SA’ners rasend oor binnelandse sake

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Skermskoot/Google Earth)

Raadop Suid-Afrikaners sukkel nou al meer as ʼn week om paspoorte of ID-dokumente by verskeie kantore van binnelandse sake te hernu en staan soms ure in die tou, net om onverrigtersake weggestuur te word. Dit omdat die aanlynstelsel verskeie kere per dag ineenstort.

Binnelandse sake sê verskeie probleme het ontstaan nadat die stelsel opgradeer is, daarom dat die stelsel telkens aflyn is.

Suné Uys, ʼn inwoner van die Wes-Kaap, sê sy wou aanlyn aansoek doen vir haar paspoort, maar moes ʼn plaaslike tak besoek toe iets fout gaan met haar wagwoord.

“Ek het binnelandse sake vir dae aaneen gebel, maar niemand het die foon geantwoord nie. Daar is eindelik vir my gesê dat ek een van my plaaslike kantore moet besoek,” sê sy.

“Ek was twee weke gelede by binnelandse sake in Stellenbosch. Ek het 07:00 opgedaag en ná vyf uur se gewag maar weer huis toe gegaan, aangesien die ry skaars beweeg het.”

Uys het vandeesweek ʼn ander binnelandse sake-tak in Wynberg besoek, maar dié keer reeds om 5:40 in die ry geval.

“Ek het ʼn nommer gekry om aan te dui wanneer ek gehelp sal word, maar die stelsel het drie keer aflyn gegaan en teen 15:30 is ek steeds nie gehelp nie. Meer as 100 mense het heeldag gewag sonder om gehelp te word. Kosbare werktyd gaan so verlore.”

Sy sê haar paspoort verval in April en indien sy moet reis vir werk, sal sy nie eers ʼn vliegtuigkaartjie na die buiteland kan bespreek sonder ʼn paspoort nie.

Lomea Heyns, wat in die omgewing van Steynsrus in die Vrystaat boer, het byna presies dieselfde ervaar.

Heyns het Woensdag net voor 06:00 by binnelandse sake in Kroonstad – wat duisende mense in omliggende dorpe moet bedien – aangemeld.

Sy het vir drie uur in die tou gestaan voordat daar vir haar gesê is dat die stelsel aflyn is en dat sy liefs op ʼn ander dag moet probeer.

Dié kantoor se stelsel is glo vir byna ʼn week al aflyn.

“Dit is 100 km wat ek van die plaas af moet ry om by die kantoor aan te meld. Ek kan nie net op ʼn ander dag weer probeer nie,” sê sy.

Sy oorweeg dit om Vrydag terug te gaan, maar kry niemand by die kantoor in die hande om te bevestig of die stelsel wel weer aanlyn is nie.

Heyns, wie se paspoort reeds verval het, sê sy het ʼn nuwe een dringend nodig aangesien sy in Julie vir haar dogter in Nederland wil gaan kuier.

“Ek moet vliegtuigkaartjies bespreek en ek kan dit nie doen as ek nie ʼn geldige paspoort het nie,” sê sy.

“Dit is uiters frustrerend en dit kan nie vir altyd so aangaan nie. Die probleem moet aandag kry.”

Binnelandse sake ‘werk daaraan’

Siyabulela Qoza, woordvoerder van binnelandse sake, het aan Maroela Media gesê dat die departement van binnelandse sake onlangs sy stelsel opgradeer het, wat ʼn paar “tegniese probleme” tot gevolg gehad het.

“Die opgradering was daarop gemik om die doeltreffendheid van die stelsel te verbeter, maar ʼn paar probleme het ingekruip,” sê hy.

“Die stelsel is nou suksesvol opgradeer en kantore regoor die land kom geleidelik weer aanlyn. Daar is wel kantore wat steeds tegniese probleme ervaar wat veroorsaak dat hulle aflyn is.

“Tegnici is besig om aandag daaraan te gee.”

Die departement het onlangs ʼn toetslopie vir ʼn nuwe stelsel van stapel gestuur, sodat Suid-Afrikaners aanlyn ʼn tydgleuf kan bespreek om hul paspoort te hernu of ʼn nuwe ID-dokument te kry.

Hoewel dié besprekingstelsel steeds probleme veroorsaak, sê Qoza dat dit nie verband hou met die stelsel wat dokumentasie vir paspoorte en ID-dokumente verwerk nie en dus nie verantwoordelik is vir die afgelope week se probleme nie.

“Mense wat ʼn binnelandse sake- kantoor besoek, het die reg om te vra om met die kantoorbestuurder te praat as hulle ontevrede is met diens,” sê Qoza.

