SA’ners wag ure lank op lughawe

Die groep Suid-Afrikaners wat op die Hamad Internasionale Lughawe in Doha gestrand was (Foto: Verskaf)

’n Groep van omtrent 150 Suid-Afrikaners moes Dinsdag langer as ʼn dag op die Hamad Internasionale Lughawe in Doha in Katar wag nadat hul vlug met Qatar Airways op die laaste oomblik gekanselleer is. Hulle het ná meer as 24 uur se wag op die lughawe eindelik Woensdag teen 12:00 ’n vlug na Suid-Afrika gekry.

Faizel Moosa, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Katar, het Woensdag vroegoggend met dié groep gaan gesels en bevestig dat die vlug aanvanklik vertraag is weens die tekort aan beskikbare kwarantyngeriewe in Suid-Afrika waar dié Suid-Afrikaners moet tuisgaan sodra hulle in Johannesburg aankom.

Die meeste Suid-Afrikaners in dié groep het Maandag met repatriasievlugte van lande soos Japan, Koeweit en Australië tot in Katar gereis. Hulle sou dan aansluit by die repatriasievlug wat nóg ’n groep Suid-Afrikaners wat in Katar gestrand was, terugbesorg in Suid-Afrika.

Dié vlug sou aanvanklik Dinsdag om 10:10 van die Hamad-lughawe in Doha na Suid-Afrika vertrek.

Simone Fasana-Milburn, verteenwoordiger van dié groep gestrande Suid-Afrikaners, sê Qatar Airways het ure voor die vlug die passasiers laat weet dat die vlug tot Dinsdag om 14:10 uitgestel is.

“Toe ons uiteindelik 15:00 op die vliegtuig klim, het ons seker nog meer as ’n uur lank gesit en wag. Die kaptein het ons ’n rukkie daarna laat weet dat hulle net wag vir toestemming van Suid-Afrika se kant af,” vertel Fasana-Milburn.

Die groep SA’ners het Woensdag 12:00 gevlieg (Foto: Verskaf)

Die groep Suid-Afrikaners moes weer teen 16:30 die vliegtuig verlaat.

“Niemand kon regtig vir ons sê wat aangaan nie. Ons het toe maar rondgesit en gewag vir meer inligting,” sê Fasana-Milburn.

Omstreeks 20:00 die aand het Qatar Airways die passasiers laat weet dat hul vlug tot Donderdag om 14:00 uitgestel is.

Die groep Suid-Afrikaners wat van ander lande gekom het, het op daardie stadium al vir amper meer as ’n dag op die lughawe gesit en gewag.

Die groep gestrandes is toe Woensdagoggend omstreeks 09:30 deur Qatar Airways verwittig dat hulle om 12:00 gaan vertrek.

Fasana-Milburn sê hoewel hulle ’n dag lank op die lughawe gestrand was, hulle nie soos gestrandes gevoel het nie. “Qatar Airways se diens was puik. Die personeel het alles in hul vermoë gedoen om ons te ondersteun en ons tydjie daar beter te maak. Hulle was vriendelik en kalm,” vertel sy.

Die groep het drie maaltye en genoeg water die afgelope 24 uur gekry. Die personeel het ook deur die nag vir hulle komberse gegee om warm te bly.

Fasana-Milburn vertel gesinne met kinders asook bejaardes kon in die kamers op die lughawe oornag waar hulle toegang tot rusbanke kon kry. Die res van die groep moes op die sitplekke op die lughawe of op die vloer slaap.

“Dit was ongemaklik om die nag op die vloer of ’n harde stoel te slaap, maar ons is net dankbaar om nou huis toe te kan gaan,” sê Fasana-Milburn.

Die groep SA’ners het op die stoele op die lughawe oornag (Foto: Verskaf)

Fasana-Milburn sê die Suid-Afrikaanse ambassade in Katar het binne etlike ure gereageer en onverpoos gespook om hulle uiteindelik huis toe te kon stuur.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het bevestig dat die vlug Woensdag om 12:00 uit Doha vertrek het. Van Dirco se kant is hulle dankbaar dat dié kwessie vinnig opgelos is en dat dié groep Suid-Afrikaners huis toe kan kom.

Intussen sit ’n groep van omtrent 23 Suid-Afrikaners nog in Washington en wag om terug te keer na Suid-Afrika. Maroela Media het vroeër berig oor dié groep wat Dinsdag in Washington agtergelaat is toe die repatriasievlug Sondag na Suid-Afrika vertrek het. Dit nadat hul vliegkaartjies glo gekanselleer is.

Volgens Catherine Berlein, een van dié gestrandes, het sy net soos die ander wat wel kon vlieg, die regte kanale gevolg en ook reeds vir die vlug betaal. Die Suid-Afrikaanse ambassade in die VSA het dié groep verseker dat hulle moontlik eerskomende naweek gaan terugvlieg.

Berlein sê sy het tot nou nog geen terugvoer van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gekry oor die rede waarom hulle nie op die vliegtuig kon klim nie. Volgens Berlein was daar nog omtrent 50 sitplekke op dié vlug beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michiel

nee liewe genade, ek bly liefst gestrand in ‘n beskaafde land. Of, beter nog, asiel aanvra in Katar.

Jacobus

Die PR waarde het verdwyn.

Pandora

Nou wat het geword van die wonderlike kwarentyn vakansie oord waar die Wuhan repatriate gehuisves is?
Is daar nou dubbele standaarde?