SA’ners in haglike kwarantyn eindelik getoets

Die stortingsplek raak daagliks erger (Foto: Skermskoot)

Die departement van gesondheid het Dinsdagoggend die groep van 107 Suid-Afrikaners wat in die Zithabiseni-kwarantynkamp vasgekeer is vir Covid-19 begin toets. Dit volg nadat die groep al nege dae noodgedwonge in vuil en onveilige toestande moet tuisgaan.

Leon en Melanie Nel van Midrand, ’n egpaar wat tans in die kamp vertoef, sê die departement het hulle Maandagaand verwittig dat die toetse Dinsdagoggend uitgevoer gaan word. Hulle is deel van ʼn groep Suid-Afrikaners wat van Mosambiek gerepatrieer is en toe noodgedwonge by Zithabiseni in kwarantyn geplaas is.

“Ons het geen idee hoe lank dit gaan duur voordat die toetsuitslae bekendgemaak word nie, maar klink my hulle is agter met die toetse. Die toetse is ook geen waarborg dat ons wel voor dag 14 huis toe sal kan gaan nie,” sê Melanie.

Die 19-jarige Skye van der Linde wat ook tans in die kamp vertoef, is reeds getoets en hoopvol om dalk gouer huis toe te kan gaan as wat beplan is. “Die tyd hier raak nou lank en onaangenaam. My pa stres oor my welstand omdat die geriewe gesondheidsrisiko’s vir ons inhou,” vertel Van der Linde.

Die stortingsplek vir vullis en mediese afval teen Dinsdag (Foto: Skermskoot)

Maroela Media het vroeër berig dat die inwoners van dié kamp by die departement gepleit het om hulle te toets sodat hulle huis toe kan gaan. Leon het ’n span mediese diensverskaffers in sy private hoedanigheid probeer reël om die mense in die kamp te toets, maar hulle is weggewys. ’n Span private mediese diensverskaffers wat deur AfriForum gereël is om mense by die kamp te toets, is Saterdag ook toegang tot die perseel geweier.

AfriForum het ’n dringende skrywe aan die ministers van gesondheid en Dirco gestuur om te eis dat die inwoners van die kamp getoets en vrygelaat moet word sodat hulle hulself kan isoleer indien nodig.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, sê AfriForum het die saak op die hofrol van die hooggeregshof in Pretoria geplaas en die saak gaan Woensdag omstreeks 10:00 aangehoor word.

“Die departement het mediasie aangevra en ons het daartoe ingestem. Die feit dat die mense al getoets word, wys darem dat ons vordering maak met die saak,” sê Roets.

Intussen raak die haglike toestande net al hoe erger ten spyte van die departement se inspeksie by die kamp die afgelope naweek. Die departement van toerisme in Mpumalanga het verlede Donderdag ’n verklaring uitgereik en bevestig dat die stortingsplek vir vullis en mediese afval wat naby die inwoners se rondawels is, opgeruim gaan word.

Die inwoners se ontbyt Dinsdagoggend (Foto: Verskaf)

“Die stortingsplek raak daagliks erger en is nog glad nie opgeruim nie. Die bobbejane en ape vreet die vullis en betree dan ons wonings. Ek is nie net bekommerd oor ons gesin se gesondheid nie, maar oor almal se gesondheid hier asook dié mense wat hierna hier moet tuisgaan,” sê Melanie.

Leon het Maandag gesê ná afloop van die departement se inspeksie is daar op die kleiner probleme gefokus, maar die werklike groot lewensgevaarlike probleme soos die stortingsgat en die feit dat die personeel kos sonder handskoene, gesigsmaskers of enige voorsorgmaatreëls voorberei en bedien – het nie aandag geniet nie.

Die VF Plus het ook talle klagtes van inwoners oor die haglike toestande van dié kwarantynfasiliteit ontvang. Die party het dié saak geopper tydens Maandag se parlementêre portefeuljekomitee-vergadering vir openbare werke en infrastruktuur.

Volgens Philip van Staden, VF Plus-parlementslid, het Sam Vukale, direkteur-generaal van die departement, in die vergadering gesê die geriewe is die verantwoordelikheid van die betrokke provinsiale regerings. “Dit lyk dus of die departement die blaam vir die swak fasiliteite op die provinsiale departement wil afskuif.

“Dit is duidelik dat hierdie fasiliteteit glad nie gereed was om mense vir kwarantyn te ontvang nie. Die besonderhede van dié soort kwarantyn-geriewe moet bekend gemaak word aan lede van die parlement sodat lede hul oorsigrol daaroor kan uitvoer. Plekke soos dié is onbewoonbaar en dit is onaanvaarbaar dat mense daar gehuisves word,” sê Van Staden.

Die VF Plus het in die vergadering daarop aangedring dat die departement sê hoe hulle die probleem gaan oplos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Burgermeester

Heng, maar die ANC regering weet hoe om blaam te verskuif. Dit is altyd iemand anders se se skuld. Snaaks dat hulle nog nie oom Jan vir die haglike kwaratynkamp blameer het nie. Ek hoop werklik vir die mense wat daar vasgevang is, dat hulle vinnig na hul eie wonings kan terugkeer.

marius

Mediasie aangevra? Dagvaar die rook uit hulle uit !

Barbara

Ek dink ons tronke lyk beter. My hart gaan uit vir die mense. Ek hoop jul dagvaar die staat.

Anel

Hulle weet nie hoe om enige probleem op te los nie. Die oplossing is voor die hand liggende. Stuur die mense huis toe en dan laat die regering daar gaan bly vir ‘n week, op elkeen van hulle sy eie koste. Want wat kos die verblyf in daardie hool?