SA’ners eet goedkoper, maar ongesonder – ondersoek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Onlangse ondersoek wat poog om die eetgewoontes van Suid-Afrikaners te peil, dui daarop dat die meeste van ons land se mense eerder die goedkoopste produk in hul voorkeurhandelsmerk sal koop, as om hul eetgewoontes na iets gesonder aan te pas.

En al word vleis al duurder, verkies byna 90% van Suid-Afrikaners steeds ʼn dieet wat grotendeels uit vleis bestaan, eerder as groente.

Die voedselhandelsmerk Knorr het vandeesweek die derde aflewering van sy Plate of The Nation (Pona)- verslag bekendgestel. Hierdie ondersoek poog om Suid-Afrikaners se eetgewoontes beter te verstaan, sowel as die uitdagings wat hulle in die gesig staar om ʼn gesonde dieet te volg en die aanpassings wat gemaak kan word om die toeganklikheid tot gesonde kos te verhoog.

Knorr se jongste navorsing is deur die wêreldwye inligting-, data- en markmetingsfirma NielsenIQ saamgestel.

Die Pona-verslag het bevind dat die koste van ʼn item die primêre oorweging is wanneer kruideniersware en ander benodighede gekoop word.

“Suid-Afrika se sukkelende ekonomie is ʼn knou toegedien deur die Covid-19-pandemie, en geopolitieke ontwikkelings soos die oorlog in Oekraïne het die ekonomiese klimaat verder belemmer, wat hoër voedselpryse tot gevolg gehad het,” lui die verslag.

“Al hierdie faktore het tot ʼn verandering in die gedrag van baie verbruikers gelei, wat nou talle luukshede prysgee om eerder op noodsaaklikhede te fokus – maar steeds nie gesonder eet nie.

“Om huishoudelike uitgawes te bestuur heroorweeg 67% van huishoudings hul besteding op kos en hou hulle eerder by ʼn streng begroting om die maand te oorleef,” lui die verslag.

“Wat die bestuur van kruideniersuitgawes betref verander 66% van huishoudings van handelsmerk, indien die prys van hul gewone handelsmerk styg.”

Altesaam 64% van huishoudings het gesê hulle is geneig om die goedkoopste produk uit opsies van hul voorkeurhandelsmerk te kies. “Dit is ʼn slim manier om steeds hul gunsteling-handelsmerke te gebruik, sonder om hul eetgewoontes prys te gee.”

Groente suig steeds aan agterspeen

Ten spyte van die voortdurende stygings in veral vleispryse verkies Suid-Afrikaners steeds om meer vleis op hul bord te hê as groente.

Die verslag wys huishoudings vul hul borde met 41% stysel en 27% vleis, wat beteken meer vleis is vanjaar geëet as verlede jaar (26%). Groente maak nou slegs 13% van borde uit – ʼn afname van 14% op 2021.

Hoewel die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners steeds vleiseters is, wys die verslag dat altesaam 10% van Suid-Afrikaners nou fleksitariërs is, oftewel semi-vegetariërs, teenoor die 6% van verlede jaar. Fleksitariërs is mense wat hoofsaaklik ʼn vegetariese dieet volg, maar soms vleis of vis eet.

Altesaam 1% van Suid-Afrikaners is vanjaar vegetaries, 0,1% is pesketaries (eet vis) en minder as 0,1% is veganiste.

Eetgewoontes kan beter

Volgens die Eatwell-bordsamestelling, soos uiteengesit deur die Universiteit van Cambridge in Engeland en Brittanje se nasionale gesondheidsdiens (NHS), behoort Suid-Afrikaners se porsies heelwat anders te lyk as wat dit nou is.

Vleisprodukte en stysel behoort onderskeidelik slegs 12% en 32% van ʼn mens se bord uit te maak, terwyl groente 33% behoort te wees, suiwel 15% en vette en olies 8%.

“Al het ons nie ʼn beduidende verandering in mense se eetgewoontes gesien nie, glo ons dat met konsekwente boodskappe oor die belang van beter eetgewoontes, Suid-Afrikaners eindelik na ʼn beter toekoms met betrekking tot hul eetgewoontes en gesondheid sal beweeg,” het Nicole Harris, bemarkingsbestuurder by Unilever Food Solutions, gesê.

