SA’ners op skip toets positief vir Covid-19

ʼn Klein boot vaar naby die ontspanningskip, Diamond Princess, wat in die Yokohama-hawe naby Tokio geanker is. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Twee Suid-Afrikaners aan boord van die Diamond Princess-skip in ’n hawe by Japan het positief getoets vir die gevreesde koronavirus, oftewel Covid-19.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê in ’n verklaring die Japannese owerhede het die departement Dinsdag in kennis gestel dat twee Suid-Afrikaanse bemanningslede positief vir Covid-19 getoets het. Die Suid-Afrikaners word tans in Japan behandel hoewel hulle nie in dié stadium enige simptome toon nie.

Volgens Manzi is daar 12 Suid-Afrikaanse bemanningslede op die Diamond Princess. “Dit is in hierdie stadium beter dat die Suid-Afrikaners wat positief getoets het vir Covid-19 in Japan behandel word,  sodat hulle ten volle herstel en nie meer aansteeklik is wanneer hulle terugkeer na Suid-Afrika nie,” sê Manzi.

Manzi sê die ander tien Suid-Afrikaners sal toegelaat word om die skip te verlaat sodra hulle negatief vir die virus getoets en die nodige goedkeuring van hul werkgewer ontvang het. Hulle sal wel vir 14 dae in kwarantyn geplaas moet word en weer getoets word, voordat hulle enige reisplanne kan maak.

Passasiers aan boord van die Diamond Princess-skip (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

“Hierdie maatreëls is noodsaaklik vir openbare veiligheid, as ons in ag neem dat hulle beduidend blootgestel is aan Covid-19 aan boord van die skip.”

Die skip is reeds ’n geruime tyd in ’n hawe in Jokohama vasgemeer, nadat die virus onder passasiers uitgebreek het. Manzi verduidelik passasiers is ná die uitbreking in kwarantyn geplaas. Nietemin het 705 mense aan boord sedert die begin van die maand die virus opgedoen. Die departement sê hy is eers aan die einde van die kwarantyntydperk ingelig van die groep Suid-Afrikaners op die skip.

Volgens Manzi monitor die departement die situasie en is deurgaans in verbinding met die Japannese owerhede.

Verslaggewers buite die Diamond Princess by ‘n hawe in Jokohama. (Foto: C. Hong, AP)

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het intussen opdrag gegee dat Suid-Afrikaners in Wuhan, China, terug na Suid-Afrika gebring moet word.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het gesê daar is na raming 199 Suid-Afrikaanse burgers in Wuhan.

“In dié stadium het 132 van diegene op die lys versoek om teruggebring te word na Suid-Afrika. Geen geraakte burgers is met die virus gediagnoseer of het enige simptome daarvan getoon nie. Met hul aankoms in Suid-Afrika sal hulle egter vir 21 dae in kwarantyn geplaas word as bykomende voorsorgmaatreël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Ai tog! Ramiekie uitnek gaan hul seeker nou met n spoed invlieg

CHARMAINE

En so kom die virus Suid Afrika toe. Ai ai ai…..

Toy

Ek stem laat hulle eers heeltemal herstel voor hulle terug kom. Ramaposa moet eers met die slim ouens (Dr’s, Professors en mense wat werk in die Labs wat met aansteeklike siektes werk) beraad hou en hoor wat hulle se, ek dink nie hy is ‘n Dokter nie.

Luister

Ek neem aan almal aan boord van die vliegtuig/-tuie sal onder kwarantyn geplaas word – loodse ingesluit…

J

Moeder natuur het die ingeboude vermoë om haarself voortdurend te hernuwe en te balanseer.

Super virusse (soos HIV en Corona en Super Bakterië soos Buboniese plaag) is die ontplooide ‘vegters’ wat die wanbalanse gaan herstel?

Saam met ander ‘vegters’ uit Moeder Natuur se arsenaal soos bv. kanker, hartvatsiektes ens. …. EN klimaatsverandering?

Moeder natuur is KWAAD!… of desperaat?