SA’ner wil rekord laat spat vir touspring

SD Heijns (21) wil die Guinness-wêreldrekord vir die meeste touspronge binne agt uur verbeter. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong Pretorianer gaan Vrydag poog om die Guinness-wêreldrekord vir die meeste touspronge binne agt uur te laat spat.

Om die titel as nuwe wêreldrekordhouer op te raap sal SD Heijns (21) minstens 70 031 spronge binne dié tydperk moet voltooi. Dit is ongeveer 8 754 spronge per uur en 145 per minuut.

Die geleentheid begin om 06:00 by die Time Square-arena in Menlyn en sal ook regstreeks uitgesaai word.

“Ek is baie opgewonde. Ek sien veral daarna uit om mense om my te hê, aangesien ʼn mens maar baie alleen oefen met touspring,” het Heijns Woensdag aan Maroela Media gesê.

Dié voormalige duikinstrukteur oefen die afgelope drie maande by die Suid-Afrikaanse laboratorium vir sportwetenskap (SSL) by Loftus Versfeld en spring tot vier dae ʼn week vir een tot twee uur lank tou.

Vrydag sal die eerste keer wees dat Heijns ʼn agt uur lange sessie aandurf.

“Die langste wat ek al gespring het, was ses uur. Ek was toe so 15 000 spronge van my doelwit af weg.”

SD Heijns (21) wil die Guinness-wêreldrekord vir die meeste touspronge binne agt uur verbeter. (Foto: Verskaf)

Sou hy Vrydag suksesvol wees, sal hy die huidige rekordhouer, Sella Rosa Rega van New York in die VSA, onttroon. Rega behou ook die rekord vir die meeste touspronge binne 12 uur (100 464) en 24 uur (168 394).

Heijns het ook sy oog op dié titels en beplan om dit in Junie en Julie te pak. Hy meen Rega se rekord is binne sy vermoë en sê dat touspring ʼn kerndeel van sy fiksheidsroetine gedurende die Covid-19-pandemie gevorm het.

Hy het reeds op 12 jaar daarmee begin as deel van sy skopboksafrigting – ʼn sport wat hy nog tot onlangs beoefen het.

Sy fokus is nou om die touspringrekord na “Suid-Afrika te bring en die grense van die menslike liggaam te beproef”. Hy wil ook ʼn mens se fiksheidspotensiaal deur oefening met minimale toerusting uitbeeld.

SD Heijns tydens ’n duiksessie aan die kus van Aliwal Shoal in KwaZulu-Natal. (Foto: Verskaf)

Om ʼn wêreldrekord aan te durf moet dit by die Guinness Wêreldrekordliggaam geregistreer word. Dit is ook aan ʼn reeks verifiëringsprosesse onderworpe voordat dit as geldig verklaar kan word.

Die SSL sal die geleentheid Vrydag noukeurig moniteer en die aantal touspronge verifieer. ʼn Ondersteuningspan sal ook met spaarspringtoue op bystand wees.

Heijns sê die reëls laat hom toe om blaaskanse tussendeur te vat en weer te probeer indien hy ʼn fout maak. “Sou ek nie ʼn sprong volledig voltooi nie, sal dit van die totaal afgetrek word en dan probeer ek van daar af verder.”

Heijns, ook ʼn adrenalienverslaafde, werk intussen aan ʼn YouTube-kanaal waar hy verskeie ekstreme en dikwels vreesaanjaende aktiwiteite soos valskermspring sal aanpak. Hiermee wil hy mense onder meer inspireer om op ʼn ander manier na hul vrese te kyk. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Vrek moeilik. Kort koordinasie en uithouvermoe. Nie vir my nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.