Knorr het reeds vandeesweek ʼn gesondheidsveldtog van stapel gestuur in die hoop dat verbruikers aangemoedig sal word om kos in hul agterplase aan te plant en dit te eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Grassie ·

Daardie universiteit kan maar hul diëte uitwerk soos hulle wil, maar ‘n boer en’n Boer eet vleis. Soos baie ander eet ek nou kleiner porsies en los maar die skaapvleis bietjie uit maar ‘n ete sonder vleis is nie ‘n ete nie. Jy sal sooibrand of so iets daarvan kry.

Miskruier ·

Vleis en groente voorsien al ons vitamiene en minerale, dit voorkom die skommeling van bloedsuiker vlakke, dit voorkom ” oorvreet” want dit het nie die bygevoegde chemikalië wat in fabriek kos bygevoeg word nie. Is dit nie juis in die tyd nodig om gesond te eet nie??

Snowball ·

Die politici kies tussen fillet en ‘rib-eye’, dalk tussen kreef of salm; hulle kiesers moet besluit of dit vanaand pap is of brood.

VaalDonkie ·

Ons is nie bokke nie. Ons kannie net blare vreet nie. Die mens is veronderstel om vleis te eet en ‘n bietjie groente. Dis nie nodig om ‘n hele skaap op een slag op te eet nie, maar jy is veronderstel om elke dag vleis in te kry.

piet ·

Meeste kan dit ongelukkig nie bekostig nie, dis ‘n feit soos ‘n koei.

May10 ·

Alhoewel vleis sekere voedingstowwe verskaf wat plante nie verskaf nie, is vleis eet nie nodig vir jou gesondheid of oorlewing nie. Met toepaslike beplanning en aanvullings kan plantgebaseerde diëte die voedingstowwe verskaf wat jou liggaam nodig het.

piet ·

French polony is ook al wat nog bekostigbaar is. Die ander polonies is so vrek duur jy kan maar net sowel ordentlike vleis koop.

KatjieDeKat ·

Brood is nie eens n opsie vir my nie, ek het Celiac Disease. So ek leef maar in die dag op piesangs en yogurt. Saans vleis met rys of aartappels en een of twee groente. Die vleis is gewoonlik hoender of vark. Vark is darem nog bekostigbaar. Mens kan baie met hoender doen. Die rooivleise se pryse is mal, net so af en toe koop ek tenderised steak. Maar met die pryse van elektrisiteit, brandstof en kos in die algemeen is dit eintlik goedkoper om 3 blokke te loop en goedkoop slap chips by die Pakistani te koop. Wens mens kon gesond leef terwyl jy dit elke dag kon doen, sou Baie geld spaar!

Chantel ·

Varsproduktemarkte is steeds goedkoper as PnP of Checkers. Ek koop veeleerder my varsprodukte daar. Mens kan net nie meer klaargemaakte produkte bekostig nie.

Manie ·

Asook die kwaliteit? ‘n Vooraanstaande groente/vrugte mark se produkte grens deesdae aan varkkos.

KatjieDeKat ·

Koop by die mamas op straat. Hier waar ek woon in Mpumalanga is hul groente uitstekend, vars en bekostigbaar.

KatjieDeKat ·

Wat ek ook kan voorstel: Koop jul groente by die mamas op straat of langs die pad. Ek woon in n klein dorpie in Mpumalanga en koop my groente by die mamas, altyd vars en gesond en bekostigbaar. Soms is Shoprite goedkoper met hulle wortels maar in die algemeen verkies ek die mamas se groente plus jy help n vrou om haar huishouding aan die gang te hou.

Nerina ·

Vleis direk van die veld is super gesond want beeste en skape eet natuurlike weiding. Ongelukkig is die verbruiker so gebreinspoel dat vleis ongesond is maar daar word nie vir hom gesê dat die rede waarom die vleis op die rak so ongesond is nie, is omdat dit uit ‘n voerkraal kom waar die diere met mielies en ander grane gevoer word nie en vol antibiotika gespuit word!!! Koop direk van die boer en dring aan op vleis direk van die veld!! Waarom dink julle is die skaapvleis uit die Karoo so gewild?

piet ·

As jy nog deesdae gereeld duur vleis kan aanskaf, moet jy jouself as bevoorreg sien.

May10 ·

Ek eet al 12 jaar nie vleis nie. Ek is gesond en fiks, voor dit het ek ongelooflik gesukkel met my gesondheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.