SA’ners moet reageer oor Internetsensorskapwet

Argieffoto (Foto: succo/Pixabay)

Die konsep film- en publikasie-wysigingsregulasies oor digitalemediaplatforms is ongrondwetlik en maak inbraak op Suid-Afrikaners se reg tot vryheid van spraak en uitdrukking.

Wouter Wessels, woordvoerder van die VF Plus, het gesê die regulasies se toepassing is wyd en verrykend en gee breë diskresionêre magte aan die Film- en Publikasieraad oor wat op aanlyn platforms geplaas mag word. “Die voorgestelde wysigings is vaag, onprakties en oop vir misbruik waar die regering spraak kan beheer,” het Wessels gesê.

“Die regulasies is uit voeling met die internasionale benadering tot die regulering van inhoud op internet en globale platforms. Die Film- en Publikasieraad-wysigingswet (wat as die internetsensuurwet bekendstaan) op grond waarvan hierdie regulasies uitgereik word, het nog nie in werking getree nie.”

Hy meen hierdie regulasies is dus voortydig. “Dit is uiters gevaarlik en gee magte aan die minister wat nie in ‘n gesonde demokrasie hoort nie.”

Die regulasies kan deur enige toekomstige regerende party misbruik word en ondermyn spraakvryheid. Die ANC-regering se beplande oorregulering van die internet en ander publikasies laat die gevaarligte flikker, het Wessels bygevoeg.

“Dit dui op die regering se minagting van die Grondwet. Die vooraf-goedkeuring van omtrent alle videomateriaal wat die konsepregulasies in die vooruitsig stel, is ondeurdag en onuitvoerbaar.”

Suid-Afrikaners het tot 17 September die geleentheid om beswaar aan te teken teen hierdie konsepregulasies.

“Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om dié ondeurdagte sensuur te keer en op te staan vir almal se grondwetlike reg tot vryheid van spraak.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook gesê wysigings aan die Internetsensorskapwet is nie genoegsaam om misbruik van die inhoud daarvan, veral deur die regering, te verhoed nie.

Die organisasie het Maandag kommentaar ingedien oor die voorgestelde wysigings. Stella Ndabeni-Abrahams, minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, het op 3 Julie die nuwe voorgestelde wysigings in die Staatskoerant gepubliseer vir openbare kommentaar.

Die regulasies bepaal onder meer:

  • Die film- en publikasieraad (FPR) mag ʼn registrasiesertifikaat onderworpe aan bepaalde voorwaardes aan verspreiders van films, publikasies of aanlyn speletjies uitreik.
  • ʼn Verspreider moet jaarliks weer van vooraf registreer om sy werksaamhede voort te sit.
  • Inhoud is onderworpe aan verpligte evaluering en klassifisering alvorens dit versprei mag word.
  • Die FPR mag dwarsdeur die jaar waarvoor die verspreider geregistreer is, die inhoud wat die verspreider publiseer, evalueer om te verseker dit voldoen aan die bepaalde registrasievereistes.

Klik hier (pdf-dokument) om die konsepregulasies te lees.

Persone wat wil kommentaar lewer, moet dit stuur aan Pandelis Gregoriou, bestuurder: Wet en Regulatoriese Sake op die volgende maniere:

  1. per hand by die Film- en Publikasieraad, Eco Glade 2, Witch Hazellaan 420, Centurion, 1609
  2. per pos aan die Film- en Publikasieraad, Privaatsak X31, Highveld Park, 0169
  3. per e-pos aan [email protected] (met “Film and Publication Regulations” in die onderwerpveld)

Telefoniese navrae kan gerig word aan 012 003 1400.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

john ·

Dit lyk my of die ANC mooi leer by die CCP…en alle hulle komunistiese wette probeer deurvoer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.