“Ons vra geduld terwyl ons werk om alle dienste te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

domheks ·

Watter regerings kantoor werk in die land!???? Dan staak die lot in Pretoria – en geen voertuig hernuwings lisensies kan uitgereik word nie!

Johann ·

ONBEVOEGD! En plain te.slapggggttt om om ye gee om iets te doen.

Marius ·

Hulle pas by die res van die staat wat ook in duie gestort het. Hopelik kan hul nou ook nie id’s vir al die naburige afrika lande se burgers uitdeel nie.

Pietertjie ·

Die groot probleem is dat daar geen gevolge is vir sulke laksheid nie. Probeer mens regs-aksie teen hulle, beveg hulle jou met belastinggeld. Dis nou as dáái deel van die Staat funksioneer…

Lizette ·

Dis nie net nou se probleem nie! Dis al J-A-R-E!!! En dit lê by die mense, vra my, ek is baie daar…as julle kyk orals staan hulle, banke, poskantoor, verkeersdepartement…ens.

Andries ·

“wat ʼn paar “tegniese probleme” tot gevolg gehad het.” Seker weer boetie wat die tender gekry het.

Antonk ·

Hoe kan daar duisende mense elke dag by die kantore landwyd wees.Wanneer gaan gaan hulle die mense verminder wat daar kom of doen baie mense elke dag aansoek vir n nuwe aansoek vir n ID of paspoort?

Corne123 ·

Lekker man lekker ANC so sal hulle die land helemal to nuut laat gaan.Zimbabwe gaan nou na n eerste wereld lyk invergelyking met SA

Renier johannes ·

Wat werk van dat die anc in bewind gekom het niks

Schalk ·

Die tegniese probleme wat opduik met stelsel is mens aangedrewe LOL

Louis ·

Op my pa wat verlede jaar Junie oorlede is, se doodsertifikaat staan dat hy getroud is, terwyl my ma lankal oorlede is. Ek was gereeld by Binnelandse sake om dit te probeer regstel, maat tevergeefs. Agt maande later en nog steeds niks. Dan word daar vir my gesê ” maar dit vat lank om reg te maak”. Hoe lank om 1 woord te skrap en iets anders in te tik??? Ons land is in ‘n verskriklike ellende. Wst gaan van ons word?????

Wondermaarnet ·

Die diens is in die algemeen baie swak. Deure wat 08h00 moet open, word eers teen 08h10 oopgemaak en dan word daar eers gesels en koffie gedrink voor iemand gehelp word.

Jacobus ·

Sit eenvoudig almal in Binnelandse Sake se salarisse op “hold” tot probleem opgeklaar is. Storie van feitlik elke departement. Astronomiese salarisse en geen diens!

Toy ·

Daar word altyd ‘n verskoning gesoek as iets nie werk nie, mens is stadig maar seker om dik te raak vir alles wat nie werk en in ‘n toestand is. Mens moet nooit dit net aanvaar dit is hoe dit gaan nie want dan raak mens net so sleg. Hulle moet nou wakker word en regtig iets aan die land se toestand begin doen. Hou op verskonings soek.

Jr ·

Geen probleem. Stem net weer vir hulle in 2024. Weet nie hoeveel keer gaan hierdie mense hulle tone stamp voor hulle leer. Gun medisyne vir hardkoppigheid

Misky ·

Omtrent 2 jaar gelede is aangekondig die ou groen boekie gaan wegval en nuwe ‘smart id kaart’ sal uitgereik word en slegs dit by sekere plekke aanvaar word. Paar maande gelede doen ek en my seun ons id’s. Na 7 ure se wag in die ry en bloedige son, hoor ons hulle reik net ou boekies uit by daai spesifieke kantoor. Hoe dan nou????

Daardie dag was ‘n vrou daar om haar pasgebore baba te registreer. Sy het meer as 8 ure in daai son gestaan met ‘n week oue baba wat moeilik en honger raak. Waar is die menslikheid?

Fanie ·

Dit het niks met ‘n nuwe stelsel of opgradering te doen nie. Ek het in 2020 4 keer in Alberton probeer om my paspoort af te haal en elke keer onverrigter sake huis toe gegaan. Dit is bloot swak diens weens onbevoegdheid.

Wim ·

Dienslewering vanuit die Pretoria hoofkantoor van die SA Dept Binnelandsesake bestaan hoeka al jarre nie meer nie. Die probleem stop nie by paspoorte en IDs nie. Skeisake en doodsertifikate word nie betyds, of glad nie, in die stelsel ingevoer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.