (2011 tot 2012) vir die Marioneiland-marienesoogdierprogram. Hy het ook as wenner weggestap in die kategorie vir dinamiese ekosisteme met sy foto van ʼn reusestormvoël wat jag gemaak het op ʼn koningpikkewynkuiken.

Oosthuizen is ook die wenner in die kategorie vir dinamiese ekosisteme met sy foto van ʼn reusestormvoël wat jag gemaak het op ʼn koningpikkewynkuiken. Foto: Chris Oosthuizen/Britse ekologiese vereniging

“Fotografie is ʼn belangrike manier om mense by wetenskap te betrek en kan belangrike bewaringsboodskappe oordra,” het dr. Oosthuizen gesê. “Hoewel die wêreldbevolking van koningpikkewyne groot is, het bevolkings wat op subantarktiese eilande woon ʼn onseker toekoms. Klimaatsverandering kan die oseaanfronte waar hulle voed verder wegskuif van waar hulle voed en die pikkewyne dwing om verder te reis.”

Dr. Oosthuizen werk sedert 2007 saam met die Marioneiland-marienesoogdierprogram en het in daardie jaar die eerste keer op Marioneiland oorwinter. Hy het daarna sy MSc- en PhD-grade voltooi en uitgebreide veldervaring opgedoen deur deel te neem aan verskeie nasionale en internasionale navorsingsekspedisies, waaronder ʼn tweede ekspedisie na Marioneiland en somerekspedisies na Antarktika en ander subantarktiese eilande soos Macquarie, Bouvet, King George en Gough.

Die wenfoto’s sal in Desember tydens die Britse ekologiese vereniging se jaarlike konferensie in Birmingham uitgestal word. Dit sal ook van 21 tot 27 Januarie ʼn week lank deur lede van die publiek in Londen besigtig kan word.

Hier volg al die wenfoto’s:

Chris Oosthuizen se foto van ‘n eensame koningpikkewyn tussen kuikens was die alegehele wenner. Foto: Chris Oosthuizen/Britse ekologiese vereniging

In die kategorie vir nabyskote het die foto van ‘n spinnekop in sy web in Spanje gewen. Foto: Roberto Garcia-Roa/Britse ekologiese vereniging

Oosthuizen is ook die wenner in die kategorie vir dinamiese ekosisteme met sy foto van ʼn reusestormvoël wat jag gemaak het op ʼn koningpikkewynkuiken. Foto: Chris Oosthuizen/Britse ekologiese vereniging

Die wenfoto in die kategorie mense en natuur is in Indië geneem. Foto: Nibedita Mukherjee/Britse ekologiese vereniging

Die foto wat in Botswana geneem is, is die wenner in die kategorie vir ekologie in aksie. Foto: Dominik Behr/Britse ekologiese vereniging

In die kategorie vir kuns van ekologie het die foto wat in die Galapagos-eilande geneem is met die titel weggestap. Foto: Mark Tatchel/Britse ekologiese vereniging

In die kategorie enkelinge en groepe het die foto wat in Brasilië geneem is gewen. Foto: Adria Lopez/Britse ekologiese vereniging

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cora Simpson ·

Vreeslik dankie. Die fotos is pragig! Veels geluk Chris.

Johnnie ·

Ai as n mens jaloers is op iets sal jy altyd iets sleg se. Hierdie fotos is pragtig want die natuur is betrokke daarin en nog n ding die mense wat die beoordeling doen weet wat is eg en wat nie. Geluk aan die wenners.

Lola ·

Baie geluk Chris. Ek hoop nou net nie iemand gaan staan en maak ‘n puzzle uit jou foto uit nie, dit sal ‘n moelike een wees :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.