SA’ners presteer tydens uitmergelende roete in Italië

Armand du Plessis by die eindstreep van die Tor des Geants (Foto: Taryn King)

Armand du Plessis by die eindstreep van die Tor des Geants (Foto: Taryn King)

Armand du Plessis, een van die Suid-Afrikaners wat aan die uitmergelende Tor des Geants (“reis van die reuse”) in die Italiaanse Alpe deelgeneem het, het Vrydagoggend ná meer as 113 ure op die pad, die wedloop voltooi.

Die Tor des Geants is ʼn veldwedloop van meer as 330 km met ʼn algehele hoogte bo seespieël van 24 000 m. Die deelnemers het Sondag, 11 September, om 10:00 in Courmayeur weggespring.

Du Plessis het ná 113 uur en 7 minute in die 67ste posisie by die eindstreep aangekom – ʼn merkwaardige prestasie.

Luc Steens, ʼn Belg wat onder die Suid-Afrikaanse vlag deelneem, is nog besig met die roete en sal na verwagting Vrydagaand of Saterdagoggend klaarmaak. Steens het reeds 274 km van die roete afgelê.

Die afsnytyd is 150 uur (net meer as ses dae) en die deelnemers hardloop aaneen. Tydens die veldloop het deelnemers deur meer as 34 munisipaliteite gehardloop, 25 bergreekse, 30 ysmere en twee natuurlike parke oorgesteek.

Daar is altesaam 21 verversingspunte waar die hardlopers kan eet en vinnig kan slaap en ook mediese behandeling kan ontvang indien nodig. Daar is ses basispunte wat groter is as die verversingspunte waar die deelnemers ʼn rukkie langer kan vertoef.

Weens die moeilikheidsgraad van die wedloop, maak meeste atlete nie klaar nie. Van die 765 atlete wat vir vanjaar se Tor des Geants gekwalifiseer het, het 290 atlete reeds onttrek, waaronder die Kapenaar, Linda Doke.

Die rekordtyd vir die roete is in 2013 deur die Spanjaard, Iker Karrera, opgestel toe hy die roete binne 70 uur, 4 minute en 15 sekondes voltooi het.

Die Italianer, Bosatelli Oliviero, was eerste oor die wenstreep ná 75 uur en 10 minute. Oscar Perez Lopez van Spanje het ses ure ná Oliviero by die eindstreep aangekom.

Jongste nuus: Steens het Saterdagoggend, 17 September, net voor 10:00 klaargemaak. Steens was 143 ure en 57 minute lank op die pad.

Lees ook: Volg SA’ners regstreeks wat aan uitmergelende wedloop deelneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

E.K. ·

Absoluut fantasties – dankie Maroela! Danksy jul eerste berig het ons hom al die pad gevolg op die skakel op jul eerste berig. Wonderlike prestasie – baie geluk!

Lize ·

Baie geluk. Dit seker 2400m bo seevlak en nie 24 000m nie, anders het hulle met ‘space suits’ deelgeneem.

Sune van Heerden ·

Dagsê Lize

Dit is inderdaad 24 000 m bo seevlak – dit is die algehele “elevation” van die roete, dus 24 km oor die hele roete, op en af oor die berge. Tafelberg is 1 000 m bo seespieël, die roete is dus gelykstaande aan ongeveer 24 keer Tafelberg op en af met meer as drie Comrades-marathonne tussendeur. ‘n Merkwaardige prestasie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.