SA’ners in Ekwatoriaal-Guinee se families pleit by regering: ‘Gryp in’

Peter Huxham en Frik Potgieter. (Foto’s: Verskaf)

Peter Huxham en Frik Potgieter se geliefdes het net één wens en dit is dat hulle hierdie Kersfees tuis sal wees.

Dié twee Suid-Afrikaanse ingenieurs dien tans tronkstraf in Ekwatoriaal-Guinee uit op dwelmverwante aanklagte. Huxham en Potgieter se geliefdes is egter oortuig van hul onskuld en hou vol die aanklagte teen hulle is vals.

Hulle pleit nou opnuut by die Suid-Afrikaanse regering om in te gryp sodat Huxham en Potgieter huis toe kan kom. Hulle sê dit is immers deel van die regering se mandaat en verantwoordelikhede om sy landsburgers by te staan en te beskerm.

“Dit is al meer as nege maande sedert Frik en Peter op vals aanklagte in hegtenis geneem is en daar is geen teken dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn punt nader om hul vrylating te verseker nie,” sê Francois Nigrini, woordvoerder van die Huxham-familie.

Volgens Nigrini was daar vroeër vanjaar ʼn paar produktiewe vergaderings met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), maar sedert Augustus heers daar doodse stilte.

“As die families van hierdie twee onskuldige mans moet ons weet watter vordering gemaak word rakende pogings om dié ouens weer by die huis te kry.”

Daar word beweer dat Huxham en Potgieter se inhegtenisnemings verband hou met die beslaglegging op ʼn superseiljag en luukse eiendomme in Kaapstad wat aan Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident, Teodoro Nguema Obiang Mangue, behoort.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrikaanse owerhede het op 7 Februarie beslag gelê op twee huise en ʼn superseiljag wat aan Mangue behoort nadat ʼn Suid-Afrikaanse sakeman hom gedagvaar het vir onwettige inhegtenisneming en marteling.

Daniel Janse van Rensburg is 491 dae lank onwettig in ʼn berugte tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou én gemartel nadat ʼn saketransaksie in 2013 skeefgeloop het.

Huxham en Potgieter is enkele dae ná die beslagleggings in hegtenis geneem.

“Die rede waarom ons ons regering nodig het om in te gryp, is omdat dit ʼn geheel en al politieke aangeleentheid is wat slegs deur ʼn politieke oplossing besleg kan word,” sê Shaun Murphy, woordvoerder van die Potgieter-familie.

“Peter en Frik is onskuldige omstanders wat vasgevang is in sake wat niks met hulle te doen het nie. Kan jy jou indink hoe totaal magteloos en benoud hulle moet voel?”

Murphy sê Peter en Frik se families is teen hierdie tyd desperaat.

“Kersfees is om die draai – ʼn baie belangrike tyd vir hierdie diep Christelike gesinne – maar sonder Frik en Peter by die huis sal dit byna onmoontlik wees vir die gesinne om die viering [van Kersfees] te geniet.”

Huxham, van Langebaan aan die Weskus, en Potgieter, van George in die Wes-Kaap, is op 9 Februarie vanjaar op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo in hegtenis geneem nadat die polisie glo dwelms in Potgieter en Huxham se bagasie in hul hotelkamers gevind het; dié bewerings klop glad nie aangesien die polisie glo nie eens op die bagasie beslag gelê het nie.

Die twee mans werk al jare lank as ingenieurs vir ʼn Nederlandse olie- en gasmaatskappy, Single Buoy Mooring (SBM), en sou die volgende dag weer huis toe keer.

Potgieter en Huxham het in daardie stadium in verskillende afdelings van die maatskappy gewerk en was net kennisse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Sonder regstellende aksie sou dit nie nodig gewees het vir dié 2 manne om in sulke simpel gevaarlike lande te gaan werk nie. En ja, met hulle “verkeerde” velkleur sal ons simpel anti-wit regering ook niks help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.