SA’ners kry nuwe rybewyskaarte

Die huidige rybewyskaart. (Foto: RTMC)

Die departement van vervoer wil wegdoen met die rybewyskaart wat Suid-Afrikaners al langer as twee dekades ken en dit vervang met ’n splinternuwe kaart.

Dié proses sal oor ʼn bietjie meer as ’n jaar – van 1 November 2023 tot 31 Maart 2024 – geloods word voordat die huidige rybewyskaart sowel as die toerusting wat gebruik word om dit te vervaardig op 1 April 2024 in onbruik sal val.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Vrydagoggend aan verslaggewers in Midrand, Gauteng, gesê die kabinet het reeds die vervanging van die huidige rybewyskaart goedgekeur en die beoogde veranderinge sal binnekort in die Staatskoerant gepubliseer word.

Dít sal die departement in staat stel om so vroeg as volgende maand reeds met die verkrygingsproses te begin van die toerusting wat vir die nuwe kaart benodig word.

Mbalula het wel die versekering gegee dat daar vir die nuwe kaart begroot sal word en dat dit nie direk aan Suid-Afrikaners se sak sal ruk nie. “Julle het baie vir ons gegee oor die afgelope paar jaar. Ons het die geld vir die nuwe rybewyse,” het die minister gesê.

Die huidige rybewyskaart is reeds in 1998 bekendgestel en die toerusting wat benodig is destyds in dieselfde jaar aangekoop. Dié tegnologie het volgens die departement sedertdien uitgedien geraak.

(Foto: Maroela Media)

Mbalula vergelyk nou sy departement se nuwe beoogde rybewyskaart met die nuwe ID-kaarte en sê dit sal Suid-Afrika “op dieselfde vlak as ontwikkelde nasies” plaas.

“Daar wag baie opwindende dinge,” was sy woorde vanoggend.

Die minister hou ook vol die oorgang van die ou na die nuwe rybewyskaart sal glad verloop. “Die dienste by binnelandse sake is vinnig. Daar is mense wat baie hard werk. Nie almal by binnelandse sake is onaktief nie.

“Dr. Aaron Motsoaledi [minister van binnelandse sake] maak skoon. Hy doen presies wat ek doen. Ek en Motsoaledi is só,” het Mbalula gesê terwyl hy sy vingers gekruis het.

Kommer oor ongeldige lisensies

Die wagtydperk vir ʼn rybewys is van 58 werksdae in April 2022 tot tien werksdae in Julie 2022 verminder.

Mbalula het vanoggend gesê sy departement is egter bekommerd oor die 1,2 miljoen mense wat in dié stadium nog nie hul verstreke rybewyse laat hernu het nie.

Sowat 67% van dié sondebokke is tussen die ouderdomme van 25 en 50 jaar terwyl 15% tussen die ouderdom van 50 en 60 is. Sowat 17% van dié wat in dié stadium met ongeldige rybewyse ry is ouers as 60.

Altesaam 1% van dié wat 25 jaar en jonger is, moet nog hul rybewyse hernu.

Mbalula is ook Vrydagoggend weer oor die E-tol-sage uitgevra. Die minister het in antwoord daarop gewys dat daar binnekort ’n besluit rakende E-tol se toekoms geneem sal word. “Byt net vas,” het Mbalula gevra.

“Ek dink ons sal teen Oktober vir julle ’n antwoord hê. Ek is seker daarvan dat julle daarop hoop dat E-tol geskrap gaan word. Moenie sê ek sê E-tol gaan geskrap word nie. Wag vir my,” het die minister gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Skadu ·

Hopelik beteken dit die kaarte gaan nou langer as net 5 jaar geldig wees.

JohnnyS ·

Nee, merk my woorde hulle sal die wet aanpas om te voorsien dat jou lisensie slegs ‘n sekere tydperk gaan geldig wees. Dit is mos ‘n lekker maklike manier om die mense nog verder te melk.

Faraway ·

Daars geld om elke ou kaart te vevang wat onnodig is maar nie geld om potholes wat lewens neem te herstel nie!

Delia ·

Oh my!!!! Oh why???? Wat is fout met die huidige kaarte.
Ons is nie op dieselfde vlak as ontwikkelde lande nie. Nuwe lisensie kaarte gaan ons nie daar bring. Maak die gate in die pad reg Geagte Minister. Dit sal beter wees.

kaas ·

Miskien moet die nuwe rybewys net soos die ID ook nie verval nie, dan sal daar nie so ‘n groot las wees op die sisteem om rybewyse te hernu nie.

