SA’ners het in 2021 hierna op Google gesoek

Google het onthul waarna Suid-Afrikaners in 2021 die meeste gesoek het op dié internetsoekenjin.

Van die gewildste soekterme was rakende toelae van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), die uitslae van die afgelope verkiesing en groot sportgebeurtenisse soos die Euro 2020, Pakistan vs Suid-Afrika en Wimbledon.

Suid-Afrikaners het ook na talle plaaslike persone op Google gesoek en Jacob Zuma verskyn bo aan dié lys.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die voormalige president is in Julie in hegtenis geneem en het sy tronkstraf in die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal begin uitdien. Hy is in September mediese parool toegestaan maar vroeër die maand het regter Elias Matojane in die Pretoriase hooggeregshof beslis dat Zuma se vrylating op mediese parool onreëlmatig was en dat hy moet terug tronk toe.

Suid-Afrika het ook gesoek na Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC. Magashule staan tereg op verskeie aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery.

Dié aanklagte hou verband met ’n ondersoek na ’n R255 miljoen-tender wat tydens Magashule se termyn as premier van die Vrystaat vir ’n ondersoek na asbesdakke in die provinsie toegeken is.

 

Suid-Afrika se Olimpiese swemmer Tatjana Schoenmaker (Foto: @southafricasportimages en @Team_Mzansi/Instagram)

Carl Niehaus en Tatjana Schoenmaker was van die ander plaaslike persone wie se name gereeld op die soekenjin ingetik is.

Squid Game, Bridgerton, Red Notice, Black Widow en Friends Reunion was van die rolprente en TV-programme wat die meeste deur Suid-Afrikaners gesoek is.

Suid-Afrikaners het ook talle vrae vir Google gehad en hierdie was van die gewildstes:

  • Wat is ʼn noodtoestand?
  • Wat is Covid-19?
  • Wat is mensehandel?
  • Wat is ivermektien?
  • Wat is aardverwarming?
  • Hoe doen ʼn mens aansoek vir die R350-toelaag?
  • Hoe registreer ʼn mens vir die inenting?
  • Hoe registreer ʼn mens aanlyn om te stem?
  • Hoe eis ʼn mens WFV aanlyn?
  • Hoe drink ʼn mens ivermektien vir Covid?

Wêreldwyd was die gebeure in Afghanistan een van die mees gesoekte terme op Google. Die skietongeluk waarby die akteur Alec Baldwin betrokke was, Squid Game en die Covid-19-inentings was van die ander gewildste soekterme regoor die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.