SA’ners gewaarsku oor donderweer, hael

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Blou (of eerder nat) Maandag word vir groot dele van die land voorspel en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ʼn waarskuwing vir swaar donderbuie, hael en vloede in verskeie provinsies uitgereik.

Weerdiens sê ’n 80%-kans vir reën word vandag in die oostelike dele van Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo, sowel as die noorde van KwaZulu-Natal verwag. Dít terwyl ʼn 30%‑ tot 60%-kans vir reën in die oostelike dele van die res van die land voorspel word.

Kumsa Masizana, weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê matige reënval word verwag met tussen 20 mm tot 30 mm reën wat na verwagting oor die volgende 24 uur in Gauteng en Mpumalanga sal uitsak.

Die weerdiens monitor tans dele van die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga vir vloede.

Waarskuwings vir ernstige donderbuie is vanoggend in die weste en sentrale dele van Noordwes sowel die sentrale en oostelike dele van die Vrystaat uitgereik. Dit sluit in Mahikeng en Bloemfontein, waar sterk winde en moontlik hael kan voorkom.

Masizana sê die nat weerstoestande in Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo gaan nie gepaard met uitermatige koue temperatuur nie hoewel dit vandag effens koeler en bewolk in die geraakte provinsies sal wees.

Geïsoleerde reënbuie en donderstorms sal na verwagting tot en met Saterdag in die ooste van die land voorkom met ’n 60%-kans vir reën Dinsdag in Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Masizana sê ’n bo normale nat somer word in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Dankie Vader vir die wonderlike reen! Dit sal dalk ook help om plaasbrande te verminder.

Piet ·

Ek glo nie die berig nie. My versekering het my nog niks laat weet nie.

summie ·

Dit was wonderlik wees, dis tans baie droog, veral naby die Wildtuin.

Wielspore ·

Laeveld is koud en nat, die reen val mooi, dit is welkom, mens kan omtrent die plante hoor groei.
Gister middag het die Piet my vrou geroep, dit was sy belofte van reen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.