SA’ners is lief vir troeteldiere, maar …

(Foto verskaf)

ʼn Groot aantal Suid-Afrikaners wil graag ʼn troeteldier by ʼn skuiling aanneem, maar hulle is bekommerd oor veeartskoste en of hulle die regte behuising aan die dier kan bied.

Intussen is daar tans ʼn geskatte 4,1 miljoen van Suid-Afrika se 14,9 miljoen katte en honde sonder ʼn heenkome.

Dít is volgens ʼn verslag wat Mars Petcare saam met kenners in dierewelsyn Donderdag uitgereik het.

Die verslag, getiteld State of Pet Homelessness Index, is die eerste van sy soort en het gepoog om ʼn oorkoepelende blik te gee van die situasie van hawelose troeteldiere in die VSA, die Verenigde Koninkryke, Indië, Mexiko, Duitsland, Rusland, Suid-Afrika, China en Griekeland.

Volgens die verslag is daar sowat 224 miljoen hawelose katte en honde in dié lande.

Die verslag het ook ʼn 10-punt-skaal aan elk van die lande toegeken, waar tien aandui dat geen hawelose diere in die land te vind is nie. Suid-Afrika het 4,0 op die indeks behaal met 27% van troeteldiere in die land wat haweloos is. Dit plaas Suid-Afrika agter ʼn land soos China, wat ʼn punt van 4,8 behaal het, maar voor Indië wat ʼn telling van 2,8 behaal het. Duitsland hanteer volgens die verslag die situasie met hawelose diere die beste en het ʼn punt van 8,6 op die indeks daarvoor behaal.

Suid-Afrikaners is ywerige troeteldiereienaars

Die pandemie het die opvattings oor die rol van katte en honde in die huis wêreldwyd opnuut benadruk en ná die streng inperkings in Maart en April 2020 het troeteldiereienaarskap in Suid-Afrika toegeneem.

Die verslag dui egter daarop dat byna die helfte (47%) van troeteldiereienaars bekommerd is dat daar ná die pandemie meer hawelose troeteldiere as ooit sal wees, aangesien ekonomiese swaarkry die versorging van troeteldiere bemoeilik.

Verder wys die verslag ook dat 77% van die Suid-Afrikaanse bevolking dit sal oorweeg om in die toekoms ʼn dier van ʼn skuiling of reddingsentrum aan te neem, in vergelyking met net 65% gemiddeld van die res van die lande. Suid-Afrika het ook doeltreffende programme wat die aanneming van troeteldiere bevorder, wat potensiële eienaars met diereskuilings verbind en die bewustheid van die voordele daarvan om ʼn troeteldier te hê, benadruk.

Suid-Afrika se bogemiddelde sterilisasiekoers help ook om die aanwas van ongewenste troeteldiere te beperk.

Die verslag wys egter daar moet nog meer gedoen word om die hoë koers van hondsdolheid in die land te pak. Daar is ook ʼn behoefte aan ʼn doelgerigte nasionale hondsdolheidbeheerprogram.

Nog ʼn uitdaging vir Suid-Afrikaners wat die verslag uitgewys het, is veeartsuitgawes en behuisingskwessies.

Sowat 49% van Suid-Afrikaners is huiwerig om hul troeteldiere na ʼn veearts te neem weens hoë koste, terwyl die wêreldgemiddeld maar 28% is.

Boonop glo 70% van Suid-Afrikaners dit is moeilik om ʼn hond te besit wanneer hulle in ʼn woonstel woon, in vergelyking met ʼn wêreldgemiddeld van 60% van mense wat dit as ʼn uitdaging beskou. Wat katte betref, stem 51% saam dat woonstelle nie geskik is vir die diere nie, terwyl 45% van die wêreldgemiddeld so dink.

WellBeing International, een van die organisasie wat gehelp het om die verslag op te stel, is alle hawelose honde nie sonder eienaars nie. Die organisasie het aan Business Insider SA gesê dat 90% van die honde wat in die strate van twee informele nedersettings in Suid-Afrika rondloop, wel aan spesifieke huishoudings behoort. Talle rondloper diere het ook “informele eienaars” wat hulle versorg.

Troeteldiere maak ons lewe beter

“Die wetenskap sê vir ons dat troeteldiereienaarskap ʼn magdom voordele vir ons gesondheid en welstand inhou; van die verbetering van ons hartgesondheid en fisieke aktiwiteit tot die bou van empatie en die versterking van ons gemeenskapsgevoel. Ons glo troeteldiere verdien meer en die aanpak van hierdie kwessie is wesensbelangrik vir ons doel,” het Tumi Masekela, ʼn direkteur van Mars, gesê.

Masekela het bygevoeg dat die internasionale maatskappy ʼn missie het om haweloosheid onder troeteldiere te beëindig. Die maatskappy wat reeds 85 jaar na die gesondheids- en voedingsbehoeftes van troeteldiere omsien, glo as hulle die kwessie takel, kan dit voordelig vir mense én troeteldiere wees.

“Met hierdie verslag het ons gepoog om die omvang van die probleem van hawelose troeteldiere beter te verstaan. Dit is ʼn belangrike eerste stap vir dierewelsynorganisasies, beleidmakers en navorsers om praktiese maniere te vind om hierdie kwessie oor die hele wêreld te hanteer.

“Die data uit die verslag sal ook dien as ʼn manier om die doeltreffendheid van ingrepe oor tyd heen na te spoor. Ons hoop ʼn verslag soos hierdie sal ʼn diepgaande uitwerking op die probleem hê, terwyl dit ook help om die omvang van die probleem te definieer en die hoofoorsake van hawelose troeteldiere op die mees basiese vlak te verstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Miskruier ·

Troeteldiere moet gesteriliseer wees, ek woon naby n plakkerskamp, die hoeveelheid diere wat daar ronddwaal, op pad dood getrap word is sieklik.

