SA’ners voel al hoe meer onveilig

(Argieffoto: Andri Tambunan/AFP)

Hoewel die meeste Suid-Afrikaners volgens ʼn opname van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) steeds veilig voel om bedags of snags in hul woonbuurte rond te stap, voel minder mense veilig as ʼn jaar gelede – én al hoe meer mense doen stappe om hulself teen misdaad te beskerm.

Risenga Maluleka, statistikus-generaal, het Dinsdag die bevindings van die jongste misdaadslagoffer-opname bekend gemaak.

Altesame 47,7% van Suid-Afrikaners doen iets om hulself teen misdaad te beskerm, maar Maluleke sê dit beteken nie hulle is besig om wapens op te neem nie. Inteendeel, mense wysig eerder hul stappatrone om hulself teen misdaad te beskerm, sê die statistikus-generaal.

Net minder as ʼn derde van mense het beskermingsmaatreëls, soos die installering van ʼn veiligheidsdeur, ingespan om hulself teen misdaad te beskerm en 16% van mense sê hulle is meer bewus van hul omgewing.

Altesame 3,8% van mense het aangedui dat hulle nou ʼn wapen dra om hulself te beskerm en dit sluit in wapens soos vuurwapens, messe, ʼn skroewedraaier of ʼn lem.

Die persentasie van mense wat veilig voel, is ʼn daling van die vorige jaar. In 2020-’21 het 84,8% van mense veilig genoeg gevoel om bedags in hul buurt rond te loop en 39,6% van mense het veilig genoeg gevoel om dit snags te doen. Daar is ook nie juis ʼn verskil in hoe veilig mans of vroue op straat voel nie.

Altesame 43,9% van vroue het aangedui dat hulle “baie onveilig” voel en 44% van mans het dieselfde gesê. Net 12% van vroue én mans het aangedui dat hulle “baie veilig” voel om snags alleen in hul buurt te stap.

Inwoners van landelike gebiede voel veel veiliger as hul bure in stedelike gebiede.

Uit diegene wat aangedui het dat hulle geen maatreëls getref het om hulself te beskerm nie, het die meeste aangedui dit is omdat hulle meen daar is niks wat hulle kan doen nie, of omdat hulle nie weet wat om te doen nie. Sowat 17,5% van mense glo hulle het geen stappe gedoen nie omdat die polisie iets moet doen.

Huishoudelike vlakke van misdaad

ʼn Geraamde 1,4 miljoen voorvalle van huisbraak het in 2021-’22 plaasgevind en 983 000 huishoudings – oftewel 5,4% van alle huishoudings landwyd – is geraak. StatsSA kyk ook na die patroon oor die afgelope vyf jaar en daar was ʼn beduidende daling in voorvalle in 2020-’21 toe die Covid-19-pandemie op sy felste was en verskeie inperkingsmaatreëls ingestel is. Namate mense weer hul normale bedrywighede hervat het, het voorvalle van huisbraak weer begin toeneem.

Huishoudings in KwaZulu-Natal het die kwaaiste deurgeloop (7,9%), terwyl Limpopo die laagste koers (3,8%) het van huishoudings wat ʼn huisbraak ondervind het.

In 2021-’22 is 205 000 huisrooftogte aangemeld wat 155 000 huishoudings (0,9% van alle huishoudings landwyd) geraak het.

Motordiefstal het volgens die opname met byna ʼn kwart gedaal en sowat 163 000 huishoudings het ʼn motordiefstal aangemeld, in vergelyking met die 212 000 huishoudings wat dit ʼn jaar gelede gedoen het.

Altesame 40 000 huishoudings is die afgelope vyf jaar deur ʼn moord geraak en wanneer die syfers vir 2021-’22 met ʼn jaar tevore vergelyk word, was daar ʼn daling van 7%.

Persoonlike misdaadondervindings

Nagenoeg een miljoen mense was die afgelope vyf jaar ʼn slagoffer van verbruikersbedrog. Daar was volgens StatsSA die afgelope jaar boonop ʼn skerp styging in dié soort misdaad. Verbruikersbedrog was in 2021-’22 altesame 74,4% meer as ʼn jaar tevore.

Luidens die verslag is meer mense nou slagoffers van verbruikersbedrog, as mense wat op straat beroof word. Daar was ʼn 4%-daling in dié soort misdaad sedert ʼn jaar tevore en byna 800 000 straatrooftogte is in 2021-’22 aangemeld.

Is Suid-Afrika ʼn onveilige land? Maluleke sê Statistieke Suid-Afrika se werk is nie om hierdie vraag te beantwoord nie, maar net om voorvalle te meet en te vergelyk. Die syfers word as ondersteunend tot die polisie se misdaadsyfers aangebied en word ook aan die regering voorgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Di ·

NIKS! Al wat hy doen is om die statistieke te gee, de hel met die res

Luna ·

Waar het hulle die opname gedoen?? Verseker nie waar ek, almal wat ek ken en van weet woon nie, almal voel onveilig, ek dink nie ek ken een mens wat veilig voel om deur die dag rond te loop nie, wat nou nog van in die aand. Mens voel nie eers veiling dag of nag in ‘n mens se eie huis nie!

Johan ·

Jy bly seker op ‘n snaakse plek Luna? Ons het so pas teruggekom van ons uur stappie af, vele mense besig met dieselfde. Wit én swart! Weltevredenpark.

Luna ·

Julle is baie gelukkig Johan, en ek hoop dat dit so vir julle sal bly. Ons bly in ‘n middelklas buurt in Pretoria, nie ‘n snaakse plek nie, ‘n woonbuurt wat eens baie veilig was.

Christine ·

Weltevredenpark se huisinbrake is sky-high, Johan. Ek bly ook aan die Wesrand en Weltevredenpark, hoewel mooi, is een plek waar ek nie sal koop nie. Ek bid jy gaan nog vir lank veilig wees, want dis genade.

Pietertjie ·

Stadig maar seker dring dit deur dat ons in ‘n kriminele land bly, wat deur misdaad sindikate beheer word. Daar is geen teken van iets wat vir ‘n soort van “regering” aangesien kan word nie.

Johan ·

Hoekom wil jy snags gaan stap? Daar is ‘n verskil tussen snags en saans! Snags is pleinweg dom!

LD ·

Hahaha hoe lekker lag ek nou, en natuurlik was die opmerking bitter skerp!!

Oosieoos ·

Ons voel nie onveilig nie SA is onveilg punt. Kaders het dit veroorsaak maar die president is te dom om dit agter te kom en beskerm ou hoed mog

Nico ·

Die statestieke is almal onwaar en dit is net om die veiligheid te verdoesel. Waar is die dae toe window shopping gedoen het tot wie weet hoe laat in die nag, bring daardie tyd terug en raak ontslae van hierdie patetiese ANC regering.

Catherina ·

Window shopping…..was n groot treat. Nooit agter jou gekyk nie. Laat and op n trein huis toe gery as student en dan nog vêr na huis. Those were the days my friend….

Swerwer ·

Die Hoed gaan absoluut niks doen nie want dit is een van die slinkse wyses hoe die kommunis opereer.
Sit met skynheilige “kry my jammer ek is onskuldig” gesigte en lieg deur hul tande sonder om ‘n oog te knip.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.