SA’ners op vasteland gestrand weens vertraagde repatriasievlug

Die vlug het oënskynlik steeds nie na Nairobi vertrek nie.

ʼn Groep Suid-Afrikaners wat in Kenia ʼn repatriasievlug van die redery CemAir sou haal, het steeds geen idee wanneer die vlug – wat nou reeds vyf keer uitgestel is – gaan vertrek nie.

Righardt Schutte en sy vrou, Deleine, is van die passasiers wat in Nairobi gestrand is nadat die vlug eindelik Dinsdagoggend sou vertrek, maar toe vertraag is. Die vlug is Woensdag wéér uitgestel.

Schutte, ʼn sakeman in Kenia wat weens die Covid-19-pandemie nou na Suid-Afrika probeer terugkeer, sê hulle het gister by die lughawe aangekom, vas onder die indruk dat die vlug op skedule is. Hulle is deur immigrasiebeheer, het hul bagasie ingeweeg en het by die vlughek gewag om aan boord te gaan, toe hulle ingelig is dat die vlug met drie ure vertraag is.

Schutte sê hulle is daarna meegedeel dat die vliegtuig glad nie meer op pad is nie. Hulle is weer deur immigrasiebeheer, het hulle bagasie opgepik en moes die gebou verlaat.

“Dit is ʼn baie slegte situasie. Sommige van die passasiers het niks meer geld oor nie en kon nie eens taxigeld bekostig nie. Ons probeer mekaar help met dinge soos akkommodasie en ontbyt,” sê Schutte.

ʼn Hotelkamer kos $170 – oftewel nagenoeg R3 000. Schutte sê nadat hulle die situasie aan die hotelbestuur verduidelik het, kon hulle minstens ʼn goedkoper tarief kry. Diegene wat kon, het verblyf by familielede of vriende in die stad gekry.

Righardt Schutte en sy vrou, Deleine, is van die passassiers wat in Nairobi gestrand is.

Vir baie mense raak die situasie egter nou bykans onhoudbaar. Verskeie van die passasiers was sakelui wie se ondernemings in Kenia skipbreuk gely het en die bykomende koste weens die aanhoudende vertragings plaas hulle in ʼn benarde posisie.

Schutte sê tot dusver was CemAir se kommunikasie oor die situasie hopeloos onvoldoende.

“Ons weet daar is baie hoops waardeur hulle moet spring, maar práát minstens net met ons,” sê hy.

Die Schuttes se vliegkaartjies het hulle amper R40 000 uit die saak gejaag.

Kevin Ellis is veronderstel om dieselfde vlug te haal. Die CemAir-vlug is veronderstel om in Johannesburg te vertrek, en gaan dan na Nairobi in Kenia, van daar na Kigali in Rwanda, na Lubumbashi in die Demokratiese Republiek van die Kongo en vlieg dan weer terug na Johannesburg.

“Die inligting wat die redery gee, kom in horte en stote en ek het vertroue verloor in hul vermoë om die diens te lewer,” het Ellis, wat self amper R19 000 vir ʼn eenrigtingkaartjie betaal het, gesê.

“Ek besef dit is ʼn ingewikkelde proses, maar CemAir se kommunikasie tot dusver was uiters swak. Die onsekerheid is geweldig frustrerend. Hulle is nie besig om ons ʼn guns te doen nie. Hierdie is ʼn saketransaksie wat hulle moet nakom.”

Miles van der Molen, uitvoerende hoof van CemAir, het Vrydag in ʼn Facebook-boodskap gesê die vlug is na Dinsdag geskuif weens uitstaande permitte. “Hoewel passasierslyste en permitaansoeke ingedien is, het ons nog nie al die nodige toestemming ontvang nie. Daar is ʼn moontlikheid, maar geen waarborg nie, dat ons die uitstaande toestemming oor die naweek kan kry.”

Volgens Van der Molen het hulle besluit om die vlug vir Dinsdag te skeduleer om genoeg tyd te gee vir die aansoeke om verwerk te word.

CemAir het Woensdagoggend laat dié boodskap aan passasiers gestuur.

“Ons vra om verskoning vir die ongerief en besef die frustrasie en teleurstelling wat dit gaan veroorsaak. Verstaan asseblief dat ons in ongekende tye werk en verskeie ooreenkomste in verskillende lande moet koördineer. Die vlug is bevestig en sal gebeur,” het hy gesê.

Maroela Media het ʼn navraag aan Van der Molen gestuur oor die jongste stand van sake en wag op terugvoer.

Schutte sê passasiers besef goed sekere permitte moet bekom word voordat ʼn vliegtuig kan land en opstyg. Dié permitte verval egter na ʼn sekere tydperk, waarna vir ʼn nuwe een aansoek gedoen moet word. Elke keer wat die vlug dus vertraag word, het dit ook ʼn uitwerking op die geldigheid van die permit vir die volgende bestemming waar daar geland en opgestyg moet word.

“Dit is net ʼn bose kringloop,” sê hy.

CemAir het Woensdagoggend in ʼn boodskap aan passasiers gesê die vlug is weer gekanselleer en dat Van der Molen binnekort meer inligting sal verstrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

en wanneer hulle eendag in SA aankom, wag daar eers smarte vir hulle: 2 weke kwarantyn in ‘n haglike kamp, gevolg deur ‘n lewe van beurtkrag, swak of geen munisipale dienslewering, vuil swak staatshospitale, onbeheerbare misdaad EN regstellende aksie en BEE. Hulle sal keer op keer nie werk kry nie, met altyd dieselfde verskoning: hulle het nie die “regte” velkleur nie.

ElizeK ·

Ek verstaan glad nie hoekom dié mense wat SA verruil het vir groener weivelde nou duisende rande spandeer om terug te keer nie.
Is SA virus vry of wat mis ek hier.

Erik ·

Geen van hierdie mense het ge-emigreer nie. Hulle is of Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk (tydelik) of was vasgekeer tydens ‘n besoek aan ander land.

Mariska ·

Baie mense werk moontlik net in ander lande en het nie soontoe emigreer nie, dus moet hulle terugkeer na SA wanneer hulle hul werk verloor het. Dit is erg genoeg, en nog meer aaklig dat daar so met hulle woer-woer gespeel word. Ook vreemd: SA is al 54 dae in “lockdown”, maar die virussyfers neem TOE. Dus werk die belaglike en onrealistiese “lockdown” glad nie.

Kokerboom ·

Dis ‘n skreiende skande dat mense so uitgebuit word. Afrika bly maar ‘n moeras.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.