VaalDonkie ·

Ja wel, mens moet diere aanneem eerder as by telers koop, maar dan kos dit ewe veel. En dan wil hulle nog kom “inspeksie” hou ook. Dis belaglik. Ek sorg baie goed vir my diere, maar dis nie ‘n kind nie.

Feite ·

Natuurlik moet hulle Inspeksie kom doen!
NIE almal sorg goed vir diere, of wil hulle vir die regte redes aan neem nie.
Die wreedheid onder die mensdom teenoor diere is onbeskryflik en dan wil jy dit nog aanhits met hierdie comment om diereskuilings af te kraak vir hulle pogings om die beste huis vir almal te probeer kry.
En vir baie mense is diere hulle enigste kinders.

KatjieDeKat ·

As jy n dier aanneem kan ek nie insien hoekom jy nie inspeksie sou goedkeur nie. Dis nie asof hulle in jou yskas of klerekas gaan kom rondkrap nie.

Karin ·

Ek stem 100% saam, om ‘n dier by die SPCA te probeer aanneem is ‘n onbegone taak. Het self probeer, maar met die inspeksie is alles verkeerd gevind. Het toe vir ons 2 baba hondjies gekoop, na 11 jaar is hulle nog steeds by ons. Ek sal nie weer aanneem probeer nie.

DieKriek ·

Ek weier om meer diere aan te neem. Ander mense se probleem diere. Been there, done that.

Althes ·

Die arme DBV word nie befonds deur die regering nie, is afhanklik van skenkings maar almal verwag van hulle om gehalte diens te lewer. En verwaarloosde diere in te neem. Mense se onverantwoordelike aksies raak dan die organisasie se probleem.

Maggies ·

My twee Jack Russells en kat is my vreugde. Ek kry meer aandag en liefde van hulle as enige mense om my. En glo my ek is nie eensaam nie. Ek het familie en goeie vriende wat vir my ongee en lief is. Dis net my diere se onvoorwaardelike liefde is soveel meer bevredigend.

Mieke ·

Die veearts kostes is ook baie hoog… nie almal kan hierdie tariewe en die duur medisyne bekostig nie! Dis amper duurder as ‘n draai by jou eie huisdokter!

Ronel ·

Meeste woonplekke verbied diere, so wat anders is jou opsie maar om jou dier weer terug te besorg aan DBV, ens. Ongelukkig is mense nie so verdragbaar soos hul oorsese eweknie nie.

KatjieDeKat ·

Dis n nagmerrie om n huurhuis te kry wat diere toelaat. Ongemeubileerde huise. What’s up with that? Dis nie asof n hond of kat die Huis gaan afbreek of eet nie. Dis die diere eienaars se meubels wat in gedrang kom, so ek kan nie insien hoekom meeste eienaars nie huurders met diere soek nie. Ook: DIS SA. Mens is effens veiliger met n hond.

Herman L ·

Ek wonder of hawelose diere nie dikwels beter af is as diere van sekere eienaars nie. Hulle is gewoonlik vry om te loop waar hulle wil. Ek weet van verskeie honde wat bedags alleen gelaat word in ‘n klein tuintjie en waarvan die eienaars nooit met die honde gaan stap nie. Hulle kry dalk beter kos as die hawelose diere, maar ek wonder of hulle dit nie sou verkies bo die “tronk” waarin hulle opgesluit word nie. Baie eienaars van veral honde is onbevoeg om ‘n hond aan te hou, want hulle weet nie hoe om ‘n hond te hanteer en te leer nie. Die DBV weet nie van hierdie honde nie, want hulle word nie raakgesien nie.

Simone ·

mens kan ook deesdae nerens bly met diere nie. Ek huur, maar kry nie n plek wat diere vriendelik is nie, of as hulle is is dit max 2 diere. “of” en die is die beste, area’s soos Linden mag die honde glad nie blaf nie, want dan is hulle verwaarloos. Ek het uit Linden getrek, ek julle sal nie glo hoe opgewonde my honde was oor hulle kon blaf nie. Die een het skoon op sy agter pote gedans van genot. En mens moet net sien hoe hulle my vra om uit te gaan om net n bietjie te kan gaan blaf. Dit is te oulik om die genot te sien. Ek dink as mense net wil aanvaar diere is diere en mense met diere moet ook iewers bly, sal daar minder diere by “resue’s” ingegee word.

Herman L ·

Honde se geblaf kan maklik inbreek maak op mense se regte tot ‘n omgewing wat vry is van geraasbesoedeling. Eienaars vind dit soms te gerieflik om te argumenteer dat honde moet blaf, want dit is wat honde doen. Eienaars moet eerder hulle honde genoeg aandag gee en leer om nie onnodig te blaf nie.

KatjieDeKat ·

Selfs met Katte, reggemaakte huiskatte, is dit feitlik onmoontlik om huurplekke te kry. Gaan my verstand te bowe.

Blikkies ·

Ek is baie lief vir my diere, 3 Jack Russels, hulle is soos my kinders en as ek ‘n baie groot plot gehad het was daar seker meer diere. As mense nie vir diere kan sorg of plek het nie, moet hulle liefs nie diere kry nie. Almal soek ‘n hondjie as dit ‘n baba is, maar as hy grootword dan word hy afgeskeep en eenkant toe gegooi. Dink 10x voordat julle diere vir julle kinders kry!! en steriliseer jou diere.

KatjieDeKat ·

Die groot kwessie is: As soveel plekke nie diere onvriendelik was nie (property owners) sou Tonne meer mense diere aan neem. Dis een vd grootste oorsake van hierdie hartseer situasie. Miserable property owners who won’t allow tenants a dog or cat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.