SA’ners al hoe meer sku vir Covid-19-entstof

Die navorsers sê die uitslae gee beleidmakers die nodige inligting oor hoe om positiewe houdings teenoor die entstof te verhoog. (Foto: Unsplash)

Inenting teen Covid-19 word steeds deur talle kenners wêreldwyd beskou as een van die suksesvolste maniere om die koronaviruspandemie te bekamp. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar egter toenemende huiwering om ingeënt te word en dit word bestempel as een van die grootste uitdagings vir wêreldwye gesondheid.

Navorsers het houdings jeens Covid-19-inentings ontleed as deel van voortgesette navorsing deur prof. Talita Greyling, ʼn welstandekonoom verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, dr. Stephanie Rossouw, verbonde aan die Auckland-universiteit van Tegnologie, en Afstereo. Die bevindings van die navorsing word aangeteken in wat bekend staan as die Bruto Geluksindeks.

Die span ontleed twiets om die onderliggende sentiment en emosies daaragter te verstaan.

Die navorsing word in tien lande gedoen: Drie in die Suidelike Halfrond (Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië) en sewe in die Noordelike Halfrond (België, Duitsland, Engeland, Frankryk, Italië, Nederland en Spanje).

Oor die algemeen het positiewe houdings teenoor Covid-19-entstof afgeneem en het die inentingsyfer tussen 1 Februarie en 1 Augustus vanjaar met 8% afgeneem.

In Suid-Afrika, wat presies 250 dae gelede met sy inentingsprogram begin het – het dié neiging vandeesmaand steeds voortgeduur.

Volgens die navorsers was daar ʼn daling in positiewe houdings teenoor die entstof in alle lande behalwe België, terwyl Suid-Afrika die grootste afname – altesame 13% – van alle lande toon.

België se inentingsprogram het aanvanklik nie goed gevaar nie en die land het groot lewensverlies ondervind. Die Belgiese regering het egter ʼn Covid-19-taakspan saamgestel om logistieke en kapasiteitsprobleme te pak en negatiewe houdings teenoor die entstof is omgekeer.

“Die daling is teen die verwagting in, omdat ons verwag het dat soos wat inentingsprogramme vorder, mense se vrese daaroor sal afneem en dit hulle meer positief sal maak om ingeënt te word.”

Navorsers sê die vraag wat nou gevra moet word, is waarom mense se positiewe houding teen die entstof afneem. Deur die twiets te ontleed het die span bevind vrees vir die entstof word wel minder, maar ander faktore dra nou by tot ʼn negatiewe sentiment teenoor inenting.

‘n Woordwolk met sommige van die woorde wat Suid-Afrikaners in hul twiets oor die entstof gebruik. (Grafika: GNH.Today)

Daar word onder meer gekyk na watter woorde in verband met negatiewe emosies jeens die entstof gebruik word. “Wanneer die woorde met die hoogste voorkoms ontleed word, het die span gevind dat hoewel mense steeds ʼn vrees vir die entstof het en fopnuus ʼn rol speel, negatiewe emosies dikwels nie gerig is op die entstof self nie, maar op die verspreidingsproses, die verkryging van die entstof en korrupsie wat daarmee verband hou.”

Uitslae was soortgelyk in al die ander lande. In Europese lande, byvoorbeeld, dra beperkings op die vryheid van diegene wat nie ingeënt is nie, by tot ʼn dalende positiewe gevoel teenoor inenting.

Navorsers sê as beleidmakers dié faktore pak wat mense negatief oor inenting maak, die waarskynlikheid groot is dat mense se houding daaroor gaan verbeter.

Sommige van die bevindings lui dat:

  • mense steeds die newe-effekte vrees – hoewel dit al hoe minder word – en dat dit belangrik is om voort te gaan om mense op te voed oor die entstof;
  • mense oënskynlik steeds die voordele van inenting en die regulasies wat ingestel is om die verspreiding van die virus te stuit, opweeg. Diegene wat voel hulle loop die gevaar om die virus op te doen maar nie aan die regulasies wil voldoen nie, kies om ingeënt te word;
  • ontevredenheid oor die verspreiding van die entstof in die Noordelike Halfrond en die beperking op vryheid, ʼn groot rol speel om mense se positiewe gevoelens oor die entstof te laat daal;
  • hoe groter die groep wat ingeënt mag word, hoe beter is houdings teenoor die entstof;
  • ʼn toename in inentings bydra tot ʼn toename in positiewe houdings; en dat
  • deur fopnuus en boodskappe deur diegene gekant teen inenting te pak ʼn positiewe uitkyk oor inenting verhoog kan word.

Die navorsers sê die uitslae gee beleidmakers die nodige inligting oor hoe om positiewe houdings teenoor die entstof te verhoog.

“Beleidmakers moet fokus op die verbetering van vertroue in Covid-19-entstowwe.”

Navorsers sê beleidmakers moet inligting oor die entstowwe in gewone spreektaal deel en mense se vrese, woede en ander negatiewe gevoelens oor die entstof erken terwyl hulle terselfdertyd benadruk dat streng standaarde in die entstofontwikkelingsproses gehandhaaf is.

“Dit kan vertroue in die entstof verhoog.”

Die navorsers beveel ook aan dat regerings beleid in werking stel wat mense se sin vir kollektiewe verantwoordelikheid verhoog en dat positiewe emosies ontlok word wanneer mense besef dat hulle hul gemeenskap se gesondheid en welstand verbeter deur ingeënt te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

81 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vlooitjie

Ek het ‘n vraag. If your vaccine does not protect you, how is my vaccine going to protect you?

Danie

Ek wil graag weet wat mense sien as langtermyn gevolge? Wat is die tydlyn en wie bepaal hierdie tydlyn?

Renier johannes

Ek wil weet hoe kry hulle so gou n entstof maar nog niks vir kanker en hiv nie. Verduidelik die pot snot

Jacob

Hoeveel verstand neem dit om agter te kom dat die entstowwe baie moontlik deel van ‘n massiewe bedrogspul was en is in die opsig dat byvoorbeeld alle alternatiewe behandelings wat bewys het dat dit voorkomend is en sterftes kan verminder, afgemaak is as dieremedisyne, dat hoogs gekwalifiseerde mense verneder is toe hulle bedenkinge uitgespreek het oor die entstowwe en dat dit nou duidelik raak dat dit in werklikheid ondoeltreffend is? As voorbeeld; Dr. Rick Bright, voormalige direkteur van die US Biomedical Advanced Research and Development Authority is uitgeskop gedurende Maart /April 2020 omdat hy die gebruik van hydroxychloroquine vir die… Lees meer »

Stefaan

So ons twiets word gemonitor en ontleed. Wat word nog ontleed en deur wie?