Nie een van die agt Suid-Afrikaners in die Sale Sharks se beginspan het Vrydagaand die knie voor hul wedstryd teen Harlequins gebuig nie.
Rob du Preez (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Dan du Preez (agtsteman), Jono Ross (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Jean-Luc du Preez (slot), Akker van der Merwe (haker) en Coenie Oosthuizen (stut) het egter steeds gewys dat hulle teen rassisme gekant is deur T-hemde te dra met die woorde ‘Rugby against Racism’ daarop.
Marland Yarde, Tom Curry, Simon Hammersley en Sam Hil was die enigste spelers in Sale se beginspan wat die knie gebuig het.
Die Engelse senter Manu Tuilagi het ook staande gebly.
Vroeër in die week het Ross – wat vir die Blou Bulle in Suid-Afrika gespeel het – gesê dat sy span teen enige vorm van rassisme gekant is. “Ek dink nie dat enigiemand in ons span of in die hele kompetisie rassisties is nie. Ons sal Vrydagaand (gedurende die wedstryd teen Harlequins) as span op ’n verenigde front wys dat ons teen rassisme gekant is,” het hy gesê.
Daarteenoor het Harlequins – wat die Sale Sharks met 16 – 10 geklop het – besluit om die Black Lives Matter-beweging te steun. “As spelers staan ons saam in die stryd teen rassisme en ons is trots om die positiewe boodskap te ondersteun: Black Lives Matter. Terselfdertyd onderskryf ons geen politieke ideologie nie. Ons is verenig in die stryd teen rassediskriminasie; in ons sport en samelewing,” is daar in ’n verklaring geskryf.
Anthony Watson, die heelagter van Engeland en Bath, het gesê dat spanne daarteen moet waak om iets op hul spelers af te dwing. “Mense moet ’n keuse hê om die knie te buig. Sodra iets op iemand afgedwing word, is dit sinneloos,” het hy gesê.
Sale Sharks: Simon Hammersley (heelagter), Byron McGuigan (regtervleuel), Manu Tuilagi (buitsenter), Sam Hill (binnesenter), Marland Yarde (linkervleuel), Rob du Preez (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Dan du Preez (agtsteman), Tom Curry (flank), Jono Ross (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Jean-Luc du Preez (slot), Will-Griff John (stut), Akker van der Merwe (haker) en Coenie Oosthuizen (stut). Plaasvervangers: Curtis Langdon, Ross Harrison, Jake Cooper-Woolley, James Phillips, Ben Curry, Will Cliff, AJ MacGinty en Denny Solomona.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
19 Kommentare
Buig eerder die knie om te praat, te vra en dankie te sê. Knie-buiging vir (enige) mensgemaakte beweging is buite die kwessie.
Snaaks hoe die spelers in SA die knie buig vir BLM, maar kwotas in dwing pla nie dieselfde spelers nie.
Lives matter. As daar kleur vooraf gesit word, DAN is dit rassisme
Of julle buig of nie, die feit is dat alle sport in SA deurtrek is van rassisme en dit moet verander voor die meeste van ons weer ons ondersteuning aan die sport of hulle borge sal gee
positieve boodskap black lives matter??? Dalk weet hulle nie hoe om google te gebruik nie.