SA’ners blom oor eerste plek vir agapant by Chelsea-skou

Andy de Wet (links) en Quinton Bean (regs) (Foto: Verskaf)

Ná 18 jaar se swoeg en sweet om die perfekte agapant te kweek, het twee Suid-Afrikaanse plantfoendies, Andy de Wet en Quinton Bean, Maandag trane van blydskap gestort toe hulle vanjaar skoonskip gemaak het by die Royal Horticultural Society (RHS) se Chelsea-blommeskou in Londen, Engeland.

Die agapant, “Blackjack”, is by die skou as die nuwe plant van die jaar aangewys.

“Ná die wagtyd van twee weke was dit oorweldigend toe ons hoor dat ons gewen het,” vertel De Wet aan Maroela Media.

“Ons het letterlik ons vingers stompies gewerk om die beste agapant moontlik te kweek. Dit was lekker om erkenning daarvoor te kry.”

Die agapant genaamd Blackjack (Foto: Verskaf)

Die Blackjack, met sy swartpers blomblare, het 15 ander plante op die kortlys in die gesogte kompetisie geklop.

Die kompetisie bestaan uit twee beoordelings: aanvanklik kan lede van die publiek aanlyn vir ’n gunstelingplant stem, waarna plantkenners van oor Europa eindelik oor die wenner besluit.

Blackjack het nie net gewen vir sy unieke groot swartpers blomme wat regop staan en “vir jou kyk” nie. Die feit dat dié inheemse blom gekweek is as ’n sterk groeiende en weelderige plant – en boonop nie baie water benodig nie – het in die Suid-Afrikaners se guns getel.

“Die plant groei gemaklik in enige tuin, mits goeie grondvoorbereiding gedoen word.”

Andy de Wet (Foto: Verskaf)

Volgens De Wet het hul agapant ook ’n langer blomtydperk as die tradisionele agapant.

“Ons agapant blom vir drie maande, terwyl die tradisionele agapant net een keer in ’n seisoen blom.”

De Wet verduidelik die kweekproses was tydsaam en duur – en hulle het ure lange navorsing oor die genus en kweking van die plant gedoen. Duisende geselekteerde agapant-variante is gekruis, gekombineer en dan weer gekombineer om die Blackjack te kweek.

“Ons het 12 000 handbestuiwings per jaar op agapante gedoen, waarvan net twee plante dan die paal haal.”

De Wet en Bean is die eienaars van De Wet-planttelers by The Aloe Farm op Hartbeespoort en die CND-kwekery in Linbropark in Sandton. Laasgenoemde kwekery bestaan al die afgelope 30 jaar.

Die Blackjack, met sy swartpers blomblare, het 15 ander plante op die kortlys in die gesogte kompetisie geklop (Foto: Verskaf)

Die twee het ’n groot passie vir plante en kwekerye.

Hulle het in 2019 die derde plek by die Chelsea-blommeskou met hul agapante behaal. Volgens De Wet het hulle daarna uit hul foute geleer en vanjaar as wenners weggestap.

“Die oorwinning is nie die laaste keer dat mense van ons gaan hoor nie. Ons is nog lank nie klaar nie.”

En as jy self met een van dié pryswenner-agapante in jou tuin wil spog, is die prentjiemooi Blackjack reeds by die twee kwekerye beskikbaar. Voorraad is egter beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariana ·

Wow pragtig!! Nog net altyd die blou/pers en wittes gesien. Wel gedaan

LIEZL ·

Dit is voorwaar pragtig. Ons het Agapantes in ons tuin en een jaar kom kuier ‘n oom en sê die ‘angry panties’ is baie mooi LOL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.