Sosialemedia-aktiviste het Dinsdag die selfoonnommers van parlementslede gepubliseer en Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle te bel en hulle te oortuig om vir die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma te stem.
Die selfoonnommers is langs die naam van die betrokke LP gepubliseer en die publiek is aangemoedig om ʼn LP te kies en te bel.
Verskeie sosialemediagebruikers het ook boodskappe aan LP’s op sosialemediaplatforms gedeel waarin hulle die LP’s aanmoedig om nie hul getrouheid aan die Grondwet te ignoreer nie en vír die mosie van wantroue te stem aangesien dit “ʼn einde sal bring aan staatskaping”.
Die debat oor die mosie begin om 14:00 in die parlement waarna LP’s deur middel van ʼn geheime stemproses sal stem.
Intussen is opposisiepartye in Kaapstad tesame met organisasies soos Future SA en SaveSA besig met ʼn optog na die parlement in aanloop tot die debat. In Pretoria het honderde EFF-ondersteuners na die Uniegebou opgeruk ter ondersteuning van die mosie van wantroue in Zuma, terwyl ANC-ondersteuners ook saamgetrek het vir ʼn optog ter ondersteuning van Zuma.
???Dit is beslis my dag met daai saak Dean.