SA’ners nie so siek van Omikron

(Argieffoto: Ronny Hartmann/AFP)

Hoewel die nuwe Omikron-variant tans ’n skerp oplewing in Suid-Afrika se koronavirusgevalle tot gevolg het, ervaar dié pasiënte slegs ligte simptome en word relatief min pasiënte in die hospitaal opgeneem.

In baie van die gevalle het die pasiënte slegs hoofpyn of ’n loperige neus gehad terwyl sommige nie eens enige simptome getoon het nie. Een ingeënte pasiënt vergelyk haar simptome met dié van ’n kopverkoue.

Mary Kawonga, voorsitter van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, het Donderdag tydens ’n mediakonferensie gesê daar word ’n toename in Covid-19-opnames in die land opgemerk, “maar nie tot die punt wat ons tydens vorige uitbrekings beleef het nie.

“Hospitalisasie neem teen ’n baie laer koers as die gevalle toe, terwyl dit ook teen ’n baie laer koers as tydens die derde virusgolf toeneem,” het Kawonga gesê.

Tog is daar vroeë tekens dat die nuwe Omikron-variant ’n verhoogde risiko van herinfeksie inhou, sê wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Dit is nou die eerste epidemiologiese bewys van die nuwe variant se vermoë om immuniteit wat deur infeksie bekom is, te ontduik.

’n Analise van roetine-waarnemingsdata van Suid-Afrika vanaf 4 Maart 2020 tot 27 November 2021 toon dat die herinfeksierisikoprofiel van Omikron aansienlik hoër is as dié wat tydens die tweede en derde golwe met die Beta‑ en Delta‑variante geassosieer is. Die waargenome aantal herinfeksies val reeds ver buite die voorspellingsintervalle.

Prof. Juliet Pulliam, direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) by die US, sê hy en ander wetenskaplikes wou vasstel of daar epidemiologiese bewyse is van ’n verhoogde risiko vir herinfeksie met die Omikron‑variant, in vergelyking met die Beta‑ en Delta‑variante.

Dit is volgens Pulliam ’n baie belangrike vraag, aangesien ’n toename in herinfeksies, eerder as nuwe infeksies, sal dien as ’n aanduiding dat die nuwe variant die vermoë ontwikkel het om infeksie-verworwe immuniteit te ontduik.

Dit is bevind dat die relatiewe risiko vir herinfeksie tydens die vorige twee golwe stabiel gebly het, maar dat hierdie risiko sedert die begin van Oktober en einde November vanjaar drievoudig toegeneem het.

“Met ander woorde, strydig met ons verwagtinge en ervaring met die vorige variante, ervaar ons nou ’n toename in die herinfeksierisiko,” verduidelik Pulliam.

Anne von Gottberg, ’n kenner by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), het Donderdag gesê dit word verwag dat die aantal gevalle in al nege provinsies eksponensieel sal toeneem.

Pulliam en sy medewetenskaplikes beaam dit.

“Indien die hoë aantal herinfeksies in Gauteng en nasionaal ’n aanduiding is dat Omikron infeksie-verworwe immuniteit kan ontduik, sal hierdie patroon teen middel-Desember in die ander provinsies ook ontwikkel.”

Pulliam en Von Gottberg sê egter albei dat die entstof waarskynlik steeds die beste beskerming teen ernstige siekte is.

‘Kopverkoue’

Jessica Willmore (38) vertel dat sy verlede Donderdag ’n seer keel en ’n hoes ontwikkel het.  Sy het die volgende dag ’n hoofpyn gehad, was moeg en het haar eetlus verloor. Sy het teen die einde van die naweek ’n loopneus en maagkrampe gehad. Haar eetlus was egter reeds terug.

Haar simptome het twee weke ná dié van haar negejarige dogter gevolg wat met ’n seer keel en loopneus van die skool af teruggekeer het. Die dogtertjie se simptome het egter oornag opgeklaar.

