SA’ners het in 2020 hierna op Google gesoek

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Google het onthul waarna Suid-Afrikaners in 2020 die meeste gesoek het op dié internetsoekenjin.

Heel bo aan die lys van mees gesoekte terme was die koronavirus. Dit was ook wêreldwyd die mees gesoekte term op Google in 2020. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Covid-19 in Maart tot ʼn pandemie verklaar.

Die vlak 3-inperking was die vierde mees gesoekte term. Covid-19 het tot inperkings in tientalle lande en al meer as 1,7 miljoen sterftes wêreldwyd gelei. Die verbod op die koop van sigarette tydens die land se streng inperking was die agtste mees gesoekte term.

Donald Trump en Joe Biden. (Foto: Patrick Semansky/AP)

Suid-Afrikaners wou ook weet wat die jongste inligting was rakende die Amerikaanse verkiesing en dit is die tweede mees gesoekte term. Die uitslag van die presidensiële verkiesing is betwis nadat Joe Biden as die wenner aangewys is en pres. Donald Trump volgehou het dat verkiesingsbedrog plaasgevind het.

Sasol se aandeelprys was die derde mees gesoekte term. Sasol se aandeelprys het in Maart met meer as 40% getuimel.

Kinderdag, wat jaarliks in Suid-Afrika op die eerste Saterdag in November gevier word, was die vyfde mees gesoekte term. Onderwysersdag, wat wêreldwyd op 5 Oktober gevier word, was die negende mees gesoekte term.

Die sesde mees gesoekte term was Hantavirus, ’n dodelike siekte, wat vroeër vanjaar in China versprei het.

Beurtkrag het ook weer die lys van mees gesoekte terme gehaal – die keer in die sewende plek. Dit was in 2019 die term wat die meeste gesoek is deur Suid-Afrikaners. Die land het vanjaar weer verskeie kere beurtkrag beleef.

2020 was ’n skrikkeljaar en die term skrikkeldag, 29 Februarie, was die tiende mees gesoekte term.

Suid-Afrikaners het ook na talle plaaslike bekendes op Google gesoek en hierdie was die gewildstes:

Katlego Maboe. (Foto: Instagram)

  1. Katlego Maboe
  2. Nikita Murray
  3. Edwin Sodi
  4. Lerato Kganyago
  5. Menzi Ngubane

Suid-Afrikaners het ook talle vrae vir Google gehad en hierdie was die gewildstes:

  1. Hoe doen mens aansoek vir ’n werkloosheidstoelaag?
  2. Wie het die verkiesing gewen?
  3. Hoe laat praat die president vanaand?
  4. Wat is die koronavirus?
  5. Wat is 5G?

Suid-Afrikaners wou ook weet hoe om hul eie handreinigingsmiddel te maak en waar hulle bier kon koop tydens die inperking.

Mees gesoekte resepte:

Pynappelbier (foto: Lapa-uitgewers)

  1. Pizzadeeg
  2. Oliebolle
  3. Pynappelbier
  4. Piesangbrood
  5. Pannekoek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.