SA’ners voel onveiliger as verlede jaar

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jason Blackeye/Unsplash)

Minstens 67% van Suid-Afrikaners is bekommerd oor hul veiligheid sedert die Covid-19-inperkingsregulasies verslap is – tot so ʼn mate dat mense vreesbevange is vir openbare ruimtes of selfs om van die werk af huis toe te ry.

Meer as driekwart van mense doen nou alles moontlik om veiligheid by hul wonings op te skerp aangesien dit vir hulle ʼn belangrike plek van veiligheid is.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het Vrydag sy “Staat van Veiligheid Verslag” (SoS-verslag) oor persoonlike veiligheid bekendgemaak.

Navorsers vir die SoS-verslag het ʼn wydlopende opname onder byna 1 500 mense in die eerste drie maande van die jaar gedoen om die stand van persoonlike veiligheid in die land te bepaal.

Die studie het die vlak van sekuriteit wat Suid-Afrikaners voor, tydens en ná die landwye inperking ervaar het, gemeet.

Luidens die bevindinge is daar ʼn toename (van 19% tot 22%) van mense wat aangedui het dat hulle baie onveilig voel sedert die landwye inperkingsregulasies verslap is. Desnieteenstaande het die persentasie mense wat nou heeltemal veilig voel, in vergelyking met voor of tydens die afsonderingsregulasies, effens toegeneem van 8% tot 10%.

Altesaam 67% van deelnemers het egter aangedui dat hulle glad nie veilig voel nie of baie onveilig in openbare ruimtes voel sedert die afsonderingsregulasies verslap is. Dít is ʼn effense toename van die 62% van deelnemers wat dieselfde mate van onveiligheid gevoel het tydens die afsonderingstydperk.

Volgens die regering se amptelike misdaadstatistieke was daar ʼn aansienlike toename in kontakmisdade en moorde tussen April en Junie verlede jaar, asook in Oktober en Desember.

Boonop het roof, en spesifiek inbrake by residensiële gebiede, verlede jaar toegeneem. Dit is die soort misdaad wat die algemeenste in die land voorkom.

“Hierdie statistieke wys die neiging van groeiende misdaad in ons land, en beklemtoon weereens Suid-Afrikaners se behoefte om bykomende veiligheidsmaatreëls te tref om hulself en hul eiendom te beskerm,” sê Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA.

Die AA se data wys ook dat baie meer Suid-Afrikaners private veiligheidmaatskappye vertrou (76%) as wat hulle die polisie vertrou. Dié bevindings word bevestig deur ʼn onlangse studie deur die departement van wetenskap en innovasie, in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), waartydens slegs ʼn kwart van Suid-Afrikaners aangedui het dat hulle die polisie vertrou.

“Dit is kommerwekkend vanweë die feit dat die meerderheid van die deelnemers aan die studie slagoffers van misdade of ooggetuies van misdade was,” lui die AA se verslag.

Volgens die SoS-verslag voel die meeste mense die veiligste in hul eie huise (59%) in vergelyking met openbare ruimtes soos winkelsentrums en sal hulle liefs openbare ruimtes vermy.

Wanneer hulle wel in openbare ruimtes moet wees, het 19% van mense gesê hulle hou hul sakke toe, terwyl 16% liefs nie ʼn selfoon in die openbaar gebruik nie en ʼn kwart hulle waardevolle items tuis los wanneer hulle uitgaan.

Hiermee saam meen 61% van mense dat hulle tans onveilig voel wanneer hulle werk toe en terug reis.

Verskerpte veiligheidsmaatreëls

Luidens die SoS-verslag glo 57% van mense dat misdaad in die land toegeneem het en 18% dat dit dieselfde gebly het.

Byna ʼn kwart van mense glo boonop dat dit in die nabye toekoms gaan toeneem weens die toename in lewenskoste, die krimpende ekonomie en hoë werkloosheidsyfer.

Net 8% glo misdaad sal afneem.

Die meeste mense wat aan die studie deelgeneem het, sê ook dat hulle ʼn verskeidenheid veiligheidsmaatreëls by hul huise getref het juis om hul persoonlike sekuriteit te verbeter.

ʼn Vyfde van deelnemers (22%) het aangedui dat hulle die afgelope ses maande diefwering aan hul huise aangebring het. ʼn Tiende (11%) het in dieselfde tydperk ʼn alarmstelsel laat installeer en ʼn verdere 80% van deelnemers het onlangs sekerheidskameras by hul huise aangebring.

“Ons kan nie die feit ignoreer dat ons land gevaarlik is en dat baie mense binne en buite hul huise bedreig voel nie,” sê Groenewald.

“Daar is ʼn groot behoefte vir mense om nie net veilig te voel nie, maar om die nodige gereedskap te hê om hulself en hul kinders te beskerm as hulle dit nodig het.”

Volgens Groenewald is deel van hierdie oplossing die AA se veiligheids-app en selfstaande toestel wat gebruikers toegang tot meer as 180 gewapende sekuriteitsdiensverskaffers landwyd gee.

“Ons verstaan dat persoonlike sekuriteit vir mense en hul gesinne ʼn prioriteit is en dít is ons manier om gemoedsrus aan burgers te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

hendrie ·

Onveiligheid op bykans alle terreine maar veral op persoonlike vlak, is ‘n tipiese kenmerk wat inwoners van ‘n mislukte staat ervaar.

Papsak ·

Ja kyk in hierdie land kan ons nie meer veilig voel nie want hier is geen beskerming oor ons nie

KB ·

En voeg daarby dat slegs 27% vd publiek die SAPD vertrou, dan sien jy in watter toestand die ANC-regering die publiek laat. Hulle voel ʼn veer vir Jan Publiek, dis net “me, myself and I”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.