“Ons weet nie of dit Omicron is of nie,” sê Willmore.

’n 44-jarige advertensiepraktisyn en ma vertel dat sy onlangs positief getoets het vir Covid-19 nadat haar agtjarige dogter skielik ’n koors ontwikkel het en toe nog een van haar dogters.

Die ingeënte ma het self later ’n krapperige keel ontwikkel en was lighoofdig. Sy vergelyk egter haar simptome met dié van ’n kopverkoue.

Dit terwyl Donovan Rothner (42) geen simptome getoon het nie en nie eens geweet het dat hy Covid-19 opgedoen het nie. Hy vertel hy was asimptomaties totdat hy hom voor ’n operasie laat toets het en die toetsuitslag positief teruggekom het.

“As dit nie vir die prosedure was nie, sou ek nie eens geweet het dat ek die virus het nie, en dit sou baie mense in gevaar stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Althes ·

Of die infeksies toeneem of nie, moet nie strenger inperkings daarstel nie. Ons ekonomie gaan dit nie oorleef nie. Laat die Covid nie nog meer mense se lewens verwoes deur inkomste wat verlore gaan nie. Ons is reeds in die selfmoordseisoen.

Francois Le Cochon ·

Die doel van inbeperkings is om sterftes te voorkom/beperk, daar is geen ander rede nie. ‘n Lewe weeg swaarder as ‘n inkomste.

Gerhard ·

Ek stem saam met jou dat die lewe meer werd is as n inkomste, maar wat van al die mense wat eintlik nie meer n lewe oor het a.g.v inperkings wat hulle inkomste verloor het nie… dink aan al die mense wat hul eie lewens geneem het omdat hulle hulle werk verloor het a.g.v inperkings, aan die miljoene mense wat met depressie sit a.g.v inperkings. Net food for thought

Shakespeare ·

Hier is vir die ANC se bevelsraad ‘n gulde geleentheid met inperking om die Ekonomie ‘n laaste nekslag toe te dien.

Dirk Mostert ·

Ons het almal maande gelede geweet daar GAAN ‘n vierde vlaag in Desember wees. Die kamtige nuwe variant is bloot ‘n manier om die “infeksies” van ‘n laagtepunt tydens die verkiesings binne ‘n maand op vlaagvlak te kry. Jammer maar ek glo niks wat deur die reg… (regering) kwytgeraak word nie.

Jacob ·

Die feit dat Omikron, soos reeds dae gelede berig is, mense nie so siek maak nie, moet ontstellend wees vir die farmaseutiese maatskappye, politici en verskeie van die hoofstroommedia.

Papsak ·

Ek se weer ou sarel moet goed dink en reg besluit voor hy ons weer verder wil hok slaan hierdir virus nie so kwaai nie dink dit moet datem nou ligter raak en begin af neem niks hou ver ewig aan en aan nie hol rug geryde perd al

Agtogwatnog ·

Tyd vir die wetenskap georiënteerde dokters om hulle bekke oop te maak en die geleendheid te gebruik vir “herd immunity” . Die “social platform” dokters wat met emosies redeneer en speel die politieke kitaar en ons is besig om n gulde geleendheid te mis. Aangesien die Omicron virus ligte simtome lewer, gaan nou en besmet almal. Laat die ekonomie aanbeweeg verban maskers en hou groot makietie. Om so in vrees te lewe (nie net vrees vir die dood nie maar in vrees dat ons hele sosiale raamwerk in duie gaan stort) is nie lewe nie.
Selfmoord het met meer as 100 gestyg, misdaad gaan net erger word agv ekonomiese druk, en die ekonomie gaan totaal ineengestort. Ons het nou logiese en kritiese denkers nodig om leiding te neem.

Yolandie ·

So waar wat jy hier sê. Maar nie almal sal met ons saam stem nie. Die feit vd saak is ons sal moet leer om met Covid saam te leef net soos ons oor die eeue heen saamleef met ander siektes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.