SA’ners op passasiersbote na Italië geneem 

Die Costa Pacifica.

Die luukse passasierboot die Costa Pacifica wat sedert Donderdag met onder meer 168 Suid-Afrikaners aan boord in die hawe van Marseille voor anker gelê het, vaar nou na Italië.

Vir die passasiers is gesê dat hulle daarvandaan na hulle onderskeie lande van herkoms gerepatrieer sal word.

Maroela Media het vroeër berig dat nie een van die sowat 3 000 passasiers op die boot enige tekens van besmetting met die nuwe koronavirus (Covid-19) toon nie, maar dat die Kanariese Eilande sowel as Spanje, waar die Pacifica op die transatlantiese vaart sou aandoen, hulle nie wou toelaat om aan land te gaan nie.

Die vaart het aan die begin van Maart in Argentinië begin en sou in Barcelona eindig, maar met dié hawe nie langer oop nie, is gemik om die passasiers in Marseille af te laai. Daar aangekom het die Franse owerhede slegs hul eie landsburgers toegelaat om aan wal te gaan.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het nog Vrydagoggend aan Maroela Media gesê dat Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk met dié land se minister van buitelandse sake onderhandel sodat die Suid-Afrikaners uit Frankryk kon huiswaarts keer.

Passasiers op die Costa Luminosa. Foto:
(AP Photo/Daniel Cole)

Teen Vrydagmiddag het bekommerde passasiers op die Pacifica egter laat weet dat die boot die hawe van Marseille verlaat het en met die meer as 2 000 mense wat steeds aan boord is na Genoa vaar.

“Ons wil nie na Genoa toe gaan nie; hulle wil ons nou in die Wuhan van Europa aflaai,” was een van vele boodskappe wat aan vriende en familie sowel as aan Maroela Media gestuur is.

Wuhan is die middelpunt van die koronavirus-uitbreking in China. ʼn Veerboot in Genoa se hawe is in ʼn drywende hospitaal omskep wat na honderde koronavirus-pasiënte in Italië omsien.

Die groep Suid-Afrikaners en ander passasiers uit Engelssprekende lande het intussen begin saamstaan en dring daarop aan om vanaf Rome te vlieg. Hulle wil ook aan boord van die Pacifica bly totdat hulle hul vliegtuigkaartjies in die hand het.

Costa Luminosa

Die Costa Luminosa het Donderdag in Marseille, Frankryk aangekom. Foto: (AP Photo/Daniel Cole)

Dit het egter min beteken vir passasiers op die Pacifica se susterskip, die Costa Luminosa, wat gister (Vrydag) steeds in Marseille voor anker gelê het. ʼn Bejaarde egpaar van Agulhas in die Wes-Kaap, Hermann en Ann Johl, het hul vlugkaartjies ontvang om verlede Donderdagaand met British Airways via Heathrow in Londen na Kaapstad te vlieg, maar kon nie by die lughawe in Marseille uitkom nie.

“Daar is nie ʼn kans dat hulle ons betyds by die lughawe kry nie,” het Hermann (74) laat die middag per WhatsApp aan sy seun, Francois, gesê.  Francois vertel dat sy pa by breekpunt is, want hy en Ann is reeds langer as vyf dae tot hul kajuit beperk en ontvang by tye net een bord kos wat hulle moet deel.

Die Luminosa het op 24 Februarie uit Fort Lauderdale, Florida, vertrek op ʼn vaart van 26 nagte wat hierdie naweek in Savona, Italië, sou eindig. Dinge het drasties verander toe een van die passasiers op 8 Maart met griepsimptome in ʼn hospitaal in San Juan, Puerto Rico, opgeneem is. Toetsuitslae het bevestig dat die persoon positief vir die koronavirus getoets het.

As voorsorgmaatreël is ander passasiers wat in kontak met die siek persoon was in isolasie geplaas en soos die pandemie in die wêreld versprei het, is die gesondheidsmaatreëls op die boot later tot die hoogste vlak verskerp.

Hermann en Ann Johl. Foto: Verskaf

“Niemand weet wat aangaan nie en nie Costa óf Imagine Cruising in Kaapstad gee vir hulle of vir ons inligting oor wat verder gaan gebeur nie,” sê Francois wat uiters bekommerd oor sy ouers is.

“Die Costa-redery het ook hulle boot-kredietkaarte, waarmee vir alles op die boot betaal word, gekanselleer. My pa het onderliggende siektetoestande en dit kan nie so aanhou nie.”

Hermann het Vrydag ʼn sterk bewoorde brief aan die Luminosa se kaptein gestuur waarin hy met regstappe dreig en daarop aandring dat die kaptein hom te woord staan.

“Die vlak van onbevoegdheid is werklik skokkend en so ook die totale gebrek aan inligting wat met ons gedeel word,” skryf Hermann in die brief. “Die noodlyn word nie eens meer beantwoord nie en geen bestellings kan vir enigiets geplaas word nie. Ons is bejaarde reisigers met talle onderliggende toestande en u bring nou ons gesondheid en geestelike welstand in die gedrang.”

‘n Vergadering aanboord van die Costa Pacifica waar die vuiste later tussen die bemanning en passasiers later geklap het

Intussen loop die gemoedere op die Costa Pacifica ook dikwels hoog. Donderdag het vuisgevegte onder die Duitse passasiers en bemanning uitgebreek en die Argentyne het die boot se kaptein uit sy kajuit gekry en amper aangerand.

“Imagine Cruising en Costa het drie weke gelede gesê dit was veilig om te vertrek,” sê Johan Ferreira wat namens die Suid-Afrikaners aan boord van die Pacifica praat. “Nou is dit ʼn krisis en erger dinge lê nog voor.”

Maroela Media het Imagine Cruising ook Vrydag twee keer om inligting genader, maar hul kliëntediens was steeds onder die indruk dat die Suid-Afrikaners in Marseille van die boot af is en dat Costa die terugvlugte gereël het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pampoen ·

Lyk my dit gaan regtig rof daar. In die advertensies word daar altyd gese hoe hulle jou gaan pamperlang en bederf. Maar as dinge skeef loop dan abandoneer hulle jou. Dan is dit elke hond vir homself en die duiwel vir die res. Dis nou maar die einde van luukse bootreise. Die Costas kan dit maar druk.

Dr Pieter ·

Dit moet ‘n nagmerrie wees vir die arme passasiers. Dis jammer dat die Kaptein nie behoorlik kommunikeer met sy passasiers nie. Ek het die voorreg gehad om by vyf geleenthede met een van MSC se skepe te vaar en daar was daaglikse nuusbriewe wat in elke kajuit afgelewer is. Afkondigings oor die PA in kajuite is ook gedoen, maar is ongelukkig onduidelik. Veiligheid is altyd hulle hoogste prioriteit en tydens storms moes ons etlike kere in ‘n ander rigting vaar as die beplande roete, maar die nuusbrief het volledige inligting gegee en in die kajuit is die jongste inligting op die TV skerm. Sal weer met MSC vaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.