SA’ners het in 2018 hierna op Google gesoek

Argieffoto

Google het onthul waarna Suid-Afrikaners in 2018 die meeste gesoek het op dié internetsoekenjin.

Heel bo aan die lys van mees gesoekte terme was die 2018 Wêreldbeker se wedstrydbepalings. Fifa se 21ste Wêreldbekersokkertoernooi is van 14 Junie tot 15 Julie in Rusland aangebied. Frankryk is as die wêreldkampioen gekroon.

Beurtkrag is die tweede mees gesoekte term op die lys. Suid-Afrikaners het van November af weer beurtkrag begin beleef.

Argieffoto

Die Global Citizen-fees wat begin Desember in Johannesburg plaasgevind het, was die derde mees gesoekte term. Die fees het by die FNB-stadion naby Soweto, suid van Johannesburg, plaasgevind en is aangebied ter ere van Nelson Mandela wat vanjaar 100 jaar oud sou geword het. Talle internasionale musieksterre soos Beyonce, Jay-Z, Ed Sheeran en Usher het tydens die konsert opgetree.

Oudpres. Jacob Zuma is in die vierde plek op die lys. Zuma het op 14 Februarie as president bedank na volgehoue druk. Zuma het ook reeds verskeie kere vanjaar in die hof verskyn en word deur 16 aanklagte in die gesig gestaar, wat bedrog, korrupsie en rampokkery insluit. Sy saak gaan op 20 Mei 2019 voort.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

Winnie Madikizela-Mandela wat in April vanjaar dood is, is vyfde op die lys. Die ANC-struggle-veteraan en eksvrou van oudpres. Nelson Mandela is in die ouderdom van 81 dood.

Jabulani Tsambo, die Suid-Afrikaanse hip-hop-ster, beter bekend as Hip Hop Pantsula of HHP, is sesde op die lys. HHP het in Oktober vanjaar sy eie lewe geneem. Hy was 38 jaar oud.

Listeriose is in die sewende plek op die lys. Altesaam 1 024 gevalle van listeriose is sedert Januarie 2017 by die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) aangemeld en meer as 200 mense is dood. Talle produkte is herroep nadat die uitbreking bevestig is.

 

‘n Mikroskopiese blik op listeriose.

Black Panther het nie net skoonskip by die loket gemaak nie, maar is ook in die agtste plek van Google se mees gesoekte terme in Suid-Afrika. Dié rolprent het geskiedenis gemaak in verskeie opsigte en is op die lys van die rolprente wat die meeste geld nóg by die loket verdien het.

Meghan Markle is in die negende posisie op die lys. Die hertogin van Sussex het in Oktober bekend gemaak sy is swanger nadat sy en prins Harry, die hertog van Sussex, in Mei vanjaar in die St. George-kapel in Windsor naby Londen getroud is.

Mac Miller is tiende op die lys. Malcolm James McCormick, beter bekend as Mac Miller, was ʼn Amerikaanse sanger, kletsrymer en vervaardiger. Hy is in September vanjaar aan ʼn oordosis dwelms dood. Hy was 26 jaar oud.

President Cyril Ramaphosa
(Oktober 2018) Foto: Kopano Tlape/GCIS

Suid-Afrikaners het ook na talle plaaslike bekendes op Google gesoek en hierdie was die gewildstes:

  1. Jacob Zuma
  2. Cyril Ramaphosa
  3. Sbahle Mpisane
  4. Kevin Anderson
  5. Malusi Gigaba
  6. Ashwin Willemse
  7. Patrice Motsepe
  8. Cheryl Zondi
  9. Shamila Batohi
  10. Mlindo the Vocalist

Die gelukkige paartjie vertrek na Frogmore House. Foto: AP Photo.

Suid-Afrikaners het ook talle vrae vir Google gehad en hierdie was die gewildstes:

  1. Hoe is Avicii dood?
  2. Hoe oud is Pharrell Williams?
  3. Wat is listeriose?
  4. Wat is ‘black data’?
  5. Hoe oud is prins Harry?
  6. Hoeveel kos Global Citizen-kaartjies?
  7. Hoe om swanger te word?
  8. Hoe laat is die koninklike troue?
  9. Wat het met HHP gebeur?
  10. Hoe oud is Meghan Markle?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.