‘SA’ners kort nie strenger inperkings nie, maar entstowwe’

‘n Gesondheidsorgwerker word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ingeënt. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa dat Suid-Afrika van vandag af op ʼn aangepaste vlak 2-inperking is, is geen verrassing nie aangesien minstens vier van die nege provinsies die derde golf van infeksies betree het.

“Die werklikheid is dat dit onvermydelik was weens die trae pas van inentings,” het Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, gesê.

Minder as een miljoen mense is reeds ingeënt en dit beteken dat die doelwit om teen die einde van die jaar 40 miljoen mense in te ent, onbereikbaar is. “Dit is ʼn treurige affêre as ons in ag neem dat die eerste en tweede golf van infeksies en daaropvolgende inperkings soveel lewens en soveel mense se lewensbestaan geëis het. Hierdie tempo van inenting sal die land beslis nog vir die komende maande in ʼn ewigdurende inperking hou.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê hoewel Ramaphosa die indruk wil wek dat die inentingsprogram goed op dreef is, is die werklikheid dat die regering die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat het met sy onbevoegdheid en laksheid om betyds entstof te kry. “Baie meer mense moes nou al ingeënt gewees het wat die derde golf en inperkingsmaatreëls kon verhoed het.”

Volgens Groenewald is die nuwe inperkingsmaatreëls wat Sondag deur Ramaphosa aangekondig is, ʼn meer rasionele benadering tot inperkings behalwe vir binnenshuise byeenkomste wat beperk word tot 100 mense. “Die 50%-vloeroppervlak-kriterium behoort te geld ongeag die getalle.”

Gwarube meen die vervroegde aandklokreël van 23:00 tot 04:00, permitte vir werkers en die sluiting van nie-noodsaaklike instellings teen 22:00 sal niks vermag in die langtermynstryd teen Covid-19 nie. “Hoewel ons die beperking op groot byeenkomste verwelkom, is entstowwe dringend nodig om die bloeding van die Suid-Afrikaanse ekonomie te stuit.”

Pres. Ramaphosa is ook gekap oor hy nog geen optrede teen Zweli Mkhize, minister van gesondheid, aangekondig het nie.

“Die president het weereens sy onvermoë gewys om op te tree teen diegene in sy eie kabinet en in die ANC wat van korrupsie beskuldig word. Die enigste aanvaarbare aankondiging sou wees dat hy Mkhize opdrag gegee het om opsy te staan tot die finalisering van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek.”

Daar is die naweek beweer dat Digital Vibes, ʼn omstrede kontrakteur, vir instandhoudingswerk aan een van Mkhize se eiendomme betaal het. Luidens die berig deur Scorpio, die ondersoekende eenheid van die Daily Maverick, het Digital Vibes ook minstens R300 000 aan ʼn maatskappy oorbetaal wat deur Mkhize se seun besit word.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Zweli was CR se trots en SA se glo lewensboei uit die pandemie en nou is daar kieme in die pappot. Hoeveel lepels het nog daaruit geskep? Dalk hoekom niks hiervan sal kom nie.

marius

Hy het darem ‘n streep in die sand getrek , van so twee meter . Sy rug is seker af ….

Snowball

Tipies ANC, entstofprogram is ‘n majestieuse flop maar die miljarder staan en vertel hoe dit die grootste entstofveldtog in SA se geskiedenis is. Die hele wêreld ent in teen ‘n reuse spoed. Net ons sit hier met boggerol wat op dreef is. As hy aanhou lieg, glo hy homself dalk.
Lekker, WEER INPERKINGS want gekke verkondig daar is nie ‘n pandemie nie en die ANC lieg bles en blink oor hulle inenting suksesse.

Danie

Entstowwe vir wat? Om nog meer mense siek en dood te maak. Hoekom maak hulle nie bekend hoeveel mense wat nadat hulle die entstof gekry het dood is asgevolg van die entstof. Jy lees dit en hoor dit elke dag van dr wat op tv kanaal mense waarsku,predikers waarsku selfs van mense wat se huisdokters hulle waarsku, maar nee die regering moedig jou aan registreer en word ingeent. My siening dan is kry jy die entstof en gaan dood of kry jy net covid en gaan dood wat is die verskil. Dood is jy dood hoekom dan nog geld mors… Lees meer »

Pieter

En so hou die anc sirkus aan hulle soek nog geld dit is maar al. Dit gaan nie vir hulle mense se lewens nie.