“SA’ners loop deur onder misdaad” – Oscar Pistorius

Oscar Pistorius op 7 April 2014 Foto: Themba Hadebe/AP/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 7 April 2014 Foto: Themba Hadebe/AP/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius se moordverhoor het Maandag in die Pretoriase hooggeregshof verdaag omdat hy te uitgeput was om voort te gaan.

Barry Roux SC vir Pistorius, het ná middagete regter Thokozile Masipa versoek om moontlik vroeër te verdaag omdat die atleet baie moeg is.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het gesê hy wil graag die saak afhandel en dat hy hoop hierdie gaan nie ʼn daaglikse gebeurtenis wees nie.

Masipa het toegegee dat Pistorius moeg lyk, en die versoek toegestaan.

Pistorius het vroeër aan die hof gesê alle mense in Suid-Afrika is al blootgestel aan misdaad. “My pa is twee keer gekaap. My broer was in ʼn poging tot kaping,” het hy gesê.

Daar was glo ook ʼn huisbraak by sy pa se huis toe hy ʼn kind was. Hulle het glo teruggekeer van vakansie en hul huis in Johannesburg is geplunder.

Pistorius sê daar is ook ʼn paar keer by sy ma se huis ingebreek.

Daar was ook ʼn inbraak by sy huis toe hy van die Paralimpiese Spele in Londen teruggekeer het. Sy televisiestel is gesteel en die sondak van sy motor is gesny.

“Daar was een aand iemand in my tuin,” het hy gesê. “Mense het my al in die aand agtervolg. Iemand het al op die snelweg op my gevuur.” Hy het vertel ʼn motor het naby hom gery en hy het stadiger gery sodat die persoon hom kon verbysteek. “Ek het ʼn vuurwapenflits gesien.” Hy het glo daarna na ʼn openbare plek gegaan en ʼn ruk lank daar gesit sodat ʼn vriend hom kan kom haal. Hy het sy motor daar gelos.

Die hof het ook gehoor dat hy en sy eksmeisie, staatsgetuie Samantha Taylor, een aand agtervolg is.

Daar was glo ook ʼn motor wat hom in ʼn stadium dae lank agtervolg het.

Die hof het gehoor dat Pistorius mense al bygestaan het wat misdaadslagoffers was.

Hy is glo in Desember 2012 aangerand toe hy ʼn funksie bygewoon het. Hy moes glo steke agter teen sy kop kry. Hy het die voorval by die Valke se speureenheid aangemeld wat toe ʼn vergadering met die betrokke partye geskeduleer het. Hy wou in daardie stadium nie met die media praat oor die voorval nie.

Pistorius het ook aan die hof gesê hy wou graag ʼn aanbod insit om ʼn huis in Johannesburg te koop, aangesien Reeva Steenkamp glo “sy voete onder hom uitgeslaan” het. Hy wou glo opknappingswerk aan sy huis in Pretoria-Oos doen voordat hy die huis sou verkoop. Steenkamp het saam met haar vriendin se familie, Gina Myers, in Johannesburg gebly. Sy het die een aand by Pistorius kom oornag toe hy haar doodgeskiet het.

Daar was glo nog net 27 huise in die landgoed ontwikkel toe Pistorius in 2008 daar ingetrek het. Daar was glo 300 erwe wat geoormerk was vir huise. Volgens Pistorius was daar gereeld ontwikkeling op die landgoed met gepaardgaande misdaad. ʼn Kontrakteur het glo in ʼn stadium deur ʼn oop deur ingestap, ʼn huishulp vasgebind en items uit ʼn huis gesteel.

Volgens Pistorius was mnr. Mendelow, sy boukontrakteur, ook al die slagoffer van misdaad toe ʼn leer gebruik is om by sy huis in te kom.

Ná twee huisbrake is die besluit geneem om veiligheid by die landgoed op te skerp.

Pistorius het intussen sy huis in die mark gesit om hom te help om sy regskoste te dek.

Die atleet word van moord met voorbedagte rade beskuldig nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staar ook twee aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het skuld ontken op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariaan ·

As mens so na sy getuienis luister vandag, klink dit of almal hul mes ingehad het vir hom. Wonder hoekom!

Karel ·

Snaaks dat alles met hom gebeur ,dalk lei hy aan agtervolgens waansin sindroom of is hy net paranoies.???

Dolk ·

As hy die waarheid vertel, sal mens nog ‘n oor van begrip of empatie kan hê.

Maar, as hy begin deur te hê dat hy haar net wou beskerm teen ‘n gesiglose, denkbeeldige’ vreesbevange aanvaller agter ‘n toe deur – in die donker, dan weet mens hy lieg onder eed en, dat die trane eintlik maar net oor homself gaan – nie omdat hy berou het – omdat hy haar per ongeluk doodgeskiet het nie.

Die leuen teenoor die waarheid, is soos die donker teenoor lig – dit kan nie lig ontsnap – wanneer dit daarop skyn nie.

Dolk ·

Skuus – dit moet wees: “dat die trane eintlik maar net oor homself gaan – nie omdat hy berou het – omdat hy haar doelbewus doodgeskiet het nie.” (In ‘n waansinnige oomblik van eiegeregtige grootheidswaan?)

petra van vuuren ·

shame! ek was ook die slagoffer van ‘n roof! en inbrake ens ens ens. Ek het niemand vermoor nie, ek kon nog nooit nie. Al was ek ‘n polisievrou vir 22 jaar. Ek kon nie eens ‘n dier skiet wat sterwend was nie. Wa val sy verskonings uit?

AmY ·

Ek was ook al die slagoffer van misdaad. Twee keer besteel en een keer amper verkrag, en ek het niemand vermoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.