SA’ners uit Mosambiek gerepatrieer

‘n Argieffoto van Palma in Mosambiek (16 Februarie 2017) (Foto: John Wessels/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het ses Suid-Afrikaners gerepatrieer wat in die kusdorp Palma, in die noorde van Mosambiek, vasgekeer was nadat Mosambiekse soldate ʼn aanval op militante djihadiste uitgevoer het. Die liggaam van Adrian Nel (40), die Suid-Afrikaanse man wat in dié gekoördineerde aanvalle doodgeskiet is, is ook teruggebring.

Die lugmagvliegtuig het van Mosambiek na KwaZulu-Natal gevlieg waar amptenare van die departement van gesondheid die passasiers eers vir Covid-19 getoets het. Die vliegtuig is daarna na Gauteng.

Hierdie ses Suid-Afrikaners was deel van ʼn groep van sowat 200 buitelanders wat glo in die luukse Amarula Palma-hotel vasgekeer was nadat die Islamitiese ekstremiste Woensdag dié dorp ingeval het. Vreesbevange inwoners het sedertdien die bosse in gevlug.

Nel en vyf ander buitelanders is na wat verneem word dood toe hulle van die aanvallers probeer vlug het.

Die aanval kom kort nadat die Franse oliereus Total sy planne aangekondig het om konstruksiewerk op die nabygeleë perseel van ʼn buitelandse gasprojek van $20 miljard te hervat.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse ambassade in Maputo, Mosambiek, kon daarin slaag om altesaam 43 Suid-Afrikaners op te spoor wat geraak is deur die aanval. Die Suid-Afrikaners is in ’n gebied bekend as Afungi, ʼn paar kilometer buite Palma, opgespoor.

Die groep Suid-Afrikaners sluit in twee mans wat tydens Vrydag se aanvalle op ’n konvooi voertuie buite die Amarula Palma-hotel die bosse in gevlug het, asook die 21-jarige Francois van Niekerk wat weggekruip het en deur soek-en-reddingshelikopters gevind is.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), sê Dirco wil die Mosambiekse regering bedank vir die hulp wat hy aan die Suid-Afrikaanse burgers verleen het. Die regering het ook gehelp met die verwydering van hierdie groep.

“Die Suid-Afrikaanse ambassade in Maputo is gereed om konsulêre dienste te lewer aan Suid-Afrikaners in Palma wat hulp benodig,” sê Monyela.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Hier kom groot moeilikheid vir SA. Ons is verplig om te gaan help daar maar met wat ???? Ons weermag beteken absoluut niks. En as ons gaan help dan begin die tereur in SA. Ons sal moet begin bid vir uitkoms. Net die liewe Vader kan ons help

Anoniem ·

Ons sal onsself ook moet help, die liewe Vader gaan ons net die wysheid en deursettingsvermoë gee, die res moet ons self doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.