SA’ners gewaarsku teen verhoogde malaria-risiko

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het Donderdag gewaarsku dat ʼn groot deel van Suid-Afrika se bevolking ná die onlangse Paasnaweek en die komende langnaweek teruggekeer het óf gaan terugkeer van gebiede waar daar ʼn malaria-risiko is, binne sowel as buite die landsgrense.

Voorlopige data van die departement van gesondheid dui daarop dat die totale aantal malaria-gevalle in die drie provinsies waar malaria endemies aangetref word, naamlik noordoostelike Limpopo, oostelike Mpumalanga en die noordelike KwaZulu-Natal, die afgelope drie weke toegeneem het.

Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van Nios, het gesê sommige van die gevalle is waarskynlik reisigers wat van Mosambiek af die land binnegekom het.

“Enigiemand wat die afgelope tien dae tot drie weke in ʼn malariagebied was en wat siek word met verkouesimptome soos hoofpyn, spierpyne, seer gewrigte, rillings, koors, sweterigheid, naarheid en braking moet onthou dat malaria ʼn moontlike oorsaak kan wees en moet mediese advies inwin,” het Jimoh gesê.

Dit moet volgens haar ʼn bloedtoets insluit wat herhaal moet word indien nodig.

Nios het benadruk reisigers gesondheidsbeamptes moet inlig van hul reise en moontlike blootstelling. Nios het verder daarop gewys dat teen-muskiet-maatreëls soos muskietnette, insekweerders en voorkomende medisyne nie ten volle beskerming teen malaria bied nie.

“Baie mense sal saans buite eet en kuier en vergeet om hul vel te beskerm, veral hul enkels waar muskiete graag byt. Vertraagde diagnose kan meer ernstige siekte tot gevolg hê met die gevaar van ernstige komplikasies of selfs die dood,” het Jimoh gesê.

Nios het verder gewaarsku dat bosluisbytkoors ʼn ander potensieel ernstige infeksie is wat in die Bosveld, op wildplase of op ander plase opgedoen kan word. “Dit kan in vroeë stadiums klinies soos malaria voorkom met koors en erge hoofpyn.”

Jimoh het gesê indien jy ʼn bosluis van enige grootte op jou kry kan dit ʼn teken van infeksie wees. Sy het gesê ʼn klein swart rofie met omringende inflammasie wat soms met vergrootte en sensitiewe limfnodes gepaardgaan, is hoogs aanduidend van ʼn geïnfekteerde bosluisbytplek en dringende mediese aandag word aanbeveel.

Nios het verder gewaarsku dat muskiete kan “taxi ry” in voertuie wat terugkeer van malariagebiede en so kan die infeksie aan nie-reisigers oorgedra word. Dit staan bekend as “taxi malaria”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.