SA’ners het moed vir 2021 – peiling

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Die meerderheid van die Suid-Afrikaners wat einde verlede jaar deelgeneem het aan ʼn aanlyn peiling beskou verlede jaar as ’n besonderse slegte jaar en glo nie dat dinge vinnig na normaal gaan terugkeer nie.

Tog was Suid-Afrikaners versigtig optimisties dat 2021 ’n beter jaar vir hulself én die land gaan inhou.

Die marknavorsingsfirma Ipsos het tussen 23 Oktober en 6 November 2020 wêreldwyd 23 000 aanlyn onderhoude in die meeste van die ontwikkelende lande, insluitend Suid-Afrika, gevoer.

Dié peiling toon dat 95% van Suid-Afrikaners 2020 as ’n slegte jaar vir hulle en hul geliefdes beskou het. Soveel as 60% glo dit is onwaarskynlik dat die lewe weer na normaal sal terugkeer ná die Covid-19-pandemie. Driekwart van die Suid-Afrikaners wat aan die peiling deelgeneem het, sê boonop dit is onwaarskynlik dat die ekonomie ten volle sal herstel.

Byna nege uit elke tien (89%) Suid-Afrikaners het nietemin aangedui dat hulle van plan is om die persoonlike voornemens wat hulle vir hulself gestel het na te streef. Die peiling wys dat Suid-Afrikaners nog altyd positiewer as die wêreld se gemiddelde was. Die meerderheid van die deelnemers (77%) was optimisties dat 2021 ’n beter jaar sal wees.

“Dit dui moontlik daarop dat ons ʼn hoopvolle nasie is wat daarna streef om die beste van ʼn moeilike saak te maak.”

Dit blyk verder uit die peiling dat mense wêreldwyd optimisties is daaroor dat ʼn suksesvolle entstof in 2021 wyd beskikbaar sal wees in die lande waarin hulle woon, met 60% van mense rego or die wêreld wat glo dat dit “waarskynlik” sal gebeur.

Ipsos wys egter daarop dat Suid-Afrikaners minder optimisties was oor die verspreiding van die Covid-19-entstof.

Die res van die wêreld en Covid-19

China het verreweg die meeste optimisme met 9 uit 10 (89%) van dié land se mense wat glo dat ʼn suksesvolle entstof algemeen beskikbaar sal wees.

Wêreldwyd glo slegs drie uit 10 (30%) mense wat aan die peiling deelgeneem het, dat die wêreld ten goede sal verander as gevolg van die pandemie.

Die meerderheid (61%) wêreldwyd meen dat hulle nog ʼn jaar lank ʼn masker in die openbaar sal moet dra. Daar is slegs vyf lande, onder meer Swede (18%) en Nieu-Seeland (30%), waar die minderheid deelnemers dink dit is waarskynlik dat mense vir nog ʼn jaar lank maskers sal moet dra.

Byna die helfte van die deelnemers wêreldwyd (47%) glo dat daar vorentoe nóg ʼn wêreldwye pandemie gaan uitbreek, wat deur ʼn nuwe virus veroorsaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Werner ·

Soos die syfers deesdae gekook word twyfel ek of n mens dit kan glo.Kan nie dink dat daar so n lot naiewe mense is nie.

Charles ·

Die lot is maar met min tevrede, daar is min om oor opgewonde te raak deesdae wereldwyd..

Brett ·

Geen kommentaar gaan beter maak wat ons voorlê nie……. Mag die publiek ons boere ondersteen…….. Meer boere in die boere markte op vlooi markte. Terug na die dae sonder sonder die mark agent aasvoëls…… En ketting winkel belaglike pryse……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.