JohnnyS ·

Dink jy werklikwaar hulle gaan die kraantjie wat die afgelope paar jare vir hulle miljoene ingebring het, nou skielik toedraai ?

Antjiese5c ·

In sy eie woorde “Julle het baie vir ons gegee oor die afgelope paar jaar.”

Jakkie ·

Ai, nuwe stelsel & toerusting wat alweer op tender moet uitgaan……….Tenderpreneurs en middelmanne lag weer al die pad bank toe……………….

Vonkprop ·

Gaan my huidige kaart wat nou maar eers ‘n jaar terug hernu is nog steeds geldig wees totdat ek weer moet hernu oor 4 jaar? Daar is nie ‘n manier dat ek weer binne ‘n jaar met julle klomp onbeholpe mense moet werk nie. Een maal in 5 jaar is genoeg.

Elma ·

Wonder ek ook. Sal die ou lisensie wat volgens jare, nog geldig is, dan voor die tyd verstreke is vervang moet word? Teen die gepaardgaande koste natuurlik.

marius ·

Wie se boetie of sussie kry die tender meneer hoof spietkop ?

Madelein ·

Binnelandse sake en rybewyse???? Hoe bring jy die twee bymekaar uit?

JohnnyS ·

Is die minister doof of net dood eenvoudig onnosel ? Dit is mos nou al telke male uitgewys dat jou rybewys NIE VERVAL, slegs die ou “onontwikkelde” kaartjie verval. Daar is ook geen oortreding daarvoor om ‘n kaart te besit wat verval het nie. Wie is nou eintlik die sondebok ?

Piet parys ·

Nou moet hulle net n spesiale kursus aanbied hoe om die slaggate mis te ry sonder om n ongeluk te veroorsaak . Praat praat en praat maar as dit by uitvoering kom is dit altyd gemors . Grootbek minister waar dink jy kom die geld vir toerusting vandaan . Belastingbetalers of val dit uit die lug ?

Brett ·

Mens gaan mos net bank toe en trek dit…. hulle het altyd geld

Herman L ·

Minister Kwala Kaufela sal meer geloofwaardig wees as hy sy mond kwala.

Peter ·

Hier kom weer ‘n big time gestelery met die tenders hiervoor

Wielspore ·

Met my laaste hernuwing van my lisensie kaart het ek 14 maande gewag vir die nuwe een. Volgende jaar is dit weer sulke tyd.

Waarnemer ·

Jaja en in 2024 gaan daar gese word daar is nie geld nie en ons moet betaal vir die nuwe kaart.Hierdie is weereens net n nuwe geldmaak foefie vd kaders.

Corne123 ·

En biefeel steek by in sy sak met die nuwe masjien en stelsel

Jr ·

Hey madoda, lets make money again. Nou die hoeveelste keer dat ons rybewyse kry

Strandloper ·

“Nie almal by binnelandse sake is onaktief nie”?? NET 90% IS . Wat probeer jy se? Doen iets daaraan!! Useless verby!

Landras ·

Is die nie die einste masjien wat oorsee gediens moes word verlede jaar nie ?

Debbie ·

Wonder net wanneer laas het hy iets laat doen by binnelandse sake? Hy leef in n droom wereld.
Gaan ons nuwe kaarte nou 10 jaar hou voor ons moet hernu?

Kortbroek en plakkies ·

Ek het nou lekker gelag, dat die man dink die nuwe kaartjie plaas ons nou ewe skielik op dieselfde vlak as ontwikkelende lande. Nee meneer ons bly maar ‘n derdewereldse land, die kaartjie gaan ons nie daar bring nie.

Brett ·

So die minister herken dat daar mense is wat niks doen nie….. Nie almal by binnelandse sake is onaktief nie. En hulle ord betaal mooi man. wil hom graag na ons binnelanse sake vat laat hy wys vaar dinge vinnig gaan seker in die kombuis waar hulle vinnig koffie maak of vinnig sit om te eet….. belaglik

Star ·

Ek is nou klaar met hernuwing, eks nou bietjie moeg vir hernuwing, my lewe is nou net lekker, geen nuwe goed vir my nie dankie. Ek hou wat ek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.