Die Mosambiekse ekstremiste wat die noordelike dorp Palma die afgelope week ingeval het, het nou beheer van die dorp oorgeneem. Sekerheidsmagte kon wel daarin slaag om meer as 100 buitelanders, onder wie Suid-Afrikaners, uit die hotel te verwyder waar hulle skuiling gesoek het.
Volgens AFP het regeringstroepe nou uit die omgewing onttrek. Dié spook sedert Woensdag om djihadiste wat Palma ingeval het, te verdryf. Verskeie buitelanders, onder wie ʼn Suid-Afrikaner, is tydens die struwelinge dood. Nóg Suid-Afrikaners, wat vermoedelik by ʼn nabygeleë aardgasaanleg werk, het in die luuksehotel Amarula Palma probeer skuiling vind. ʼn Helikopter probeer sedert Vrydag buitelanders uit dié hotel red. Saterdag is meer as 100 buitelanders na ʼn nabygeleë militêre kamp geneem. Ander is met bote na ʼn onbekende ligging geneem.
Intussen het die Suid-Afrikaanse regering gesê hy sal bykomende personeel beskikbaar stel om te help soek na vermiste Suid-Afrikaners in Mosambiek. “Die Suid-Afrikaanse regering het met kommer kennis geneem van onlangse aanvalle teen buitelandse burgers, onder wie Suid-Afrikaners, in Palma Vrydag. Daarom is bykomende personeel beskikbaar gestel om te help om Suid-Afrikaners in Mosambiek op te spoor en bystand te bied aan dié wat geraak is,” het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) Saterdagaand in ʼn verklaring gesê.
Maroela Media het Saterdag berig dat die 21-jarige Francois van Niekerk, wat vir sy pa se sakeonderneming in Palma werk, vermis word. Op die Facebook-groep Bringfrancoishome vra familielede dat mense vir Van Niekerk bid. Sy geliefdes het Woensdag laas met hom kontak gehad, toe djihadiste Palma binnegeval het.
“Daar is ʼn massiewe storm oor Palma. Kom ons hoop dit klaar teen môreoggend (Sondag) op. Ek bid dat Francois droog en veilig is,” lui ʼn inskrywing Saterdagaand op die blad.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
onse Vader, as dit U wil is, help om van niekerk en ander na veiligheid te bring, net deur U is so iets moontlik
Dis ni maklik om in Modambiek te bly ni. Baie aanvallende mense. Polisie loop mt ak7 en vat jou lisensie as jy ni bribes betaal nie. Ek beveel niemand aan om daar te bly ni
Dit is nie dat ons nie betyds vooraf gewaarsku is nie. Die SA Regering het bitter min gedoen intussen (SA het ook nie juis ‘n betroubare weermag nie).
Hierdie is ‘n ongeluk wat ‘n plek gesoek het om plaas te vind. Uiters onbeholpe SANW.
Stuur ons weermag om gou te gaan skoonmaak en die S A burgers terug te bring
Ons Here.
Wees daardie mense wat na veiligheid geneem moet word, die reddings span, helikopters, grondpersoneel en elke persoon wat gesoek word, GENADIG.
Net GOD kan, nie ‘n mens nie
Amen