SA’ners ongelukkigste in Januarie, wys studie

Suid-Afrikaners se gemiddelde geluksvlakke per maand volgens die Bruto Nasionale Geluk-Indeks (BNG). (Foto: verskaf)

Suid-Afrikaners is die ongelukkigste wat hulle nóg die afgelope jaar was. Dit volgens navorsing deur die Universiteit van Johannesburg en die Auckland Universiteit van Tegnologie in Nieu-Seeland.

Dié projek meet sedert April verlede jaar Suid-Afrikaners se geluk en sit dit uiteen in terme van die Bruto Nasionale Geluk-Indeks (BNG).

In Januarie vanjaar het Suid-Afrikaners ʼn gelukstelling van 6,2 uit 10 behaal, tenoor 6,45 in November.

Die BNG is ontwikkel in ʼn gekombineerde projek van prof. Talita Greyling van die Universiteit van Johannesburg en dr. Stephanié Rossouw van die Auckland Universiteit van Tegnologie. Die indeks word saamgestel deur die daaglikse twiets van Suid-Afrikaners te ontleed en ʼn gelukstelling aan elkeen toe te ken. Die gelukstellings wissel tussen 0 en 10, met 0 die ongelukkigste en 10 die gelukkigste.

Volgens die verslag het etlike kindersterftes, waarvan die meerderheid verdrinkings was, sowel as verkragtings en martelings bygedra tot Suid-Afrikaners se mismoedigheid.

“Op ekonomiese gebied het die groot aantal korporasies soos Massmart, Telkom en Absa wat óf gesluit óf hul personeel verminder het, bygedra tot mismoedigheid,” lui die verslag. Die moontlikheid dat Eskom fase 8-beurtkrag vanjaar gaan instel, het boonop bygedra tot ʼn somber vooruitsig vir 2020.

Die 81,3% -matriekslaagsyfer het ook nie veel gedoen om Suid-Afrikaners se gemoed te lig nie en die meeste het die syfer as “misleidend” bestempel.

Suid-Afrika se kaptein, Siya Kolisi, hou die Webb Ellis-beker saam met die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, omhoog. (Foto: Christophe Ena, AP)

“Die euforie wat Suid-Afrikaners beleef het met die wen van die Wêreldbeker-rugbytoernooi is ook vervang deur teleurstelling in die Proteas se swak vertoning in Januarie,” lui die verslag.

Dr. Salomon Theodorus Potgieter, ʼn opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, meen Suid-Afrikaners se mismoedigheid spruit uit die politieke onstabiliteit in Suid-Afrika.

“As gevolg van politieke onstuimigheid en uitdagings met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en beurtkrag word onsekerheid by Suid-Afrikaners gekweek. As die land waarin jy bly welvarend en politiek sowel as ekonomies stabiel is, voel landsburgers ook goed.”

(Foto: Colin Behrens/Pixabay)

Hy sê die finansiële toestand van individue het ook ʼn effek op die vlak van ongelukkigheid. “Miljoene Suid-Afrikaners sit sonder werk wat bydra tot finansiële spanning,” sê Potgieter. “As individue nie vir hul gesinne kan sorg nie en onseker is oor waar die volgende maaltyd vandaan gaan kom, affekteer dit jou gemoed.”

Potgieter sê egter dat Januarie se droewigheid nie die res van 2020 hoef te oorskadu nie.

“Een van die belangrikste dinge wat mense kan doen om gelukkig te wees, is om nie te veel in omstandighede waaraan jy niks kan doen nie vas te kyk. Dit lei tot ʼn gevoel van magteloosheid,” sê Potgieter. “Werk eerder na ʼn droom of doelwit waarin jy al jou tyd en energie kan bestee.”

Greyling beaam dat ʼn persoon se geluk steeds in sy of haar eie hande lê en nie in statistieke nie. Sy wys ook daarop dat ʼn tweede studie wys dat die geluk van Suid-Afrikaanse vroue toegeneem het sedert 2008. “Voorlopige navorsing dui daarop dat vroue die vermoeë het om die positiewe in moeilike situasies raak te sien.”

Sy noem dat die Geluk-Indeks ʼn korttermyn weerspieëling is van die sentiment van ʼn bevolking en gee nie ʼn aanduiding van tevredenheid, wat oor ʼn langer termyn gemeet word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niné ·

Ja wat ek sien geen gelukkige vooruitsigte in die land nie, so ek probeer my familie elke dag n bietjie lag en hou dinge in die huis lekker en rustig. Dis al waaroor ek voel ek beheer het.

Chris ·

Januarie maand moet korter gemaak word, nie Februarie maand, dit sal almal gelukkiger maak. ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.