SA’ners gaan die naweek bibber

(Argieffoto: Pixabay.com)

Nadat twee opeenvolgende kouefronte reeds dié week die land inbeweeg het, voorspel die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ook ’n derde kouefront wat die land aan die einde van die naweek sal tref. Suid-Afrikaners is Donderdag reeds met kouer weer begroet en temperature sal na verwagting hierdie naweek verder daal.

Maroela Media het vroeër berig die eerste kouefront het Donderdag die suidelike, westelike en oostelike dele van die Wes-Kaap getref. Volgens Tokelo Chiloane, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), is ’n tweede kouefront kort op die eerste een se hakke en het Vrydag die land inbeweeg.

Chiloane sê die weerdiens voorspel dat ’n derde kouefront teen Maandag die westelike dele van die Wes-Kaap sal tref en verdere bibberweer tot gevolg sal hê.

Suid-Afrikaners in veral die Noord-Kaap, Vrystaat en hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap kan hulle die naweek staal vir koue weer. Volgens Chiloane sal die temperature van Vrydagaand af ook in Gauteng, die hoëveld van Mpumalanga en KwaZulu-Natal daal.

“Ligte sneeu kan oor die Oos-Kaapse berge verwag word, maar nie tot so ’n mate dat enige groot ontwrigting verwag word nie,” sê Chiloane.

Sneeu het ook Donderdag in die Sutherland-omgewing en Wes-Kaapse berge geval.

Die eerste ryp vir die winter het Dinsdag in Bothaville in die Vrystaat geval, terwyl dele van die gebied tot -3 °C gedaal het.

Volgens die weerdiens kan Sutherland in die Noord-Kaap ’n minimum van -4 ˚C en ’n maksimum van 15 °C teen Saterdag verwag. Bloemfontein kan ’n minimum van 1 ˚C en ’n maksimum van 17 ˚C verwag, gevolg deur Bethlehem met ’n minimum van 0 ˚C en ’n maksimum van 16 ˚C. In die Oos-Kaap kan Cradock die naweek ’n minimum van 1 ˚C en ’n maksimum van 16 ˚C aanteken.

’n Maksimum van 17 °C en ’n minimum van 10 °C word Saterdag vir Kaapstad verwag. ’n Maksimum van 18 °C en ’n minimum van 2 °C word vandag vir Beaufort-Wes verwag.

In Noordwes kan inwoners van Potchefstroom en Rustenburg ’n maksimum van 20 °C en ’n minimum van onderskeidelik 4 °C en 5 °C teen Saterdag verwag. Inwoners in Pietermaritzburg kan ook temperatuurdalings ervaar en kan teen Saterdag ’n maksimum van 16 °C en ’n minimum van 10 °C verwag.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir sterk wind is vir Vrydag langs die kus tussen Kaap Agulhas en Margate uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Dit is winter .

Menan

… en dan sal een of ander ding by Eskom weer ingee en beurtkrag weer ingestel word.

Shady

“Winter is comming”

Geurt

Ons moet onthou dit ryp maw die temperatuur daal onder vriespunt. Ryp “val” nie soos sneeur of reën nie.