SA’ners wat glo bokke smokkel weer in Zambiese hof

Foto: Zawa

Foto: Zawa

Die ses Suid-Afrikaners wat in Zambië in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering 12 swartwitpense uit die land na Suid-Afrika probeer smokkel het, sal Donderdag om borgtog aansoek doen.

Francois en Pieter Schalk Grobler, Damian le Roux, Pieter Burger, Stefanus Johannes Potgieter en Jan David Potgieter is saam met Munyaradzi Tapera, ’n Zimbabwiese burger, in Gwembe by die Katokota-vliegveld in hegtenis geneem.

Carol Mulenga, assistent-skakelbeampte van die Zambiese natuurlewe-owerheid (Zawa), het aan Maroela Media gesê die mans staan tereg op verskeie aanklagte in verband met die wet op natuurlewe, die wet op burgerlike lugvaart, die wet op immigrasie en die wet op vuurwapens.

Foto: Zawa

Foto: Zawa

Volgens Mulenga is die diere op ʼn jagplaas in Livingstone gevang waarna hulle met ʼn wildsleepwa tot in Gwembe vervoer is. ʼn Ligte vliegtuig is glo intussen gereël om die bokke daar op te laai. Die vliegtuig se sitplekke is glo uitgehaal en die binnekant met dik materiaal uitgevoer. Die plan was na bewering om laag te vlieg en sodoende onder die Zambiese weermag se radar terug te vlieg na Suid-Afrika toe.

“Die verdagtes het van hul oorspronklike vlugplan afgewyk en in Gwembe geland, en nie in Choma soos die vlugplan gespesifiseer het nie,” het Mulenga gesê. Hulle is daar deur veiligheidsbeamptes aangetref en in hegtenis geneem. Sy het gesê ʼn 9 mm-pistool en 52 koeëls is ook in hul besit gevind.

“Vyf van die swartwitpense het reeds weens stres gevrek, maar die ander is in Munda Wanga-reservaat vrygelaat en dit gaan baie goed met hulle,” het sy gesê. “Die mans word ook ingevolge die wet op immigrasie aangekla omdat hulle nooit verklaar het wat hulle in Zambië kom doen het nie. Hulle het gesê hulle is slegs toeriste wat die land besoek.”

Foto: Zawa

Foto: Zawa

Volgens Mulenga sal die regter besluit of die mans wel Zambië mag verlaat indien hulle op borgtog vrygelaat word.

Francois en Pieter Schalk Grobler se pa, Piet, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê hy is bekommerd oor die omstandighede waarin sy seuns aangehou word, maar is in verbinding met hul regsverteenwoordiger. Hy wou egter nie verder kommentaar lewer nie.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het by navraag aan Maroela Media gesê die departement is geensins betrokke by die saak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christie ·

Moenie simpatie verwag nie Hulle het mos geweet dis verkeerd

Johan 2 ·

Ek hoop maar hul familie kan v hul sorg in die tronk want hul gaan n paar wilde jare moet oorleef…in somige Afrika tronke is selfs 2jaar moontlik gelyk aan doodstraf.

Tammy ·

Hulle het presies geweet waarvoor hulle hulself inlaat. GEEN simpatie nie , dit het bloot oor gierigheid gegaan. Kry vir julle…sommer baie. In daardie tronk kan jou familie vir jou niks doen nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.