SA’ners stres, stry meer te midde van pandemie

Argieffoto (Foto: Unsplash/ Priscilla Du Preez)

Altesaam 56% van mense in Suid-Afrika ervaar nou hoër vlakke van sielkundige en emosionele spanning as vóór die Covid-19-pandemie.

Só toon ’n nasionale opname deur die farmaseutiese reus Pharma Dynamics waaraan meer as 1 200 Suid-Afrikaanse volwassenes oor die land deelgeneem het.

Die resultate is Maandag bekend gemaak.

Die opname onthul dat 53% van dié deelnemers óf hul werk verloor of ’n besnoeiing van salaris ervaar het óf hul onderneming se deure moes sluit weens die algehele landwye afsondering wat in Maart ingestel is in ’n poging om die koronavirus hok te slaan.

Volgens Abdurahman Kenny, portefeuljebestuurder van geestesgesondheid by Pharma Dynamics, sukkel baie van die deelnemers wat stres voorheen goed hanteer het, boonop nou om kop bo water te hou.

Altesaam 81% van deelnemers het hulle te midde van die pandemie tot ongesonde kos gewend, 20% tot alkohol, 18% tot sigarette, 6% tot dagga en 22% tot antidepressante of angswerende medikasie.

Sowat 65% het erken dat hulle hul gesondheid oor die afgelope sewe maande verwaarloos het, 52% het gesukkel om te slaap, 20% van paartjies het meer gestry as voorheen terwyl mishandeling met 5% toegeneem het.

Die opname het verder bevind dat 68% van deelnemers bekommerd was oor die uitwerking van die pandemie op die samelewing en die ekonomie, byna ’n derde was depressief en 6% het selfmoord oorweeg.

Volgens Kenny het die onderbreking in deelnemers se roetine en ekonomiese aktiwiteit te midde van die pandemie ’n vernietigende uitwerking op hul geestesgesondheid gehad.

“Rekordhoë werkloosheidsvlakke, ekonomiese onsekerheid (plaaslik asook in die buiteland), isolasie, bykomende kinderversorgingsverantwoordelikhede (tuisonderrig) terwyl mense werk en die voortdurende vrees om die virus op te doen, is alles faktore wat angs en spanning verhoog.

“Die kwessie dat byna die helfte van die deelnemers tydens die pandemie by ’n terapeut wou aanklop, maar dit nie kon doen nie weens beperkte finansiële hulpbronne, beklemtoon dekades van verwaarlosing en onderbelegging in geestesgesondheidsdienste in ons land,” meen Kenny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baardman ·

Die ander 47% werk waarskynlik vir die staat, daarom het hulle geen stres nie

Jacobus ·

Presies wat die plunder varke be-oog het. Die maatreëls presies daar gestel om te ontwrig en vernietig – is ons verbaas. Frustrasie is wanneer jy ‘n probleem sien kom en wanneer hy kom is jou hande afgekap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.