SA’ners ure sonder kos, water op Chinese lughawe

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

“Ek het soos ʼn dier in ʼn hok gevoel wat moes smeek vir kos. Dis onmenslik.”

Só vertel ʼn 55-jarige Suid-Afrikaner wat saam met sowat 90 ander Suid-Afrikaners die afgelope naweek ure lank op die Guangzhou-lughawe in China op hul repatriasievlug met Zimbabwe Airlines gewag het. Omdat al die winkels op die lughawe gesluit was, moes hulle vir lank sonder kos en water klaarkom.

Die groep sou aanvanklik Donderdag uit China vertrek het, maar die vlug is weens herstelwerk vertraag. Die groep het Sondagaand tot by die Kuala Lumpur-lughawe in Maleisië gevlieg, waar hulle moontlik ʼn verdere 16 uur vir hul aansluitingsvlug van Wuhan in China na Suid-Afrika sal moet wag.

Die gestrande Suid-Afrikaner wat graag anoniem wil bly, vertel hulle het sedert Vrydag laatmiddag vir omtrent 16 uur by die Guangzhou-lughawe gesit en wag. Hulle het in dié tyd nie nat of droog oor hul lippe gehad nie. Van hulle het op die vloer gelê en slaap.

“Die kinders het hul ouers begin smeek vir kos. Die ouers kon net hulle skouers opgetrek, want hulle het nie kos gehad nie en die winkels was gesluit. ʼn Ma kon haar pap baba van ses weke oud nie borsvoed nie, want sy was self flou van die honger,” vertel die Suid-Afrikaner.

Teen Saterdagmiddag het die Suid-Afrikaners die Chinese amptenare op die lughawe gesmeek om hulle te help. “Al kon ons net uit die lughawe gaan om kos te koop, sou dit reeds help,” sê die Suid-Afrikaner.

Die Suid-Afrikaner sê die amptenare op die lughawe het met die Maple Aviation- lugvaartdiensonderneming, wat die repatriasievlug gereël het, kontak gemaak en daar is toe oornag akkommodasie vir die groep by ʼn nabygeleë hotel gereël.

“Teen Sondagoggend het die amptenare by die lughawe ons ingelig dat die vlug wag vir toestemming van die Chinese regering voordat hy kan vertrek. Ons het toe Sondagaand om 21:00 uiteindelik op die vliegtuig geklim.”

Die Suid-Afrikaner vertel hulle het die aand eers teen 22:45 gevlieg. “Ons moes vir amper twee uur in die vliegtuig sit en wag. Dit het gevoel asof ons in ʼn sauna sit, omdat die lugverkoeler afgeskakel was weens die vliegtuig se enjins wat nog nie aangeskakel mag word nie. Ons was na aan dehidrasie, en moes die personeel vra vir water.”

Hulle vertel toe hulle uiteindelik opstyg, het almal hande geklap.

Die Suid-Afrikaners wag tans op die Kuala Lumpur-lughawe vir die aansluitingsvlug van Wuhan. Hulle verwag om Maandagaand om 20:00 na OR Tambo-lughawe in Johannesburg te vertrek.

“Intussen wag ons nou weer, net op ʼn ander lughawe.”

Prenisha Naicker, die HomeAwayFromHome- (HAFH) verteenwoordiger in Asië, het bevestig dié groep sal na verwagting Dinsdag in Suid-Afrika aankom.

Die Suid-Afrikaner vertel daar sou op 17 Junie ʼn repatriasievlug van SAL wees, maar dit is op die laaste minuut sonder enige rede gekanselleer. Turkish Airlines sou op 22 Junie ook ʼn vliegtuig stuur, maar dié lugredery het nie die nodige regte gehad om in China te land nie.

Die Suid-Afrikaner sê hulle kry geen hulp van die Suid-Afrikaanse regering of ambassades nie. “Ons is aan ons eie genade oorgelaat.”

Dié groep Suid-Afrikaners is gefrustreerd en raadop. Van die Suid-Afrikaners is al sedert Januarie in China gestrand. “Ons senuwees is stokstyf gespan. Ons is emosioneel uitgeput en wil by ons mense uitkom.”

Die Suid-Afrikaner se suster, wat ook nie haar naam genoem wil hê nie, sê haar broer het haar Maandagoggend in trane gebel.

“Volgens die oorspronklike skedule sou hulle al Saterdag geland het. My hande voel so afgekap. Ek wil net hê hy moet nou terugkom huis toe,” vertel sy.

Maroela Media het ʼn navraag aan Lunga Ngqengelele en Clayson Monyela, albei woordvoerders van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), gerig, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

En gaan nog lank wag op terugvoer want niemand doen hul werk nie

Sarel ·

Sal graag wil weet hoekom die SA Burgers steeds in die Buiteland is en nie eerder na SA terug gekeer het nie? Hoekom is daar nog steeds probleme met Repatriasie vlugte of is Lugruim steeds gesluit?

Agge nee ·

Sommiges sukkel al van Januarie af om terug te kom. ‘n Bewys dat die regering is natuurlik van gróót hulp is om die gestrandes se terugkeer te vergemaklik.

Mariana ·

En dit is hoe baie die Suid-Afrikaanse regering omgee vir sy mense…….net mooi niks. Weereens mense wat groot salarisse ontvang uit die belastingbetaler se sak wat nie hul werk doen nie.

JohanR ·

Wag maar die Chinese kom. Soe baie as wat in SA kan ingepak word…..miskien soe 75 miljoen? As julle dink die ANC is ‘n klomp gemors, wag maar tot die Chinese regeer hier aan die onderkant van Afrika. Hopelik by daai tyd is ek wurm kos, of bly iewers anders asseblief.

Elizabeth ·

Dis een ding wat Corona baie duidelik kom uitwys het:- dat sekeres nie in die wieg gele is om ‘n land te regeer nie – het net nie die breinkrag en wil nie.

Yolandie ·

My hart gaan uit na julle toe. Ek bid dat julle veilig in SA sal kom. Sterkte!!!!

Cherokee ·

Maroela, staan die inwoners van Sjina nie bekend as Sjinese, nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.